May 2014
Ongeveer 32 km wes van Paulpietersburg word die Thiele Estates boerdery bedryf. Hierdie familieboerdery, wat verlede jaar ‘n finalis in die Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar-toekenning was, word deur die Thiele familie besit en deur die broers, Walter en Kurt, asook hul seuns (Michael, Carl en Mark) bestuur.
In hierdie bergagtige omgewing word daar met gesaaides, beeste, skape, varke, wild asook bome geboer. Elke afdeling word op sy eie deur sy eie bestuurder bestuur met ‘n rekenmeester wat die syfers van al die vertakkings byhou en saamvat.
Vir hierdie familieboerdery om te bly werk, is dit van uiterste belang dat almal dieselfde oorhoofse doelwitte najaag en dieselfde besigheidsetiek navolg. Verder moet daar ‘n wedersydse respek en vertrouensband tussen die lede bestaan. Elke bestuurder moet ook ‘n passie vir sy afdeling hê en sy werk nougeset en met verantwoordelikheid uitvoer.
Bestuursvergaderings
Tydens die bestuursvergaderings word daar nie net na die finansies gekyk nie, maar word daar ook strategies beplan – watter aksies uitgevoer gaan word en hoe dit gedoen gaan word. Gereelde terugvoer van wat in die vertakking gebeur word ook tydens die vergaderings gegee. Gereelde dag-tot-dag kommunikasie is van uiterste belang om hierdie besigheid te maak werk en die verskillende aksies te koördineer.
Kurt Thiele is hoofsaaklik verantwoordelik vir die gewasverbouing. Sy seun, Mark, is sy regterhand en saam moet hulle alle besluite rakende hierdie vertakking neem en verslag aan die bestuurskomitee gee. Op die oomblik word op ongeveer ‘n derde van die lande sojabone verbou, terwyl die res van die oppervlakte vir mielieverbouing aangewend word.
Omrede hierdie ‘n gemengde boerdery is, sal sommige besluite ook ander vertakkings raak. As só ‘n besluit geneem moet word, sal die saak in die bestuursvergadering bespreek word en dan neem die bestuurskomitee die finale besluit. Ten einde die bestuurskomitee in staat te stel om die regte besluit te neem, word daar eers ‘n deeglike ondersoek na die voor- en nadele asook hoe dit die ander vertakkings gaan raak, gedoen en aan die bestuurskomitee voorgelê. Dié stap help dat al die vertakkingsbestuurders van alle belangrike besluite kennis dra.
Gemeenskapsbetrokkenheid
Thiele Estates se bestuur het al lankal besef dat hulle nie sonder die gemeenskap en gemeenskapsbetrokkenheid ten volle kan funksioneer nie.
Dié landbouonderneming het al ook die moeilike kant van die boerdery ervaar. Tydens ‘n brand ‘n paar jaar gelede het hulle alle weiding, alle plantasies asook ‘n groot klomp vee verloor. Die gemeenskap het hierdie besigheid van ondergang gered.
“Ons vee kon op ander boere se plase wei tot ons plaas weer die vee kon dra,” onthou Kurt. Hierdie stap van die gemeenskap het ‘n baie diep indruk op die Thiele broers gelaat en hulle het net weer eens besef dat jy nie self op jou eie kan bestaan nie, soms het jy ander se hulp nodig en soms het jy die voorreg om weer te gee. Op dié manier ondersteun die gemeenskap mekaar.
Deur weer verder by ander te leer en ander toe te laat om by hulle te leer, word die hele gemeenskap bevoordeel. Dit is baie belangrik om hierdie nuwe kennis, maak nie saak waar dit vandaan kom nie, te implementeer, anders help dit niks.
Waardetoevoeging
Hulle het ook besef dat weens die afgesonderdheid van hul besigheid, dit baie moeilik is om hul produkte by die markplek uit te bring en dit het hul gedwing om meer waarde tot hul produkte te voeg. Hierdie besluit het hul genoop om vennootskappe aan te gaan en om vir die markvraag te produseer, maar ook om die koste vir die eindverbruiker te minimaliseer.
Een ding het hul baie vinnig geleer: As jy kontrakte aangegaan het, moet jy dit eerbiedig en moet jy daarby hou al beteken dit dat jy produkte op ander plekke gaan inkoop om te lewer. Jou produkte wat gelewer word, moet ook altyd die beste kwaliteit moontlik wees en die kwaliteit moet week in en week uit dieselfde wees.
Ook het hul op die harde manier geleer om seker te maak dat kopers wel oor die vermoë beskik om hul te kan betaal en verder maak hul seker dat hulle nie al hul produkte aan een mark lewer nie. As die koper om die een of ander rede nie die produkte kan afneem nie, moet daar ‘n agterdeur wees om die produkte aan te lewer, anders kan dit tot groot probleme lei.
In hierdie boerdery word winsgewendheid oor tyd gebruik om veranderinge teen te meet en ook om te besluit of groot veranderinge aangegaan moet word of nie. Pryse en produksie skommel jaarliks en om hierdie uit te skakel word winsgewendheid oor tyd gebruik.
Gelykbreekpryse word vooruit deur begrotings bepaal wat alle koste insluit. Hierdie pryse word dan verskans. Die graanpryse word op Safex verskans sonder om te spekuleer en die veepryse word deur vooruitkontrakte vasgemaak. Soms is die pryse laer as die markpryse, maar ander tye is dit weer heelwat beter as markpryse. Op die ou einde is die veepryse voordelig vir hulle as produsent en ook vir die koper aan die ander kant van die spektrum.
Ten einde die risiko van saaiboerdery te verskans en waarde tot die mielies te voeg, het Thiele Estates ‘n groot varkboerdery begin. Hierdie intensiewe vertakking dra by om die boerdery se inkomste uit te brei en te stabiliseer.
Voorts word die skaap- en beesboerdery gebruik om waarde tot die saaivertakking te voeg. Weimielies vir skape, ‘n skaapvoerkraal en ‘n beesvoerkraal word gebruik om afgeronde produkte aan die mark te lewer.
Die vark- en veevertakkings op hierdie plaas gebruik die meeste van die mielies en sojabone wat geproduseer word. Die besigheid stoor self die graan, verwerk dit en meng dit op die plaas sodat die vervoerkoste uitgeskakel kan word. Ten einde die siklus te voltooi, word die vark- en voerkraalafval weer in die lande as bemesting gebruik.
Die afvalprodukte word tot kompos verwerk en ongeveer 4 m3 kompos word jaarliks per hektaar toegedien. Die kompos verlaag nie net die bemestingkoste nie, maar help ook om die grond se koolstofinhoud te verhoog.
Ten einde die winsgewendheid van die verskillende vertakkings te ontleed, word alle interne oordragte teen heersende markpryse tussen vertakkings verkoop en gekoop. Die mielievertakkings kry dus die voordeel van graanverkope asook oesresteverkope, maar so word die veevertakkings vergoed vir die kompos wat hulle produseer.
Presisieboerdery
Kurt gebruik presisieboerdery om die winsgewendheid en effektiwiteit van die saaivertakking te verhoog en is in die proses om volgens ‘n bewaringsbewerkingsisteem graan te produseer. Die omskakel na die bewaringsbewerkingsisteem is ‘n proses wat behels dat die gronde eers reggestel moet word en dat alle produksiebeperkings opgehef moet word.
Kurt het ook die gewasrywydtes tot 76 cm aangepas en sodoende ook die opbrengste verhoog. Die nuwe verbouingspraktyk bring ook nuwe uitdagings. Siektedruk is verseker aan die toeneem en daar moet voorkomend opgetree word.
In die saaiboerdery is grondsuurheid ‘n kritieke aspek wat bestuur moet word. Tot onlangs is grondmonsters ná die sojaboonoes getrek en daarna is die lande chemies reggestel. Kurt het egter besluit om hierdie praktyk te verander en eerder die kalkregstellings voor die sojaboonaanplantings te doen.
Volgens aanduidings is daar ‘n groot kans dat dié stap sal help om sojaboonsiektes te beperk. Gewasse word volgens opbrengsmikpunte bemes wat opgestel word vanaf die hulpbronpotensiaal as ook die vorige jare se opbrengskaarte. Grondregstellings word gedoen aan die hand van chemiese ontledings wat op ‘n hektaarruit vir boen ondergrond geneem is.
Onkruide kan hierdie bewaringsbewerkingstelsel tot niet maak en daarom wend Kurt alle tegnologie aan om onkruide sinvol te beheer. Gewasrotasie word ook aangewend om onkruide soos grasse te beheer. Dit bly egter belangrik om seker te maak dat die onkruiddoderprogram wat gevolg word wisselbou sal kan toelaat sonder om opvolggewasse te beskadig.
Hulle bly aan die voorpunt
Kurt het al lankal geleer dat daar vir boerdery nie ‘n vasgestelde resep is nie. “Deur nederig te bly, te weet dat alles net vir jou geleen word, voluit in te sit en die opbrengs as genade te ervaar, is dit moontlik om te kan bly boer,” sê hy.
“Veranderings is deel van ons lewe en ons moet daarby aanpas of uitbeweeg. Dit is egter belangrik om die veranderings met kundiges te bespreek en seker te maak dat veranderings ook die boerdery met sy eie stel beperkings in aanmerking neem. As daar ‘n stelselverandering moet kom, moet die praktyk ook by die hulpbronne aanpas.
“Om te bly leer is ‘n vereiste en daarom moet genoeg tyd gespandeer word om nuwe inligting te bekom. Die internet, boeredae asook konferensies gee aan ‘n produsent toegang tot baie inligting. Jou taak as produsent is om die nuwe inligting pas te maak vir jou boerdery met sy eie uitdagings en beperkings. Deur dit te doen, sal die boerdery altyd op die voorpunt van nuwe praktyke asook tegnologie wees,” glo Kurt.
Vir enige verdere navrae kan Kurt gekontak word by 082 329 3950.
Publication: May 2014
Section: Input Overview
Author: PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker