May 2014
JOHANN STRAUSS, wetenskaplike: Volhoubare produksiestelsels, Direktoraat Plantwetenskappe, Wes-Kaap Departement van Landbou en sekretaris: Bewaringslandbou Wes-Kaap
Die biobrandstof-vraagstuk kan oor die volgende twee jaar nog baie warm debatte tot gevolg hê. Tot en met die verpligte vermengingsregulasies van biobrandstof met petrol en diesel wat op 1 Oktober 2015 in werking tree, sal daar nog duidelike antwoorde verskaf moet word oor watter gewasse gebruik kan word vir beide bio-etanol en biodiesel en hoe die vervaardiging van beide sal geskied.
Biobrandstof-vervaardiging is van noodsaaklike belang vir Suid-Afrika wat steun op die invoer van fossielbrandstowwe vir ons petrol- en dieselbehoeftes. Die hoë brandstofpryse wat tans aan die orde van die dag is, het ‘n groot impak op die insetkoste van kommersiële en opkomende produsente, beide direk en indirek.
Direk in die dieselverbruik van trekkers en stropers en indirek op die pryse van ander insette, soos kunsmis en spuitmiddels. Laasgenoemde insette se pryse is nou gekoppel aan die brandstofprys. Tydens ‘n navorsingsbesoek aan Brasilië in 2012, was dit duidelik dat Suid-Afrika ver agter is ten opsigte van biobrandstowwe.
In Brasilië word 60% van alle voertuie deur bio-etanol en biodiesel aangedryf. Die vraag is nou watter rol die Wes-Kaapse graanprodusent in die vervaardiging van biobrandstof kan speel. Hierdie artikel poog om ‘n moontlike toekomsblik te gee ten opsigte van die Wes-Kaap.
Die grootste gros van graanprodusente in die Wes-Kaap beoefen in ‘n mindere of meerdere mate die drie pilare van bewaringslandbou, naamlik minimum grondversteuring, wisselbou en maksimum behoud van oesreste.
Hierdie konsepte dra grootliks by tot die volhoubaarheid van ons produksiestelsels oor tyd. Langtermynnavorsing deur die Direktoraat Plantwetenskappe (Wes-Kaapse Departement van Landbou) het onomwonde bewys dat die insluiting van alternatiewe gewasse, soos kanola en lupiene en ander eenjarige peulweidings, groter finansiële stabiliteit en inkomste bied vir produsente.
Wanneer daar nou bespiegel word hoe biobrandstofproduksie in die Wes-Kaap kan posvat, moet ons spesifiek kyk na die huidige wisselboustelsels wat in plek is. Die Wes-Kaapse graanprodusente het wegbeweeg van monokultuur-verbouing van graangewasse en enige nuwe gewas moet in die afwisseling van gewasse, op dieselfde stuk grond, inpas.
Gewasse soos mielies, sorghum, sojabone en suikerriet is nie ‘n lewensvatbare opsie vir die Wes-Kaap nie, aangesien dit nie in die winterseisoen, wat die reënseisoen is, verbou kan word nie en slegs deur ‘n handjievol produsente in die somer onder besproeiing gedoen kan word. Wat is dan die alternatiewe opsies vir die Wes-Kaap?
Bio-etanolproduksie is gebaseer op koolhidraatomskakeling, terwyl die biodieselopsie plantolies benodig. Beide prosesse het ‘n proteïenryke oorskiet tot gevolg, wat weer kan help om in die behoeftes te voorsien van die plaaslike aanvraag. Korog (triticale) wat voorheen op kleinskaal verbou is vir dierevoeding en tans amper verdwyn het uit ons produksiestelsels, is ‘n ideale gewas vir bio-etanolproduksie. Dit pas perfek in by ons wisselboustelsels en het ook die bykomende voordeel dat dit baie beter as koring of gars op marginale grond presteer.
Sedert 1994, met die ontstaan van die vryemarkstelsel in Suid-Afrika, is baie marginale grond aan koringproduksie onttrek, aangesien dit net nie meer ekonomies verbou kon word nie. Daar is dus dalk nou ‘n geleentheid om sulke lande terug te bring in produksie en met behulp van wisselboustelsels wat dekgewasse insluit, hierdie marginale grond oor tyd te omskep tot ‘n beter potensiaal.
In die geval van biodiesel kan kanola in die Wes-Kaap gebruik word om in dié behoefte te voorsien. Oor die afgelope drie seisoene het kanolaverbouing baie veld in die Wes-Kaap gewen en het verlede seisoen ‘n toename van 22 000 ha net in die Suid-Kaap gesien.
In die veld is daar reeds aanduidings dat die aantal hektare onder gars nog meer kan afneem oor die volgende jaar of twee en omgeskakel kan word na kanolaproduksie. Die rede hiervoor is die feit dat daar slegs een koper vir gars is en die produsent slegs ‘n prysnemer is. Gekoppel aan die feit dat daar baie keer ook gedurende die seisoen afwaartse aanpassings deur die koper gemaak word op die hoeveelheid moutgars wat gelewer mag word deur ‘n spesifieke produsent, beteken dit dat so ‘n produsent dan daardie moutgars wat oor is teen ‘n laer prys as dierevoeding moet verkoop.
Aan die anderkant word die Wes-Kaapse produsent ook in sy inkomste uit koringproduksie gestrem deur die liggingsdifferensiaal. Vir baie van die produsente het die liggingsdifferensiaal nou een van sy grootste insetkoste geword. Die differensiaal is betaalbaar op alle koring grade gelewer vanuit die Wes-Kaap.
Die insluiting van gewasse soos kanola en korog vir biobrandstowwe in die Wes-Kaap sal grootliks afhang van die prys wat die produsent vir die produk kan kry. Indien dit ‘n lewensvatbare prys vir die produsent is, behoort biobrandstofgewasverbouing in die Wes-Kaap vinnig te groei. Daar sal egter baie noukeurig na die prys gekyk moet word, want as die produsent meer kan kry om biobrandstofgewasse te verbou as wat hy byvoorbeeld vir sy B3-graad koring kan kry, sal baie dit oorweeg om dalk minder koring of gars te verbou, aangesien ‘n gewas soos korog minder insetkoste as koring en gars het. Deur die pryse vir biobrandstof reg te bestuur kan die algemene debat van “food versus fuel” gesystap word.
Die kwessie van biobrandstof is vir die Wes-Kaapse Departement van Landbou belangrik, veral ten opsigte van die Groen Ekonomie Strategie van die Wes-Kaap (Green is Smart – Western Cape Green Economy Strategy Framework, 2013.
“Green is Smart is the Western Cape’s roadmap to become the leading green economic hub on the African continent. We have extraordinary natural assets, expertise, design capabilities and diverse economic activity that support a pioneering role for the province as South Africa steers towards a greener growth path.” – premier Hellen Zille).
Dit is na aanleiding van bogenoemde strategie dat daar ‘n poging aangewend word om te kyk na moontlike biobrandstofgewasse binne die kultivarevalueringsprogram van die Direktoraat Plantwetenskappe. Aangesien die kultivarevaluering verskillende agro-klimaatsones insluit, skep dit ‘n geleentheid vir die departement om gewasmodelle te kalibreer, wat weer ‘n bydrae maak om die impak van klimaatsverandering op die biobrandstofgewasse te verstaan en sodoende die bestuurspraktyke te optimaliseer.
Kontak dr Johann Strauss by johannst@elsenburg.com of 082 907 3109 vir verdere navrae.
Publication: May 2014
Section: Markoorsig
Author: JOHANN STRAUSS, wetenskaplike: Volhoubare produksiestelsels, Direktoraat Plantwetenskappe, Wes-Kaap Departement van Landbou en sekretaris: Bewaringslandbou Wes-Kaap