• Login
  • Search Icon

DANKBAARHEID

December 2013

image

Desember is oestyd en planttyd vir die graanprodusente van die land. Vir my was dit as kind die tyd wat ons na my oupa se plaas toe gegaan het om Kersfees te vier.

Dit was ‘n tyd van oorvloed koeldrank en gemmerbier, lekkergoed en ‘n nuwe flits (laas jaar s’n was al lankal gebreek). Dit was ‘n tyd van voëltjies skiet en hase jag – wat ‘n wonderlike tyd vir my as kind. My hart is vol dankbaarheid vir sulke onvergeetlike kinderjare.

Vandag se boodskap is een wat ek by my oupa daar in die donker (voor Eskomkrag) buitekamer geleer het. Hy was besig om vir die plaaswerkers hulle Krismis te gee.

Ek het geweet wat dit alles was, want sien, ons was saam dorp toe om dit te gaan koop en dit was nie soos ons s’n mooi toegedraai nie. Hy het aan die eerste werker ‘n paar kouse gegee en toe kom die antwoord: “Is dit dan al?”

Ek het geweet dit was nie al nie, maar toe doen Oupa iets wat ek as kind nie dadelik verstaan het nie: Hy het die kouse teruggeneem en gesê dat as jy nie kan dankie sê nie, kry jy nie. Ek aanvaar dat hy later ná almal gekry het, weer daardie kouse aan die spesifieke werker sou teruggegee het, want sy gawe was dié van gee, maar ek sal dit nooit vergeet nie: Dankbaarheid.

Wanneer ons in hierdie dae dink aan Jesus se koms na die aarde, dan vul dit my ook met dankbaarheid. Al is dit net vir ‘n paar kouse in ‘n droë en moeilike jaar. Ja, daar is ook dié van ons wat oorvloed ervaar het vir wie die dankbaarheid dalk veel makliker kom. Maar as God so deur die kamers van my hart kyk en soek na die vrug van 2013, hoop ek Hy sal dankbaarheid ook daar iewers vind.

Dankbaar vir die geliefdes wat Hy rondom my gesit het, vir gesondheid en vir Sy vergifnis vir my tekortkominge en vir wanneer ek verkeerd opgetree het teenoor my naaste.

Dalk is daar ‘n stuk onvergewensgesindheid waarmee ons moet klaarmaak hierdie jaar, of dalk was dit ‘n droë jaar in jou hart ten opsigte van al die goeie dade wat jy kon doen, maar nooit by uitgekom het nie. Dalk was jou jaar so besig dat jy nooit gehoor het waaroor jou kinders droom nie.

Laat ons dan, soos die Woord sê, in alles dankbaar wees (1 Tess 5:18). Graan SA het ook ‘n baie vol jaar en ‘n goeie “oes” gehad. Ons berig volledig daaroor by die 2014 Kongres en in die Graan SA jaarverslag, maar vandag wil ons saam met julle ons Hemelse Vader dank vir al Sy seëninge van die afgelope jaar.

Mag jy hierdie Kersfees vreugde en dankbaarheid bewys aan Hom wat vir ons aarde toe gekom het om sin en betekenis aan ons lewens te gee.

image

Jannie de Villiers, Uitvoerende hoofbestuurder

Publication: December 2013

Section: Editorial

Search