March 2012
DR REBONE MOERANE, AFRIVET LEERSTOEL IN PRIMÊRE GESONDHEIDSORG, FAKULTEIT VEEARTSENYKUNDE, UNIVERSITEIT
VAN PRETORIA
Onder Suid-Afrikaanse omstandighede kan baie parasiete en aansteeklike siektes permanente verlies van produksie en vrektes veroorsaak binne
12 tot 24 uur nadat die eerste sigbare tekens van siekte waargeneem word.
Meeste van die siektes kan suksesvol behandel word indien dit vroeg opge-
spoor word. Hiervoor word goed opgeleide persone benodig wat op ‘n daaglikse basis na die vee omsien en kennis dra van die eerste tekens
van siekte asook die uitvoering van behandelings.
Alhoewel sekere siektes vinnig verliese veroorsaak nadat die eerste siekte-
tekens gesien word, gaan meeste siektes gepaard met ‘n ontwikkelings-
proses wat oor ‘n periode van tyd plaasvind. Die enigste persoon wat dié veranderinge doeltreffend kan waarneem, is die persoon wat op ‘n daaglikse basis baie tyd saam met die vee deurbring.
Die veewagter vorm dus die eerste linie van verdediging in die voorkoming
of beheer van verliese wat deur veesiektes veroorsaak word. Die doel van primêre gesondheidsorg is om die veewagter te bemagtig deur opleiding om die eerste siektetekens doeltreffend waar te neem en dit dan te voorkom, behandel of rapporteer volgens ‘n goed uitgewerkte stelsel wat die produ-
sent en veearts in staat sal stel om hulp te verleen indien nodig.
Om primêre gesondheidsorg te verduidelik, is die beste voorbeeld wat gebruik kan word dié waar koeie een of meer spene verloor as gevolg van beskadiging wat deur bosluise veroorsaak is. Hierdie skade vind reeds plaas wanneer meergasheer-bosluise op die spene van verse vasheg en weef-
selskade aanrig wat dan lei tot bindweefselvorming en verstopping van die speenkanaal (Foto 1).
Wanneer die verse vir die eerste keer kalf, sal die probleem vir die eerste keer sigbaar raak. Hierdie skade veroorsaak dan ‘n noemenswaardige verlies aan inkomste omdat daar ‘n melkverlies is van 200 liter - 400 liter per uierkwart of speen wat nie meer funksioneel is nie (Foto 2).
Daar kan niks aan die situasie op hierdie stadium gedoen word nie; daar is geen behandeling nie en die verlies kan net voorkom word deur ‘n primêre gesondheidsorgbenadering waar die veewagter geleer word om die uier en spene van verse op ‘n gereelde basis te ondersoek en voorkomend teen bosluise te be-
handel.
Veeprodusente het wel baie toegang tot inligting ten opsigte van siekte-
voorkoming en -behandeling, wat verkry word by boeredae en in artikels in landboutydskrifte, maar die probleem is dat die veewagter, wat werklik die persoon is wat die meeste tyd met die vee spandeer, nie toegang het tot inligting wat in ‘n formaat is wat vir hom verstaanbaar en prakties uitvoer-
baar is nie.
Afrivet opleidingsdienste het oor die afgelope drie jaar opleidingsmateriaal en siektewaarnemingsmodelle ontwikkel wat van toepassing is op plaasvlak en prakties deur veewagters gebruik kan word. Vanaf 2011 is ook saamge-
span met die Fakulteit Veeartsenykunde by Onderstepoort om die benade-
ring in primêre gesondheidsorg verder te ontwikkel en om die benadering wetenskaplik te toets en uit te brei. ‘n Model (Figuur 1) is ontwikkel waar-
mee veewagters en ontwikkelende produsente opgelei word om kennis te dra van die tien mees algemene siektes wat binne ‘n bestaande gebied voorkom.
‘n Knap veewagter beskik reeds oor ‘n goeie waarnemingsvermoë. Die model gee aan die veewagter ‘n struktuur waarvolgens sy bestaande waarneming uitgebrei word omdat hy nou geleer word om eerstens die tekens van goeie gesondheid en faktore wat aanleiding gee tot gesondheid, te verstaan.
Daarna word net die toepaslike kennis omtrent die siekte-ontwikkelings-
proses aan die veewagter oorgedra om weereens te verseker dat hy verstaan waarom dit belangrik is om die eerste tekens van ‘n siekte, die siekte-ontwikkelingsproses, nie mis te kyk nie.
Die belangrikste onderafdeling van die model is die waarnemingsvorm (Figuur 2), wat deur die veewagter op ‘n daaglikse basis gebruik word
om die gesondheidstatus van elke dier in die kudde te evalueer en om dan dieselfde vorm te gebruik om siektes of ‘n verandering in die gesondheid-
status aan te teken wanneer dit voorkom.
Dit is belangrik dat alle waarnemings wat normaal is sowel as dit wat abnor-
maal is, aangeteken word, want dit is uiters belangrik in die moontlike identi-
fisering van die siekte of toestand wat diere aantas.
Behalwe vir die oordrag van kennis, moet die veewagters ook opgelei word om sekere vaardighede aan te leer. Hulle moet behendig wees in die uit-
voering van basiese praktiese take soos die neem en lees van ‘n koorspen (Foto 3) en die korrekte behandeling of aanwendingstegnieke van medisyne, entstowwe of parasietbeheermiddels.
Die enigste hulpmiddel wat die veewagter het behalwe sy waarnemings-
vermoë, is die gebruik van ‘n koorspen om aansteeklike siektes wat vinnig die dood van diere veroorsaak, op te spoor. Hier word gebruik gemaak van baie visuele materiaal en een tot een opleiding om te verseker dat elke veewagter baie akkuraat die koors van ‘n siek dier kan bepaal.
Kennis is mag
Die grootste uitdaging wat vir die Leerstoel in Primêre Gesondheidsorg bestaan, is om die huidige magdom van kennis om te skakel in maklik verstaanbare en toepaslike inligting vir die oordrag na veewagters. Dit beteken dat die inligting baie visueel voorgestel moet word en dat dit ook
in die verskillende inheemse tale aangebied moet word.
Afrivet gaan vir vyf jaar die Leerstoel in Primêre Gesondheidsorg borg
en sodoende poog om ‘n volledige reeks opleidingsmateriaal in primêre gesondheidsorg daar te stel wat gebruik kan word deur veeartse, diere-
gesondheidstegnici en veeprodusente vir die opleiding van veewagters
en beginner-produsente in die metodiek van die benadering.
Veeprodusente wat nie baie tyd het om aan hulle vee te spandeer nie, sal baie baat vind by die benadering en daar word verwag dat die toepassing daarvan verbeterde veegesondheid en -produksie op ‘n nasionale vlak sal ondersteun.
Die Leerstoel in Primêre Gesondheidsorg sal baie graag met graanprodu-
sente en die georganiseerde graanbedryf wil saamwerk omdat meeste graanprodusente ook ‘n veevertakking bedryf en tot ‘n baie groot mate afhanklik is van opgeleide werkers om na die vee om te sien.
Kontak dr Rebone Moerane (Leerstoel in Primêre Gesondheidsorg) by rebone.moerane@up.ac.za of dr Danie Odendaal (Afrivet Opleidingsdienste)
by danie.odendaal@afrivet.co.za.
Publication: March 2012
Section: Input Overview