• Login
  • Search Icon

Bewaringslandbou - die oplossing vir gemengde boerdery in marginale saaigebiede

January 2014

DR HENDRIK SMITH, BEWARINGSLANDBOUFASILITEERDER, GRAAN SA

Wat was die dryfveer agter hul toetrede tot bewaringslandbou?

Ná mnr Manus Fouché sy seun, Francois, in 2005 in Australië besoek het, het hy bewaringslandbou in ‘n ander lig beskou. Met sy terugkoms het hy begin eksperimenteer deur sy eie planter aan te pas, maar hy kon nêrens in sy omgewing hulp kry nie.

image

Hy sien toe later ‘n voorbeeld op Swellendam (Donald Buxton van Alpha Engineering) waarvan hy ‘n eenheid leen en op sy planter monteer. Dit het goed gewerk en hy bestel toe al die eenhede vir ‘n volledige geenbewerkingsplanter op ‘n Agrico beitelploegraam wat wyer gemaak is (sien Foto 1).

Daarna het hulle baie tyd en geld spandeer en geëksperimenteer om by die regte stelsel uit te kom. Manus het aanvanklik die meeste geleer deur kommunikasie en inligting vanaf Francois uit Australië te ontvang.

Daar het Francois kontak gemaak met kundiges by wie hy die wetenskap agter bewaringslandbou geleer het en terselfdertyd het hy ook goeie voorbeelde op plase gesien. Francois het toe ook begin werk op ‘n plaas wat bewaringslandbou toepas en het tegelykertyd die groot debatte rondom rywydtes en tande versus kouters gevolg.

Laasgenoemde het argumente geopper soos kouters wat modder pak en tande wat oesreste sleep.

Beheerde spoorverkeer

Francois het ook in Australië geleer van beheerde spoorverkeer en stoppels wat regop moet staan. Die belangrikste besluite rondom hierdie stelsel is: Besluit op ‘n stroper, bou ‘n planter op dieselfde rywydte en beweeg al die ander implemente op dieselfde spore.

Francois noem dat “net beheerde spoorverkeer alleen ‘n 10% opbrengs verhoging tot gevolg het omdat verdigting dan net op spore gekonsentreer is, stoppels die grondwater bewaar en die wortelstelsel die grondbiologie verbeter.” Sy raad is om net langs die ou ry te plant (wintergewasse tussen somergewasstoppels en somergewasse tussen wintergewasstoppels), anders word die wortelstelsel en staande stoppel vernietig; laasgenoemde skep ook koelte, wat help om ‘n gunstige omgewing vir die klein plantjie daar te stel (sien Foto 2a en Foto 2b).

“Alles wat grondgesondheid beïnvloed is vir ons belangrik, veral gewasrotasies en grondbedekking en dit is waarnatoe ons werk,” beklemtoon Francois.

Sommige Australiërs beskou beheerde spoorverkeer belangriker as enigiets anders in bewaringslandbou, veral omdat dit sulke groot voordele inhou. Wes-Australië het omtrent suiwer sandgrond (na aan seesand) waar beheerde spoorverkeer en geenbewerkingsplanters met kouters (snywiele) met groot sukses toegepas word. Die verbetering wat bewaringslandbou in verskillende gronde gebring het, was dieselfde – vanaf suiwer sand tot kleigronde.

Die Australiërs se bewaringslandboustelsel berus op die volgende vyf praktyke: Grondgesondheid (grondchemie, grondstruktuur en grondbiologie in balans en ook in balans met mekaar), beheerde spoorverkeer (bewaar oesreste, grondbedekking en plant tussen rye), wisselbou, onkruidbeheer en minimum grondversteuring (deur kouterplanters te gebruik).

“Ons wil graag beheerde spoorverkeer hier maak werk. Ons glo dit kan dinge makliker maak – die trekkerdrywer ry net op die spore en nie oral op die land wat verdigting veroorsaak nie” – dit is Francois se visie.

image image

Grondinligting

Die marginale gronde van die Suidoos-Vrystaat se saaiwêreld het baie variasie en moet versigtig geïdentifiseer en bestuur word. Die Fouchés het begin om hulle gronde se beperkings te identifiseer en op te hef, byvoorbeeld deur middel van grondontledings en presisietoedienings van kalk (dolomiet), gips en kunsmismengsels.

Die gronde het gemiddeld 13% klei in die bogrond. Grond in beter lande word deur observasies op elke 4 ha gemoniteer. Kunsmistoediening word gebaseer op grondontledings en gewasbehoefte. Die volgende stap sal wees om beheerde spoorverkeer ordentlik te vestig om grondgesondheid te verbeter.

Gewasverbouingstelsels

Die Fouchés het in die verlede hoofsaaklik hawer geplant, maar het besef gewasrotasies is noodsaaklik om verdigting teen te werk. As veeboere moet hulle probeer om oesreste te beskerm (sien Foto 3).

Hulle het eers sorghum en mielies en later ook radyse, sojabone en sonneblom in die gewasrotasie ingebring. Volgens hulle is ‘n belangrike reël om met gewasse te begin wat jy weet in die omgewing (of op jou plaas) werk (sien Foto 4a tot 4c).

image image

Hulle einddoel is om die regte gewasrotasieprogram te ontwikkel wat bewaringsboerdery met ‘n veefaktor kan versoen. Francois is oortuig dat die plant van dekgewasse nadat somergewasse geoes is (om meer materiaal op die lande te kry), ook ‘n baie groot rol sal speel om die veefaktor suksesvol in bewaringsboerdery te integreer.

Hy is ook van mening dat permanente weidings met multispesiepeulgewasse en grasse ook ‘n groot impak op hierdie integrasie kan hê. Hy sê dat wanneer jy bewaringsboerdery in ‘n veeboerdery-opset wil toepas, dit belangrik sal wees om die vee op die lande reg te bestuur om maksimum potensiaal uit jou lande en vee te kry.

Die Fouchés se gewasverbouingstelsels is ‘n goeie voorbeeld van ‘n baie diverse stelsel en word in Tabel 1 beskryf. Sulke diversiteit in gewasverbouing word as die “enjin” van volhoubaarheid beskou.

image

Winsgewendheid

Volgens die Fouchés lê die grootste besparing in trekkerure, tyd op die land en arbeid. Daar is al bereken (in Queensland, Australië) dat ‘n 24-ry (12 m) kouter (skottel) planter teen ‘n plantspoed van 18 km/uur en met ‘n dieselverbruik van 3 liter/ha - 3,5 liter/ha kan werk.

Kontoerwalle is vir hulle ‘n probleem in bewaringslandbou, want dit konsentreer water en mors baie tyd, diesel en spasie. Die Fouchés verkies dus om oor die kontoere te plant vir groter effektiwiteit en winsgewendheid.

Onkruidbestuur

Hulle onkruidbestuursprogram word in Tabel 3 bespreek. Sien ook Foto 5.

image

Meganisasie

Hierdie boerdery se meganisasieplan werk soos volg: Vir die wintergewasse gebruik hulle ‘n tuisgemaakte planter met tand van Alpha Engineering (sien Foto 1). Vir somergewasse gebruik hulle weer ‘n John Deer 1750 (6-ry), wat ‘n vakuumplanter met ‘n snyskottel is. ‘n Agrico 3-puntspuit (10 m) van 1 000 liter word ook gebruik.

Wat toegang tot kennis en inligting betref, is en was die internet die grootste bron van inligting, veral vanuit Australië. Francois het goeie ondervinding in Australië opgedoen wat hy stelselmatig in hulle boerderystelsel integreer. Hulle is ook lede van die Boesmanskop Bewaringslandboustudiegroep en alhoewel hulle redelik gereeld kommunikeer, is daar ‘n behoefte om meer gereeld bymekaar te kom.

Nege lede van die groep het in 2010 saam besoek afgelê aan Queensland, New South Wales en Victoria in Australië en het baie inspirasie en kennis uit hierdie besoek geput.

“Gaan kyk na mense (produsente) waar dit werk en toer na Australië,” is die raad wat die Fouchés aan produsente bied wat in bewaringslandbou belangstel.

Publication: January 2014

Section: Input Overview

Search