• Login
  • Search Icon

Bewaringsboerderyproef lewer reeds belowende resultate

November 2011

image

ANDRÉ NEL, ANNEMIE ERASMUS, ELBÉ HUGO, MARYKE CRAVEN EN OWEN RHODE, ALMAL VAN DIE LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE EN SURIA BEKKER, NOORDWES-UNIVERSITEIT

Bewaringsboerdery met die vereiste praktyk van minimum grondversteuring, het wêreldwyd al die 100 miljoen hektaar kerf verbygesteek en neem steeds toe. Die voordele van bewaringsboerdery is die dryfveer agter die wêreldwye toename daarvan.

In sekere gebiede oorsee word tot soveel as 80% van graan op dié wyse geproduseer. In Suid-Afrika word mielies nog hoofsaaklik met konvensionele grondbewerking en in monokultuur geproduseer. Persoonlike oortuigings, onbekendheid met bewaringsboerdery en die verwagte risiko wat ‘n praktyksverandering inhou, is onder meer redes waarom baie mielieprodusente huiwerig is om oor te skakel.

Die belangrikste vraag is of die praktyk van minimumgrondversteuring suksesvol op die sandgrond van die Vrystaat en Noordwes Provinsie oor die lang termyn gaan wees.

Argentynse ondervinding toon dat sommige produsente wat na bewaringsboerdery oorskakel, misluk. Dié mislukkings word toegeskryf aan onkunde oor en die besef dat, bewaringsboerdery ‘n stelsel is waarvan no-till of minimum grondversteuring slegs ‘n deel is. Die ander vereistes om die stelsel van bewaringsboerdery te laat slaag, is die skep van ‘n semi- tot permanente deklaag van gewasreste, die streng toepassing van wisselbou en spoorverkeer om grondkompaksie te beperk.

‘n Projek by die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) is daarop gemik om te bepaal of bewaringsboerdery wel suksesvol kan wees en ook om dan uiteindelik produsente te kan bystaan met riglyne hieromtrent.

Die omskakeling van ‘n konvensionele na bewaringsboerderystelsel is om gewasse in ‘n veranderde omgewing te verbou. Die grond word nie meer intensief bewerk nie, wisselbou word toegepas en gewasreste bly op die oppervlak, wat weer die voorkoms van siektes en ander organismes, insekte, onkruid en die teenwoordigheid van knaagdiere beïnvloed. ‘n Span LNR-navorsers en tegnici is by die proefwerk wat op ‘n tipiese Huttongrond in die Noordwes Provinsie uitgevoer word, betrokke en waar daar aan verskeie aspekte aandag gegee word.

Opbrengs

Van die eerste resultate is insiggewend. Wat die opbrengs van mielies betref, is resultate van die eerste volledige gewassiklus wat in 2010/2011 bereik is, baie belowend. Mielies wat in monokultuur met ‘n beitelploegbewerking verbou is, het ‘n opbrengs van 5,79 ton/ha met die seisoen se reënval van 600 mm, gelewer. Mielies in monokultuur met geenbewerking, het 5,80 ton/ha en geenbewerking-mielies in wisselbou ná sojabone, het 6,38 ton/ha gelewer.

Die Voedsel en Landbou-organisasie van die VN (FAO) se wisselbouriglyn is dat drie verskillende gewasse mekaar behoort op te volg, waarvan een ‘n peulgewas behoort te wees, om die beste van bewaringsboerdery te maak.

Geenbewerking-mielies, voorafgegaan deur babala en sojabone, se opbrengs was ‘n verstommende 7,28 ton/ha, wat 26% hoër is as die opbrengs van monokultuur-mielies waar daar geploeg is.

Waar sonneblom in plaas van sojabone deel van die gewasstelsel uitmaak, is die opbrengs van die mielies nie beïnvloed nie. Die FAO se insluiting van drie gewasse waarvan een ‘n peulgewas is, is duidelik nie om dowe neute nie en spreek van ondervinding waarvan ons moet kennis neem.

Onkruid

In lande soos Australië en Argentinië is gevind dat onkruidbeheer in bewaringsboerdery mettertyd makliker raak. Onkruidspektrums verskil baie en selfs van land tot land en ná jare se bewaringsboerdery kan sekere onkruidspesies verdwyn terwyl ander weer te voorskyn kom. Bewaringsboerdery veroorsaak dus ‘n verskuiwing van onkruidspesies oor tyd.

Die deklaag van gewasreste help om die kieming van onkruidspesies te verhinder of te vertraag. Ongelukkig moet daar in die beginjare van bewaringsboerdery grootliks op chemiese beheer gesteun word om van hardnekkige onkruidspesies ontslae te raak.

Die gebruik van chemiese onkruiddoders neem egter af hoe langer bewaringsboerdery toegepas word. In die LNR-proefwerk word daar op hierdie vroeë stadium nog geen verskuiwing in onkruidspesies waargeneem nie. Goeie beheer word tans verkry deur vooropkoms S-metolachlor toe te dien, opgevolg met ‘n na-opkoms glifosaat plus 2,4-D tenkmengsel.

Insekte

Die habitat vir insekte verander geheel en al indien daar na bewaringsboerdery oorgeskakel word. Die grond word nie meer versteur nie, gewasreste kom voor en die onkruidspektrum kan verander. Met die oorskakeling vanaf ‘n konvensionele na ‘n bewaringsboerderystelsel kan sekere insekplae gelok en ondersteun word. Onderskeie insekspesies se getalle kan dus toeneem, afneem of onveranderd bly.

Die moontlikheid bestaan dat insekplae op gewasreste gedurende die winter oorleef en die plaag kan toeneem. Wisselbou as inherente deel van bewaringsboerdery, behoort dié risiko te verlaag indien die opvolggewasse nie dieselfde insekplae ondersteun nie.

In dié stadium van die proefwerk, is die aanduiding reeds sterk dat insekpopulasies deur ‘n oorskakeling na bewaringsboerdery beïnvloed word. ‘n Groter en meer diverse insekpopulasie kom in bewaringsbewerking voor.

Wat verblydend is, is dat daar ‘n toename in die predatorbevolking is, wat skadelike insekte natuurlik beheer. Termiete, miswurms en ‘n nuwe larwale plaag op mieliesaailinge, Classeya tenuistirga, kan moontlik nuwe plae op mielies onder bewaringsboerdery word. Die tyd sal egter leer of hierdie spesies ekonomies belangrik gaan word en of beheermetodes ondersoek moet word.

Wortelsiektes

Die voorkoms van plantsiektes en veral wortelvrotte op ‘n bepaalde land word tot ‘n groot mate deur wisselbou (of die afwesigheid daarvan) en die tipe grondbewerking beïnvloed.

Verder word wortelvrot nie soos met byvoorbeeld blaarsiektes deur ‘n enkele patogeen (siekteveroorsakende organisme) veroorsaak nie, maar is dit in werklikheid ‘n kompleks van patogene wat betrokke kan wees. Die verwagting is dus dat die voorkoms van mielie-wortelvrot sterk deur bewaringsboerdery beïnvloed gaan word.

Resultate van die proef toon reeds ‘n interessante patroon. Wortelvrot het die grootste omvang by monokultuur-mielies gehad. Die tweede hoogste wortelvrotvoorkoms was in geploegde monokultuur-mielies en ook waar mielies ná sonneblom in geenbewerking verbou is. Die laagste wortelvrotvoorkoms is gemeet waar mielies ná sojabone onder geenbewerking verbou is. Die wortelvrotresultate stem op hierdie stadium dus redelik goed met die opbrengsresultate ooreen.

Aalwurm

Aalwurm is een van die organismes wat ‘n besonder belangrike rol in gewasproduksie kan speel. Die skade wat knopwortelaalwurm kan aanrig, is welbekend. Die verwagting is dat die aalwurmbevolking en samestelling ook sterk deur bewaringsboerdery beïnvloed gaan word. In die proefwerk word daar na die bevolkingsdinamika van nie-parasitiese sowel as plant-parasitiese aalwurmgroepe gekyk.

Nie-parasitiese aalwurms sluit die bakterie- en swamvoeders asook omnivore en predatoriese aalwurms in. Bakterie- en swamvoedende aalwurms is in staat om stikstof wat hul uit bakterieë en swamme kry en waarop hulle voed, in grond beskikbaar te maak aan plante en speel dus só ‘n belangrike rol in die hergebruik van voedingstowwe.

Die eerste resultate dui op ‘n drastiese toename in die populasie en diversiteit van laasgenoemde twee aalwurmgroepe in bewaringsboerdery, wat dus gewens is. Hoe bewaringsbewerking knopwortel-aalwurmgetalle gaan beïnvloed, is nog nie duidelik nie. ‘n Afname in die populasie het wel van 2010 na 2011 voorgekom, maar waaraan dit toegeskryf kan word, is nog onduidelik.

Grondmikrobes

Grondmikrobes toon gewoonlik ‘n verskuiwing in die populasiesamestelling met die oorskakeling na bewaringsboerdery en voordelige mikrobes neem gewoonlik toe en patogene neem af.

Grond in bewaringsboerdery is gewoonlik swamgedomineerd in teenstelling met konvensioneel bewerkte grond. Mikorisa, ‘n gewenste wortelswam wat in noue assosiasie met plantwortels leef, neem dikwels in bewaringsboerdery toe.

Mikorisa help met die beskikbaarstelling van voedingstowwe aan die gewas, dra by tot struktuurvorming, wat weer waterinfiltrasie en belugting van die grond bevoordeel en dra ook by tot organiese koolstofopbouing in die grond. Dié opbouing geskied deurdat mikorisa ‘n suikeragtige proteïen, glomalien, in die grond afskei. Die gomagtige proteïen bevat nie net koolstof nie, maar help ook om organiese material in die grond stadiger te laat afbreek.

Verskille in mikrobiese aktiwiteite in die sanderige grond van die proef kom reeds voor. Voorlopige resultate dui reeds daarop dat glomalienvlakke en dus mikorisa-aktiwiteit, hoër is in van die bewaringsboerderypersele en ook met mielie-opbrengste korreleer.

Vlakke van grond-ensieme wat op ander mikrobe-aktiwiteit dui, is ook hoër onder bewaringsboerderypersele as onder konvensioneel monokultuur-mieliepersele.

Dit is verblydend dat die eerste resultate reeds die opbrengs- en biologiese voordele van bewaringsboerdery toon, maar daar moet in gedagte gehou word dat dit maar voorlopig is en dat die reënval ook tot dusver gunstig was. Die toekoms van die projek sal leer of dié gunstige tendens gaan voortduur en of dit maar net ‘n goeie wegspring was.

Vir meer inligting, skakel André Nel, Annemie Erasmus, Elbé Hugo, Maryke Craven of Owen Rhode van die LNR-Instituut vir Graangewasse by (018) 299-6100 of Suria Bekker van die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus by (018) 294-5740.

Publication: November 2011

Section: Wenartikels

Search