April 2018
Tydens die verbouing van mielies is daar ‘n aantal omgewingsfaktore wat opbrengs kan beïnvloed, soos droogtes, siektes en insekplae. Stamboorders is van die mees ekonomies-belangrike plae wêreldwyd – Suid-Afrika ingesluit.
Die drie ekonomies-belangrike mieliestamboorderspesies in Suid-Afrika is die Afrika-mieliestamboorder (Busseola fusca), die pienk stamboorder (Sesamia calamistis) en die Chilo-boorder (Chilo partelllus). Hierdie drie stamboorderspesies word hoofsaaklik met Bt-mielies beheer.
Die Afrika-mieliestamboorder is die enigste stamboorder wat weerstand teen die eerste generasie Bt-mielie wat in Suid-Afrika aangeplant is, ontwikkel het. Studies is by die LNR-Graangewasse gedoen om vas te stel of die Chilo-boorder by verskillende larfouderdomme die potensiaal het om op Bt-mielies te oorleef. Uit hierdie studies kan daar dan ook vasgestel word of daar al vir dié spesie tekens van weerstand teen Bt-mielies is.
Die Chilo-boorder, ook bekend as die gespikkelde stamboorder (Foto 1), is inheems aan Asië. Hierdie indringerspesie is sedert die 1930’s in Afrika opgemerk en het verder afwaarts versprei tot in Suid-Afrika. Die Chilo-boorder is vir die eerste keer in 1958 in die Springbokvlaktes opgemerk. Die Chilo-boorder kom in gemengde populasie saam met die Afrika-mieliestamboorder voor, maar die larwegetalle bestaan meestal uit Chilo-boorders en kan toegeskryf word aan hul korter lewensiklus.
Die roomkleurige wyfiemot (Foto 2) lê ongeveer 500 eiers in totaal in verskeie eierpakkies onder of bo-op die blare van die mielieplant. Die eiers is dakpansgewys gerangskik en is geel van kleur (Foto 3). Die eiers kan binne vyf dae uitbroei en sodra hulle uitbroei, beweeg die larfies na die kelk van die mielieplant. Daar sal larwes hul vestig vir verdere voeding wat die ooglopende gaatjies in die kelkblare veroorsaak.
Na ongeveer tien tot 14 dae sal hierdie larfies uit die kelk klim en vir die res van die siklus tussen die blaarskede of in die stam in boor totdat hulle papies (Foto 4) word. Die volwasse larwes is wit van kleur met vier rye spikkels op die lyf – twee rye bo-op en twee rye aan weerskante.
Die larwes in die stam maak tonnels en verswak die mielieplant deur die versperring van opwaartse beweging van water en nutriënte, wat tot swak kopvorming en graanvul kan lei. Verswakte stamme kan ook knak en dan val die mielieplante om.
Laboratoriumstudies is gedoen om vas te stel hoe effektief ses week-oue Bt-mielieplante drie verskillende larfstadiums van die Chilo-boorder beheer. Die twee tipes Bt-generasies wat in Suid-Afrika verbou word, is vir die evaluasies gebruik en word verder na verwys as Bt1 en Bt2.
Larwale oorlewing vir die pasuitgebroeide larwes se resultate was belowend. Albei Bt-generasies het die larwes binne die eerste sewe dae effektief beheer (Grafiek 1). Resultate van die Chilo-larwes wat sewe dae oud was, se oorlewing was na sewe dae baie swak en teen die 14de dag het larwes op beide Bt1 en Bt2 uitgesterf (Grafiek 2). Resultate vir die Chilo-larwes wat 16 dae oud was, verskil in dié opsig dat daar nog op dag sewe tussen 54% op Bt1 en 50% op Bt2 oorleef het (Grafiek 3). Op dag 14 het daar nog 14% larwes op albei Bt-generasies oorleef.
Al is daar ‘n mate van oorlewing, bly die vraag nog steeds of hierdie larwes hul siklus kan voltooi tot papie- of motstadium. Indien die papie- of motstadium wel bereik word, kan hierdie papie of mot swak wees as gevolg van die lae massa wat larwes op die Bt-plante bereik vergeleke met die hoër massa wat larwes wat op die nie-Bt-plante bereik.
Dit beteken dat hierdie enkele oorlewing van papies en motte op Bt-plante moontlik beduidend swak is, wat die kans vir nakomelinge hierdeur drasties laat afneem.
Uit hierdie navorsing blyk dit dat die moontlikheid bestaan dat indien larwes op ‘n ouer larfstadium na Bt-mielieplante oorklim, hulle vir langer periodes kan oorleef. Indien die larwes in motte ontwikkel, kan daar ‘n nageslag wees wat ‘n sterker toleransie vir Bt-mielieplante het.
Tans is daar egter geen kommer of teken van Chilo-boorders wat weerstand teen enige van die Bt-gene ontwikkel het nie.
Vir meer inligting kan die LNR-Graangewasse op Potchefstroom by 018 299 6100 geskakel word.
Publication: April 2018
Section: On farm level