September 2013
DR ANNEMIE ERASMUS, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE
Die interaksies tussen insekte en hul natuurlike vyande is noodsaaklike ekologiese prosesse wat ‘n groot bydrae lewer tot die beheer van insekpopulasies. In situasies waar hierdie natuurlike prosesse versteur word, kan potensiële insekplaagpopulasies ontwikkel, wat tot so ‘n mate groei dat dit lei tot ‘n plaaguitbraak.
‘n Plaaguitbraak kan voorkom as ‘n indringerspesie vrygestel word in ‘n nuwe geografiese area sonder die spesifieke spesie se natuurlike vyande of as ‘n insekdoder die natuurlike vyande vernietig. Die grootste uitdaging in so ‘n situasie is om die wanbalans aan te spreek.
Dit kan gedoen word deur weer natuurlike vyande vry te stel of deur bewaringsbiologiese beheer toe te pas. Laasgenoemde behels om weer die omgewingkondisies te herstel ten gunste daarvan dat die natuurlike vyande weer toeneem.
In meerjarige gewasse, soos aangeplante woude en vrugteboorde, is biologiese beheer meer suksesvol aangesien die omgewing nie so drasties verander nie en daar ‘n voortdurende interaksie tussen die insekplaag en die natuurlike vyande is.
In eenjarige gewasse is die situasie anders aangesien die omgewing verander en ‘n onstabiele omgewing geskep word waar die plaag en die natuurlike vyande van mekaar geskei word. Hierdie skeiding kan soms verminder word deur beter bestuurstegnieke toe te pas om natuurlike vyande te bewaar en die stabiliteit van die gewassisteem te bevorder.
Die gebruik van natuurlike vyande is al vir baie lank herken as ‘n fundamentele pilaar van insekplaagbeheer, maar te min sisteme is al genoegsaam bestudeer vir die plaag-natuurlike-vyand-interaksies wat daar is om alles ten volle te verstaan. Die tipe natuurlike vyande wat gebruik kan word in biologiese beheer, sluit in patogene, predatore en parasitoïdes.
Die entomopatogene wat al gebruik is vir biologiese beheer, sluit in bakterieë, fungi, virusse en nematode. Voorbeelde van volhoubare, natuurlike insekpopulasies, beheer deur entomopatogene in gewassisteme, is skaars. Die rede daarvoor is dat die volhoubaarheid van entomopatogene ‘n stabiele omgewing nodig het met gunstige omstandighede om te versprei en te vermeerder om sodoende ‘n plaag te beheer.
Parasitoïde parasiteer slegs sy gasheer gedurende sy onvolwasse stadiums wanneer die larf ontwikkel, binne (endoparasiet) of op (ektoparasiet) die gasheer. Gedurende larwale ontwikkeling in die gasheer, word die gasheer gewoonlik heeltemal of gedeeltelik gevreet en word die parasietlarwes papies binne of naby die gasheer.
Die parasitiese vlieg, Sturmiopsis parasitica, is een van baie belangrike larwale parasitoïde wat stamboorders in Afrika parasiteer. Omdat die gasheer van S. parasitica in suikerriet, mielies en sorghum voorkom, is die waarde van die parasitoïd as biobeheer-agent hoog.
Wyfievlieë kan 500 - 900 maaiers elk produseer. As gevolg van ‘n hoë vrugbaarheid en met eiers wat binne enkele dae ryp word, kan ‘n enkele vliegwyfie haar maaiers versprei oor ‘n aantal stamboordertonnelopeninge. Die larwale stadium in die gasheer duur gewoonlik tussen 12 dae - 14 dae by 26°C, maar kan tot 25 dae neem.
Die volgroeide maaiers kom dan uit die gasheerlarf uit. Die stadium net voordat maaiers papies word, duur sowat 12 ure en die papiestadium duur tussen 12 dae en 19 dae. Die nuutgevormde papies is eers rooibruin, maar word donkerder van kleur soos die papie ontwikkel, waarna die vlieg uitkom.
Predatore voed op alle stadiums van hulle gasheer: Eiers, larwes, papies en volwassenes. Elke predator benodig ‘n aantal individue van die gasheer om volwassenheid te bereik, anders as in die geval van parasitoïde wat slegs een gasheer benodig. Die onvolwasse en volwasse predatore moet hul gasheer soek, vind, oorwin en dan eers daarop voed.
Predatore kan in twee groepe verdeel word, dié met kouende monddele en dié met suigende monddele, maar oor die algemeen is hulle nie so gespesialiseer soos die parasitoïde nie. Oorkruipers en grondkewers is goeie voorbeelde van predatore wat in mielielande voorkom en voed op belangrike insekplae.
Biologiese beheer deur natuurlike vyande van plaaginsekte is ‘n uiters waardevolle vorm van beheer veral in die konteks van geïntegreerde plaagbeheer. In die geheel gesien, is chemiese en biologiese beheer teenstrydige tegnieke, hoofsaaklik omdat so baie insekdoders ook natuurlike vyande nadelig beïnvloed.
Dit word egter aanbeveel dat daar beweeg sal word na insekdoders wat minder toksies is vir natuurlike vyande of dat insekdoders toegedoen word in die veld wanneer dit nie ‘n risiko inhou vir natuurlike vyande nie.
Vir navrae, kontak Annemie Erasmus by erasmusa@arc.agric.za.
Publication: September 2013
Section: Input Overview