July 2013
JANNIE PEYPER, LANDBOUKUNDIGE, OMNIA KUNSMIS
Blaarontledings behels die chemiese evaluasie van essensiële elementkonsentrasies in plantweefsel. Omnia gebruik blaarontledings en Omni-SAP™-ontledings as bestuurshulpmiddels.
‘n Blaarontleding vertel van die geskiedenis van die plant. Dit dui aan watter konsentrasies van elemente, tot op ‘n sekere groeistadium, deur die lewensiklus van die plant opgeneem is. Die ontleding is ‘n intydse aanduiding van die elementkonsentrasies in die plantsap op ‘n spesifieke groeistadium, wanneer die monster geneem is.
Die essensiële elemente sluit koolstof (C), waterstof (H) en suurstof (O) in, wat deur die atmosfeer en water voorsien word. Meer klem word egter gelê op essensiële elemente wat deur die grond en voedingsoplossings voorsien word.
Die makro-elemente wat in groot hoeveelhede deur plante benodig word, sluit die volgende in: Stikstof (N), fosfaat (P), kalium (K), kalsium (Ca), magnesium (Mg) en swael (S). Mikro-elemente wat in baie klein hoeveelhede benodig word, is yster (Fe), mangaan (Mn), koper (Cu), sink (Zn), boor (B) en molibdeen (Mo).
Mikro-elemente se toksisiteit is net so belangrik soos voedingselementtekorte en kan groot opbrengsverliese tot gevolg hê. So byvoorbeeld kan toksiese vlakke van mangaan voorkom, tydens lae grond pH-toestande. Blaarontledings kan in hierdie geval ‘n baie nuttige hulpmiddel wees om ‘n oormaat van sekere elemente te identifiseer.
Daar bestaan basies drie metodes vir die interpretering van blaarontledings:
Kritieke waardes
Dit word gedefinieer as die konsentrasies van elemente in plante waarby daar alreeds ‘n 5% tot 10% opbrengsverlaging voorkom. Die gebruik van kritieke waardes in die identifisering van tekorte is van lae waarde, aangesien dit nie die sogenaamde hidden hunger kan identifiseer nie. Dit word gewoonlik gebruik om erge tekorte te identifiseer. Voedingstekorte is gewoonlik visueel sigbaar, wanneer elementkonsentrasies onder die kritieke waardes daal.
Blaarontledingswaardes met boonste en onderste limiete
Die blaarontledingswaardes het baie meer voordele bo die kritieke waardes, aangesien die onderste grens van die norm, bo die kritieke waarde is en sodoende kan hidden hunger vroegtydig geïdentifiseer word. Die ander voordeel is dat daar ook boonste limiete op die norms is, sodat vlakke waarby toksisiteite kan voorkom, geïdentifiseer kan word.
Verhoudings
‘n Eenvoudige manier om na verhoudings te kyk, is om na die invloed van een essensiële element op ‘n ander essensiële element te kyk. So byvoorbeeld is die ideale stikstof-tot-swael-verhouding binne in blare van meeste plante tussen 10 en 15 tot 1. Met ander woorde wanneer die N:S-verhouding van mielieblare 18 oorskry, kan swaeltekorte voorkom.
Die mees komplekse toepassing van verhoudings, word die DRISbenadering genoem. Hierdie tegniek is deur Sumner en ander ontwikkel (Beaufils 1973; Walworth en Sumner 1987) en behels die verhouding van die essensiële elemente tot mekaar. Dit kom dus in effek neer op die optimum balans van essensiële elemente in die plant.
Blaarontledings se norms is ontwikkel vir ‘n spesifieke groeistadium waarop blare gemonster word. Die posisie, asook die ouderdom van die blaar word in ag geneem by die monsterneming van blare vir blaarontledings.
Hierdie ontledings is ‘n baie belangrike hulpmiddel tydens probleemondersoeke. Plante word in kolle gemonster wat goed en swak groei. Die twee verskillende blaarontledings word met mekaar vergelyk en sodoende kan tekorte van sekere elemente geïdentifiseer word en met byvoorbeeld ‘n blaarvoeding aangespreek word.
Wanneer probleemkolle gemonster word, is dit baie belangrik om saam met die blaarmonster, ook ‘n grondmonster te neem. Moet ook nie reg in die middel van die probleemarea blaarmonsters neem nie, aangesien dit ‘n skewe beeld kan gee. Monsters moet op die rand van die swak kol geneem word.
Die belangrikste funksie van blaarontledings is om bemestingsprogramme te evalueer. Wanneer blaarontledings tydens die pluimstadium op mielies gedoen word en die grondontledings saam met die bemestingsprogram in ag geneem word, kan gesien word watter essensiële elemente nie genoeg deur die plant gedurende die groeiseisoen opgeneem is nie. Aanpassings kan dan aan die nuwe seisoen se bemestingsprogramme gemaak word, sodat voedingstekorte aangespreek kan word.
Daar is byvoorbeeld die afgelope twee jaar baie van blaarontledings gebruik gemaak in die Noordwes Provinsie. In die meeste van die gevalle het die element swael, laag ontleed. Dit het weer eens die belangrikheid van swaelbevattende misstowwe beklemtoon.
Blaarontledings is daarom ‘n onontbeerlike hulpmiddel in plantvoeding en probleemondersoeke en moet jaarliks geneem word, sodat aanpassings aan plantvoedingsprogramme gemaak kan word.
Publication: July 2013
Section: Input Overview