• Login
  • Search Icon

Die belangrikheid van saadkwaliteit by grondbone

September 2014

EDDIE GOLDSCHAGG, tegniese bestuurder: SANSOR

Saad is die belangrikste inset wanneer ‘n gewas aangeplant word, want dit bepaal die potensiaal van die oes wat verkry gaan word.

Hoewel omgewingstoestande en verbouingspraktyke die uiteindelike opbrengs bepaal, speel die genetika van die saad wat geplant word ‘n deurslaggewende rol. Die opbrengspotensiaal van ‘n gewas, ongeag die omgewingstoestande en verbouingspraktyke, is nou gekoppel aan die variëteit wat aangeplant word. Dit verwys nie net na die aanpasbaarheid van die betrokke variëteit tot die omgewing waarin dit geplant word nie, maar ook die variëteitsuiwerheid daarvan, met ander woorde tot hoe ‘n mate elke plant aan die beskrywing van die betrokke variëteit voldoen.

image

Wanneer ‘n variëteit deur die ontwikkelaar (teler) daarvan vir bemarking vrygestel word, word dit gedoen omdat die teler spesifieke eienskappe in daardie variëteit in geteel het wat tot voordeel van die produsent is: Hetsy beter agronomiese eienskappe, siekteweerstand teenoor byvoorbeeld blaar vlek, verdraagsaamheid teenoor nematodes en pitvorm en kwaliteitsaspekte, soos byvoorbeeld oliensuurinhoud.

Om hierdie eienskappe te behou, moet daar streng beheer tydens die vermeerderingsfases toegepas word – dit word gekontroleer wanneer saad ingevolge die bepalings van die Suid-Afrikaanse Saadsertifiseringskema geproduseer word.

Die teler oorhandig ‘n klein hoeveelheid saad aan die produksie-afdeling van 'n saadmaatskappy. Hierdie telersaad word dan vermeerder tot pre-basissaad een. Die opbrengs daarvan word vermeerder tot prebasissaad twee, dan weer tot basissaad, waarna gesertifiseerde saad geproduseer word. Dit is hierdie generasie wat die kommersiële produsent dan uiteindelik plant vir produksie van die kommoditeit.

Die aantal vermeerderingsfases van 'n spesifieke variëteit, word deur die teler daar van bepaal. Dit is omdat die variëteitsegtheid van saad, al is dit aanvanklik ook hoe suiwer, mettertyd degenereer en sommige van die gewenste ingeteelde eienskappe, soos siekteweerstand en opbrengs “verlore” raak. Dit veroorsaak ook dat die plante nie meer aan die betrokke variëteitsbeskrywing voldoen nie en dus as saad nie bemark kan word nie.

Daar moet ook streng kontrole uitgevoer word om te verseker dat daar nie vermenging tussen die verskillende variëteite plaasvind nie, al is elk van die betrokke variëteite op hulle eie variëteitseg. Verskillende variëteite het verskillende eienskappe, soos byvoorbeeld baklengte (die tyd wat dit neem om gaar te word). Wanneer verskillende variëteite met verskillende baklengtes vermeng is, sal sommige pitte al gaar wees, terwyl ander nog rou en sommige reeds swart verbrand is.

Vermenging van variëteite kan ook in die land plaasvind, as ‘n ander variëteit die vorige seisoen daarop geproduseer is en opslag voorkom of indien planterbakke nie skoongemaak word tussen die aanplant van verskillende variëteite nie.

Produsente wat die kommoditeit wat hulle geproduseer het, terughou en dan gebruik as saad, pas gewoonlik nie kontrolemaatreëls toe om vermenging of de generasie van variëteite te verhoed nie. Die fisiese kwaliteit van die saad, soos kiemkragtigheid wat onder meer beïnvloed kan word deur opbergingstoestande, is dan ook nie bekend nie.

Dit is uiters riskant vir die produsent om nie-gesertifiseerde saad aan te plant. Indien daar iets verkeerd gaan, byvoorbeeld swak ontkieming, het die produsent geen verhaalsreg nie en sal die verlies self gedra moet word.

Deur saad van ‘n ongeregistreerde saadmaatskappy aan te koop, benadeel ook die regte van die teler deurdat hy nie voldoende vergoeding ontvang vir die teëlwerk wat gedoen is nie. Dit neem etlike jare en miljoene rande om ‘n nuwe variëteit te teel en vry te stel. Sonder ‘n inkomste uit tantieme sal saadmaatskappye nie die finansiële las kan dra nie en sal die teling van nuwe variëteite gestaak moet word, tot nadeel van die produsent.

Hierdie geval is reeds ‘n werklikheid by grondbone in Suid-Afrika deurdat geen privaatinstansie meer betrokke is by die teling van nuwe grondboonvariëteite nie.

Indien saad van ‘n registreerde saadmaatskappy aangekoop word, moet die saad aan sekere minimumvereistes voldoen wat deur die Plantverbeteringswet, 1976 (Wet 53 van 1976) voorgeskryf word. Indien die onderneming saad verkoop wat nie aan hierdie minimumvereistes voldoen nie, is hulle aan ‘n misdryf skuldig en kan hulle vervolg word. Produsente kan dan ook vergoeding van die onderneming eis vir skade wat gely is.

Die feit dat ‘n lot saad deur ‘n geregistreerde onderneming verkoop word en/of daar 'n ontledingsverslag daarvoor beskikbaar is, beteken egter nie dat daardie saadlot gesertifiseer is nie.

Saadsertifisering be hels ‘n volledige kontrolesisteem vanaf die vrystelling van die variëteit deur die teler daarvan tot en met die uiteindelike beskikbaarstelling van die saad aan die produsent. Dit geskied oor verskeie generasies van vermeerdering wat gewoonlik drie tot vier seisoene duur.

Gedurende elk van die onderskeie vermeerderingsfases word daar volledige kontrole uitgevoer deurdat elke eenheid vir produksie van saad by SANSOR geregistreer word. SANSOR kontroleer eers die oorsprong en sertifiseerbaarheid van die ouersaad van die betrokke variëteit voordat die eenheid aanvaar word vir die produksie van saad vir sertifisering.

Tydens die groeistadium word die plante op vasgestelde groeistadiums deur SANSOR opgeleide en gemagtigde inspekteurs ondersoek om onder meer te bepaal of die plante aan die voorgeskrewe minimumvereistes ten opsigte van die variëteitsegtheid en identiteit voldoen.

Dit sluit in aspekte soos die kontrolering van isolasie-afstande, vorige gewasse, opslagplante en aftipes. Vir elke inspeksie wat uitgevoer word, word daar verslag aan SANSOR gelewer wat dan die bevinding op rekord plaas. Die inspeksieproses word deurlopend deur SANSOR sowel as beamptes van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DLBV) gemonitor.

Nadat die saad geoes is, word dit dan verwerk en verpak. Weer eens word daar kontrole uitgeoefen om te verseker dat geen vermenging plaasvind nie. Die houers waarin die saad verpak is, word dan met voorgeskrewe inligting wat op etikette deur SANSOR verskaf word, gemerk.

Vir gesertifiseerde saad, word ‘n blou etiket gebruik met die landswapen en die woorde SA gesertifiseerde saad: SANSOR daarop gedruk. Elke houer word ook met ‘n SANSOR-seël met ‘n unieke nommer daarop, verseël.

Die saad word dan deur SANSOR opgeleide en gemagtigde monsternemers bemonster en deur ‘n geregistreerde saadtoetslaboratorium ontleed om die ontkieming en fisiese suiwerheid van die saad te bepaal. ‘n Verdere monster word ook deur die afdeling Variëteitskontrole van die DLBV uitgeplant om dit met die verwysingsmonster van die betrokke variëteit te vergelyk. Indien die betrokke saadlot aan al die minimumvereistes van die Saadsertifiseringskema voldoen, insluitend dié vir variëteitsegtheid, sal SANSOR dan 'n sertifikaat uitreik om die sertifisering daarvan te bevestig.

Deur gesertifiseerde saad aan te koop, kan die produsent die gemoedsrus hê dat die betrokke saadlot deur meer as 90 kontrolepunte gegaan het voordat dit vir verkoop beskikbaar gestel is, dat die produksie van die saad deur ‘n onafhanklike instansie gemonitor en gekontroleer is, dat daar 'n volledige produksiegeskiedenis op rekord is, en dat die betrokke saadlot voldoen aan die vasgestelde minimumvereistes.

Deur gesertifiseerde saad aan te plant, word ons skaars hulpbronne optimaal benut deurdat die beste moontlike saad gebruik word wat die potensiaal het om die beste resultate te lewer. Verwerkers weet dan ook dat hulle ‘n produk met eenvormige kwaliteitstandaarde aankoop indien die produk vanuit gesertifiseerde saad geproduseer is. By grondbone is dit baie belangrik.

Publication: September 2014

Section: On farm level

Search