September 2012
OWEN RHODE EN CHARNÉ VAN COLLER, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE, POTCHEFSTROOM
Oor die afgelope paar jaar is daar ‘n al hoe groter gesindheidsverandering deur ons landbouers teenoor bewaringsboerdery. Daar is ‘n besef dat om volhoubaar te boer, ‘n aanpassing aan konvensionele boerderypraktyke verg.
Die omskakeling van ‘n konvensionele na ‘n bewaringsboerderystelsel is om gewasse in ‘n veranderde omgewing te verbou. Die grond word nie meer intensief bewerk nie, wisselbou word toegepas en gewasreste
bly op die grondoppervlak.
In die veranderende omgewing word een van die byna vergete aspekte van grondkunde, die grondbiologie, seker die meeste beïnvloed. Die biologiese prosesse en eienskappe in die grond verenig die grond se fisiese en chemiese eienskappe. Dit is vanuit hierdie vertrekpunt dat ons na die invloed van bewaringsboerderypraktyke op die biologie in die grond kyk.
Grondbewoners
Grond huisves ‘n diverse gemeenskap van biologiese lewe wat uit virusse, bakterieë, swamme, alge, protosoë, miete, aalwurms, wurms, miere en ander insekte bestaan. Elk van hierdie organismes speel ‘n belangrike rol in die afbraak van organiese materiaal en die siklisering van makro- en mikrovoedingstowwe wat die plant kan gebruik.
Swamme en bakterieë maak die belangrikste en grootste persentasie van mikro-organismes in die grond uit. Bakterieë speel ‘n kritieke rol in die afbraak van residu’s en die herwinning van koolstof, stikstof, fosfor en ander minerale. Dit is veral die teenwoordigheid van lewendige plantwortels in die grond wat bakteriese aktiwiteit stimuleer.
Sommige spesies benodig geen suurstof nie, terwyl ander dit wel nodig het. As gevolg van die suurstofbehoefte word sommige bakterieë minder aktief, veral in nat gronde (anaërobies) waar daar minder suurstof is.
Tydens die anaërobe toestande word organiese materiaal nie effektief afgebreek nie. Bewerking aan die ander kant belug die grond en daar is ‘n opbloei van bakterieë as gevolg van die toename in suurstof en oesreste wat ingewerk word asook respirasie wat toeneem.
Bevolkings neem dan vinnig toe wat tot vinnige afbraak van organiese materiaal en die vrystelling van voedingstowwe lei. Daar is egter ook ‘n slegte kant aan dié storie. Die vinnige respirasietempo’s veroorsaak ‘n verlies van koolstof in die grond aan die atmosfeer asook ‘n moontlike verlies aan waardevolle voedingstowwe wat kan uitloog voordat die plant dit kan opneem.
In bewaringsboerdery word die probleem voorkom. Die grond word nie met ‘n oormaat suurstof en plantreste verryk nie en grondkoolstof bly dus behoue. Terselfdertyd word voedingstowwe geleidelik vrygestel sodat dit deur die plant benut kan word. Goedbestuurde bewaringsboerderylande met goeie grondstruktuur en wortelkanale be- vorder matige deurlugting sonder die newe-effekte van bewerking.
Die rol van swamme word duidelik geïllustreer in die simbiotiese verhouding tussen wortels en mikorisa. Die swamme bevoordeel sekere gewasse deurdat hulle die opname van fosfor en ander minerale, soos kalsium, sink en koper deur die plant fasiliteer. Mikorisa help om die proses te stimuleer en sodoende ‘n chemiese verandering in die grond teweeg te bring.
‘n Eenvoudige verduideliking is dat mikorisa suikers van die plantwortels kry en dit aan ander bakterieë en organismes vrystel. Die organismes help dan om voedingstowwe in die grond plantopneembaar te maak. Indien die mikorisa nie aktief is nie, kan fosfor beperkend raak en word meer kunsmis vereis. Dit is veral opvallend waar konvensionele praktyke, soos ploeg toegepas word op grond met beperkte fosfor wat dan die mikorisa-swam versteur. In bewaringsboerdery is die mikorisa-swam veral teenwoordig weens die grond wat nie versteur word nie.
Waar mikorisa dus die plantwortels koloniseer, kan daar hoër fotosintesevlakke wees en word meer en verbeterde water verbruik terwyl verskillende tipes koolstofprodukte na die wortels vervoer word. Daar is gedurige uitskeiding van koolstofprodukte uit die lewendige wortels wat die mikorisa aan die lewe hou.
Die swam produseer dan ‘n gomagtige suiker wat ons glomalien noem. Glomalien is juis hierdie produk wat grond toelaat om aggregate te vorm. Deur die vestiging van ‘n grasrusoes kan die proses van glomalienvorming ook indirek aangehelp word. Die simbiotiese omgewing tussen plantwortels en mikorisa kan ook dan tot minder patogene lei, sowel as meer voordelige rhizobakterieë.
Ingenieurs van die grond
Omdat die grond in bewaringsboerdery nie versteur word nie, bevorder dit die teenwoordigheid van erdwurms in die grond. Erdwurms word gesien as die ingenieurs van die grond vanweë die dramatiese veranderinge wat hulle op grondstruktuur teweegbring.
Dit verbeter die grond se struktuur deurdat hulle tonnels grawe opsoek na voedsel. Hulle trek organiese materiaal af in die grond in, wat op sy beurt die grondvrugbaarheid verbeter. Die tonnels help ook om reënwater vanaf die grondoppervlak te dreineer sowel as om lug in die grond in te laat.
Erdwurmgietsels (grond wat deur die wurm se liggaam beweeg het) verleen ‘n krummelrige tekstuur aan die grond, wat voordelig is vir plantegroei. Daar is bevind dat hierdie gietsels ‘n hoër nutriëntinhoud het as die omliggende grond.
Erdwurms help verder ook om aalwurmgetalle en siekteveroorsakende swamme te bekamp deurdat hulle daarop voed. In bewarings-boerderypraktyke word deurgaans meer en groter erdwurms aangetref. Ongelukkig is erdwurms beperk tot gronde met klammer, koeler toestande en sal daarom nie in droë gedeeltes van die land gevind word nie.
Vestiging van ‘n gesonde grondhabitat
Die bevolkings in die grond is afhanklik van die toestande in die grond en gehalte van die voedselbronne. Hoe swakker die voedselbron, hoe moeiliker die lewenstoestande.
Grondorganismes kan in swak toestande oorleef, maar reageer skerp op gunstige toestande. ‘n Manier om die mikrobes te stimuleer, is om geen grondversteuring toe te pas nie en ‘n peulgewas te verbou. Hoe minder die grond versteur word, hoe voordeliger vir die opbloei van mikrobes. Die teenoorgestelde is dan ook waar deurdat meer versteurings dit vir hulle moeiliker maak om te floreer.
Diverse voedselbronne (soos in wisselbou) kan ‘n versagtende effek op grondlewe uitoefen indien konvensionele praktyke, soos ploeg, toegepas word. Nog ‘n voordeel van diversifikasie van voedselbronne is dat dit grondlewe kan help om te herstel van byvoorbeeld sekere kunsmistoedienings.
Oor die algemeen word die vestiging van dekgewasse en die wisselbou van gewasse aanbeveel om aan grondorganismes daardie bron van voedselverskeidenheid te gee. Net een seisoen van wisselbou kan ‘n robuuste gemeenskap van grondmikrobes skep wat grondkwaliteit vir ‘n periode van tot vyf jaar kan verbeter.
Mikorisa-populasies kan ook bevorder word deur die aanplanting van peulgewasse tesame met gewasse in rotasie, soos mielies, sonneblom en sojabone wat hoogs afhanklik is van mikorisa. Biodiversiteit bevorder dus grondkwaliteit.
Plantdiversiteit beïnvloed ook grondchemie. Verskeie plante verskil in die manier waarop hulle voedingstowwe vanuit die grond opneem. Soos plante groei en volwasse word, begin van hul residu’s ontbind en voedingstowwe word vrygestel vir die vorming van organiese materiaal in die wortelsone.
Die mikrobes speel dus die middelman en dien as tydelike opbergingsplek vir voedingstowwe wat mettertyd tot die plant se beskikking daargestel word. Diversiteit van gewasse hou groot voordele in vir die grond weens die wortelstruktuur en diepte van gewasse.
Grondkwaliteit en -struktuur se bevordering lê opgesluit in die wortelmateriaal in die grondprofiel. Dekgewasse of grasrusoeste is ideaal hiervoor en sorg sodoende dat die profiel met lang en kort wortels gevul is. Die wortels sal dan later organiese materiaal vorm en dus hierdie verskeidenheid van materiaal wat die ondergrondse lewe bevorder, voortbring.
Die sleutel tot volhoubare graanproduksie is grond met ‘n hoë kwaliteit. Die kwaliteit word grootliks deur die mikrobiese bevolking in die grond teweeggebring. Bewaringsboerdery is die regte manier om die grondmikrobiese bevolking tot sy reg te laat kom.
Publication: September 2012
Section: Input Overview