• Login
  • Search Icon

Boerdery is 'n besigheid - Rhys Evans Groep

March 2014

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

image Om doelgerig vorentoe te gaan, probleme aan te spreek en geleenthede aan te gryp, maak van die Rhys Evans Groep ‘n waardige Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar-wenner.

Die Rhys Evans Groep is ‘n boerdery met ‘n lang en ryk geskiedenis. Hierdie boerdery gaan van krag tot krag en is oor geslagte heen uitgebou tot ‘n modelbesigheid. Tans is mnr Anthony Evans aan die stuur van sake en hy word ondersteun deur mnr Arno Cronjé, wat die hoofbestuurder van die Groep is. Evans se seun, David, het ook onlangs by die boerdery aangesluit en is die vierde geslag wat op die plaas boer.

Hulle boer hoofsaaklik in die Viljoenskroondistrik met graan en vee. Die graanvertakking bestaan uit ongeveer 75% mielies, 13% sonneblomme, 8% grondbone, terwyl die res van die lande deur sojabone en aangeplante weiding opgeneem word.

Die veevertakking bestaan uit die bekende Huntersvlei Sussex stoet, ‘n Sussex kommersiële kudde, ‘n voerkraal om waarde tot die beeste te voeg en ‘n varkboerdery wat hoofsaaklik spekvarke produseer.

Cronjé verduidelik dat hierdie boerdery uit verskeie afdelings bestaan wat saam werk om die winste van die totale besigheid te verhoog. Só kan byvoorbeeld die een vertakking se afvalprodukte in ander vertakkings aangewend word om insetkoste te verlaag, of opbrengsverhogings teweeg te bring. Die kompostering van vark- en beesmis saam met grondboondoppe, is ‘n goeie voorbeeld hiervan.

Boerdery is ‘n besigheid

Evans het al vroeg besef dat ‘n boerdery ‘n besigheid is en dat alle hulpbronne aangewend moet word om wins te genereer. Hy is deeglik bewus daarvan dat ‘n produsent ‘n bestuurder van mense, hulpbronne en tegnologie is en dat die produsent verantwoordelik is om hierdie insette tot die beste van sy vermoë aan te wend. Vir dié doel het Evans en Cronjé hulself verder in besigheidsbestuur bekwaam, as aanvulling tot hulle boerderykennis.

Met die besef dat hul boerdery ‘n besigheid is, fokus die Rhys Evans Groep op die winsgewendheid van elke vertakking as afsonderlike besigheidseenheid, sonder kruissubsidies tussen die afdelings.

Wins word nie net in die kort termyn ontleed nie, maar langtermynprojeksies speel ‘n belangrike rol in die besluitnemingsproses. Kapitaalvervanging en -investering moet voortdurend plaasvind en as die toekomsverwagtinge nie roos kleurig lyk nie, moet mooi besin word of dit gedoen moet word al dan nie.

Met die fokus op langtermynwinsgewendheid en volhoubaarheid, is die opstel van langtermyndoelwitte en -strategieë van kardinale belang. Die stappe help ook om voortydig te beplan sodat strategiese aankope gedoen kan word om laer pryse te benut.

Groei, risikoverskansing, diversifikasie en waardetoevoeging is van die redes hoekom die Groep verskeie ander vertakkings en bedrywe, soos die varkboerdery en die grondboonverwerking, begin het. Op die ou einde het die ekonomie gedikteer of nuwe vertakkings ingeskakel kan word of nie.

Deur waarde tot die produkte te voeg en so ‘n groter gedeelte van die verbruikersrand te bekom, is definitief sinvol en verhoog die besigheid se winsgewendheid.

image

Hulpbronne

‘n Goeie kennis van die besigheid se hulpbronne is vir enige bestuurder van kardinale belang. Alle landerye is ‘n geruime tyd gelede al volgens grondtipes gekarteer. Die gronde is ook later chemies gekarteer en sedert 2003 word al hierdie inligting gebruik om presisieboerdery toe te pas.

Chemiese ontledings word elke jaar op ‘n derde van die grond gedoen, waar bogrond volgens ‘n een hektaar-ruit en ondergrond volgens ‘n vier hektaar-ruit gekarteer en ontleed word.

Die gronde wat kontantgewasse nie winsgewend kan onderhou nie, is ‘n geruime tyd gelede al na permanente weiding omgeskakel. Met dié verandering in die verbouingspraktyke is daar weer besin watter gronde nou winsgewend graan kan produseer.

Tydens die ontleding is besef dat sommige van die gronde wat na weidings omgeskakel is, graan nou weer winsgewend en volhoubaar kan produseer. Cronjé noem dat hulle met die hulp van hulle landboukundiges, die gronde se fisiese en chemiese karterings, saam met agt jaar se opbrengsdata gebruik om die opbrengspotensiaal van verskillende sones in elke land te bepaal.

Volgens hierdie inligting word daar nou variërende plantpopulasies en bemestingspeile vir elke sone bepaal en daarvolgens geplant.

Samewerking

Die Rhys Evans Groep se bestuur het lankal besef dat dit belangrik is om die besigheid in samewerking met kundiges buite die boerdery te bedryf. Daarom bestaan daar ‘n baie goeie vennootskap tussen die boerderybestuur en die landboukundiges van hul onderskeie insetverskaffers. Tog neem hierdie vennootskap nie die verantwoordelikheid vir besluite weg van die bestuur nie en moet die boerderybestuur uiteindelik die verantwoordelikheid dra van die besluite wat hulle neem. Om aan te hou om die regte besluite vir die boerdery te bly neem, moet die bestuur op hoogte bly van nuwe ontwikkelinge en seker maak dat hul die onderliggende kennis het om te weet wanneer dit die moeite werd is om nuwe aksies te implementeer.

Cronjé noem dat ‘n mens baie moet lees en ander bronne van inligting moet gebruik om jou kennisvlakke gedurig uit te brei. Proewe wat op die plaas gedoen word, is ook ‘n belangrike bron van inligting. “Tans gee ons aandag aan kultivar, bemesting en bewaringsbewerkingsproewe,” het hy gesê.

image

Werkerskorps

Die eise wat gepaardgaan met moderne boerderymetodes plaas groot druk op die werkerskorps. Plaaswerkers met ondervinding raak al hoe skaarser vir die landbou; hulle ondervind dat minder jongmense op plase wil werk.

Die tradisionele plaaswerker pas weer moeilik aan by die nuwe tegnologie en by geskoolde jongmense ontbreek daar weer die praktiese ondervinding van basiese plaaswerk. Dit plaas groot druk op die opleiding van plaaswerkers, wat nou ook deeglike opleiding in tegnologie vereis, wat ‘n baie tydsame proses is. Dié tekort aan arbeid en bestuurders is as ‘n toekomstige bedreiging deur die Rhys Evans Groep geïdentifiseer en daarom doen hulle baie moeite om nuwe geskoolde arbeid in diens te stel en in diens te hou.

Cronjé noem dat hul studente van veral die landboukolleges en universiteite in diens neem om hul praktiese ervaring op die plaas te kom opdoen. Op dié manier kry die boerdery kans om potensiële operateurs en bestuurders te identifiseer en verder op te lei. Die grootste uitdaging is egter om hierdie werkers te behou.

Wedersydse respek is ‘n bousteen van hierdie boerdery. Met respek en erkenning word die arbeiders aangespoor om die beste resultate te lewer. Interessant dat hierdie benadering ook vereis dat ‘n goeie dissiplinêre kode in plek is en toegepas word. Wedersydse respek vereis ook dat daar ‘n beleid in plek moet wees om aksie te koördineer en te sorg dat regverdigheid altyd gehandhaaf word. Respek stop nie net by die werkers nie, maar dit geld ook vir insetverskaffers en almal wat met die Groep besigheid doen en te doen kry.

Weet wat jou beperkinge is

Hierdie boerdery het net soos enige ander boerdery ook sy beperkinge. Dit is belangrik dat die bestuur weet wat die beperkinge is en aktief planne maak om hierdie beperkinge en risiko’s te bestuur en die invloed daarvan te minimaliseer. Niks in hierdie besigheid is staties nie. Die natuur is nie konstant nie en dit moet bestuur word.

Tegnologiese veranderinge

Daar is voortdurend nuwe tegnologiese veranderinge wat bestuur moet word. Sommige veranderinge kan bedreigings wees wat self aangespreek moet word, maar dit is belangrik om die veranderinge in die oë te kyk en dit aan te spreek. “Omdat ons probeer om proaktief op te tree, word die meeste van hierdie verandering aangespreek voordat dit ‘n bedreiging word,” noem Cronjé.

Evans noem ook dat dit vir hom lekker is om te boer en David se betrokkenheid verseker die dinamiese voortbestaan van die besigheid. Boerdery se diversiteit voorkom eentonigheid en verder bied boerdery die geleentheid om met baie mense wat soos hulle dink in aanraking te kom. Boerdery gee ook vir hulle die geleentheid om daagliks hul groot liefde vir die grond en natuur uit te leef binne die besigheid. Voorwaar ‘n wen-wen-situasie!

Indien jy meer inligting verlang, kan Pietman Botha by 082 759 2991 of Arno Cronjé by 084 699 1086 gekontak word.

Publication: March 2014

Section: Input Overview

Search