• Login
  • Search Icon

Biobrandstof uit mielies – Het ekonomiese realiteit ‘n nuwe politieke wil gemobiliseer?

November 2010

Dr Kobus Laubscher, Hoofbestuurder/CEO

Dit word al hoe duideliker dat Graan SA se argumente ten opsigte van die aanwending van surplus mielies via vraaggedrewe inisiatiewe, soos die heroorweging van die huidige biobrandstofstrategie van die regering, die gewig dra wat dit verdien.

Tydens die 2010 World Food Prize Simposium in Des Moines, Iowa (www.worldfoodprize. org) is die aanwending van tegnologie in die bevordering van produktiwiteit van produksie as die enigste werkbare uitweg vir hongerverligting weer beklemtoon, maar met die voorbehoud dat die mark moet dikteer. Nie alleen is die belangrikheid van genetiese manipulasie in produktiwiteitverhoging weer bevestig nie, maar die aanwending van mielies in die vervaardiging van hernubare brandstof as ‘n voorkeurmarkontwikkeling is ook weer beklemtoon.

Argumente teen graan vir brandstof is ontmoet met die volgende feite. Deur mielies aan te wend vir etanolvervaardiging, word daar eintlik totaal nuwe produkte ontsluit wat andersins nie tot die beskikking van die mensdom sou wees nie. Hierdie ontsluiting is die katalisator vir toegevoegde waarde wat onderskat word, want slegs die stysel van die mieliepit word aangewend vir brandstofvervaardiging, die res dra by tot ‘n lys van toegevoegde waardeprodukte wat ‘n wesenlike bydrae kan maak en reeds maak tot bekostigbare voedsel.

Twee vir die prys van-een is ‘n goeie motivering, want uit die omvormingsproses word brandstof en voedsel verkry, versus die onverwerkte graan/mielies wat net voedsel is. ‘n Graanprodusent in Iowa wat sy eie graan as inset in sy eie voerkraal aanwend, kon die volgende regkry.

Tradisioneel het hy 75 skepels mielies gebruik om voerosse se lewende massa te verdubbel. Tans gebruik hy tussen 11 en 15 skepels mielies plus die reste van die etanolvervaardigingsproses en ander reste op sy plaas om dieselfde lewende massa te produseer. Sy afhanklikheid van mielies het dus betekenisvol gekrimp sonder die prysgee van doeltreffendheid in sy voerkraal en daarbenewens is verskeie ander byprodukte vervaardig.

Addisionele waarde is ontsluit sonder om beskikbaarheid van ‘n stapelvoedsel in gedrang te bring. Huidige lae produsentepryse noodsaak die heroorweging, want ten tye van lae aanbod, sal die mark die aanwending van mielies vir biobrandstof sodanig rig dat die voedselvraag daarna nog bevredig sal wees.

Argumente teen die aanwending van graan vir brandstof, soos dat dit die prys van ‘n stapelvoedsel verhoog, is teenproduktief. In die afwesigheid van ‘n uitgebreide vraag, soos ‘n vraag na mielies vir die vervaardiging van hernubare brandstof, verswak die ekonomiteit van mielieproduksie. Daarsonder dryf surplusaanbodpryse tot vlakke wat produksie ontmoedig en die land oor die lang termyn in die moeilikheid kan dompel as daar nie voldoende mielies geproduseer word nie.

Die vestiging van intydse etanol uit mielieaanlegte sal nou geweldig baat kan vind by bewese effektiwiteitsverhoging in etanolvervaardiging die afgelope tyd. Nuwe tegnologie wat vir hierdie doel in die VSA aangewend word, het die afgelope dekade soveel as 28% energiebesparing en 32% vermindering in die verbruik van water in die vervaardigingsproses tot gevolg gehad.

Produsente se bydrae tot hierdie proses strek verder as bloot net verhoogde opbrengste – die etanolopbrengs per massa mielies het ook drasties vermeerder as gevolg van verbeterde kultivarkeuses. Die nuutste tegnologie wat ontwikkel word, is die sogenaamde defractioning van die mieliepit met verdere beloftes van verbeterde ekonomiteit as gevolg van bykomende produkte en die me todologie van verwerking wat verbeter word.

Graanprodusente argumenteer dus na regte dat met pryse op beter vlakke, hulle na hulself sal kan kyk om die massas te voed.

Publication: November 2010

Section: Editorial

Search