May 2012
JANUS HENNING, LEKTOR: LANDBOU-EKONOMIE, UNIVERSITEIT VAN DIE VRYSTAAT
Finansiële ontledings behels baie meer as slegs resultate van die plaas se finansiële transaksies die afgelope jaar vir belastingdoeleindes. In tye van stygende insetpryse, variasies en onsekerheid oor uitsetpryse, verskaf dié ontledings belangrike inligting oor die sensitiwiteit van die boerdery as ‘n onderneming.
Soos enige ander besigheid, word ‘n boerdery ook bestuur met die doel om ‘n maksimum wins te maak, wat aandui dat daar groei in die boerdery se eie kapitaal is. Wie gaan geld belê in ‘n besigheid waar die eie kapitaal elke jaar verminder as gevolg van ‘n onvermoë om wins te genereer? Dieselfde situasie kan van toepassing wees op krediet toegestaan aan ondernemings; gaan daar werklik krediet aan hul verskaf word wanneer daar geen wins is om die krediet terug te betaal nie?
Toegang tot krediet
Vir graanprodusente is die toegang tot krediet ‘n baie belangrike faktor wat bydra tot die sukses van die boerdery. Kredietverskaffers verlang egter toenemend meer inligting as net die vorige jaar se belastingstate.
Die produksie van graanprodukte is ‘n duur proses, van die toerusting en implemente wat gebruik word en insette wat aangekoop word, tot die lewering van die produk. Al die faktore dra by tot hoë produksiekoste wat meestal met krediet gefinansier word.
Finansiële prestasie van vorige jare word gebruik vir die toekomstige toestaan van krediet. Daarom is dit belangrik om te verseker dat die finansiële prestasie en ook die ontledings van die vorige jare altyd ‘n werklike en gunstige posisie toon.
Die probleem kom egter wanneer daar nie ‘n gunstige posisie is nie. Ontleding kan ook gebruik word om die ongunstige posisie om te draai na ‘n meer gunstige posisie. Finansiële ontledings dui sekere aspekte van die finansiële resultate aan waar daar verbeteringe kan of moet plaasvind. Dié aspekte van die finansiële state kan dan gekoppel word aan spesifieke bedrywighede op die plaas en veranderinge kan dan aangebring word.
Sweet 16
Finansiële ontledings kan in vyf groepe verdeel word, naamlik: Likiditeit, solvabiliteit, winsgewendheid, terugbetalingsvermoë en doeltreffendheid.
Vir elk van die vyf afdelings is daar sekere ontledingsverhoudings wat bereken word, wat dan probleme kan identifiseer. Hierdie vyf groepe en ontledingsverhoudings word in die VSA die sweet 16 genoem (Tabel 1).
Deur die gebruik van hierdie verhoudings kan daar bepaal word of genoeg kontant beskikbaar sal wees om alle korttermynverpligtinge na te kom (likiditeit). Die ekwiteit (eienaarsbelang) en die laste- en bateverhoudings word bepaal, wat die persentasies aandui van hoeveel skuld en eie kapitaal in die boerdery belê is (solvabiliteit). Dit dui dan ook aan hoeveel van die bates deur skuld en eie kapitaal gefinansier is.
Winsgewendheid word bepaal deur die opbrengs op eienaarsbelang (eie kapitaal), opbrengs op bates en die winspersentasie vanaf die bruto produksiewaarde. Boerderywins as ‘n persentasie van bruto produksiewaarde is dan ook ‘n goeie aanduiding van die koste wat aangegaan is, aangesien dit die verskil is tussen bruto produksiewaarde en boerderywins.
Terugbetalingsvermoë neem verskeie faktore in ag en gee dan ‘n aanduiding van hoeveel daar beskikbaar is vir die terugbetaling van lenings.
Laaste kom doeltreffendheid aan die beurt. Hier word faktore soos rente, waardevermindering en bedryfsuitgawes gebruik in terme van bruto produksiewaarde. Tabel 1 is ‘n voorstelling van die ontledings en formules om elk te bereken. Verder is daar ook ‘n kort beskrywing van faktore wat daardie spesifieke kategorie kan beïnvloed en laastens is daar die aanvaarbare norms.
Die groter as (“>”) en kleiner as (“<”) tekens moet gebruik word om te bepaal in watter groep die spesifieke ontleding hoort.
Vir elk van die bogenoemde verhoudings is daar sekere aanvaarde norms wat bepaal is. ‘n Voordeel wat verkry word deur die gebruik van die verhoudings is dat verskil in grootte van die plaas uitgeskakel word en daarom kan die norms gebruik word vir verskillende grootte plase.
Norms
Die norms is verdeel in drie groepe: Boonste derde, middelste derde en die onderste derde. Soos in enige geval sal die ideaal wees om te verseker dat die finansiële ontledings verhoudings in die boonste derde of ten minste in die middelste derde hou.
Wanneer daar na die middelste derde beweeg word, kan dit dadelik opgemerk word en probleme asook oplossings moet geïdentifiseer word om die prestasie weer in die boonste derde te kry.
Nie net gaan dié metode ‘n addisionele metode verskaf om die prestasie op koers te hou om wins te maksimeer nie, dit verskaf ook ‘n goeie tegniek wat gebruik kan word om die huidige prestasies met historiese prestasies te vergelyk.
Daar sal duidelike aanduidings wees van hoe daar veranderinge plaasgevind het oor die tydperk, hetsy verbeteringe of verswakkings. Hierdie inligting kan dan ook gebruik word om te verseker dat krediet verkrybaar is, aangesien daar ‘n bestuurstelsel in werking is om die finansiële prestasies bo die verkose norms te hou en wanneer daar probleme ontstaan, is die stelsels in plek om die probleem vinnig te identifiseer en op te los.
Benchmarking
Die tegniek om prestasie te vergelyk met bepaalde norms of historiese prestasies, staan bekend as benchmarking. Benchmarking is ‘n benadering wat al meer in die landbou gebruik word aangesien dit waardevolle inligting verskaf oor die prestasies van die boerdery in vergelyking met waar die boerdery vandaan kom (historiese prestasies). ‘n Vooruitskatting kan ook gemaak word deur die gebruik van die verhoudings wat bereken is.
Nie net kan benchmarking gebruik word om eie plaasprestasies teenoor die verlede en norms te vergelyk nie, maar wanneer daar genoeg inligting vanuit ‘n area beskikbaar is, kan ‘n stelsel so opge stel word om die prestasies van die plase van ‘n sekere distrik met mekaar te vergelyk.
Hierdie proses bepaal dan norms vir daardie spesifieke distrik se plase en verdeel die prestasies in die drie prestasiegroepe. Hierdeur kan daar verseker word dat die plaas se prestasie in die boonste derde van plase in die distrik is en wanneer die plaas nie is nie, is daar aanduidings van die spesifieke prestasiepunte van die boonste derde wat dan as ‘n doelwit gestel kan word vir eie plaasprestasie.
Vir verdere navrae of om ontledings te laat doen, kontak Janus Henning by (051) 401-9713 of HenningJIF@ufs.ac.za.
Bronne
Blocker, A., Ibendahl, G. and Anderson, J. 2003. Interpreting farm financial ratios. Mississippi State University.
FFSC. 2008. Financial guidelines for agricultural producers. United States of America: Farm Financial Standards Council.
Publication: May 2012
Section: Input Overview