March 2015
ANDRÉ NEL, LNR-Instituut vir Graangewasse
In die omgangstaal word baie terme gebruik as daar van bewerking gepraat word – terme soos konvensionele, verminderde, bewarings-, geen- en strookbewerking. Nog ‘n term wat van tyd tot tyd gehoor word, is direkte plant.
Hierdie verskeidenheid van terme en hoe hul aangewend word, skep verwarring en misverstande, want wat een persoon met byvoorbeeld bewaringsbewerking bedoel, kan totaal verskil van dít wat iemand anders daaruit verstaan. Om misverstande te voorkom, is dit nodig dat dieselfde terme vir die dieselfde praktyke of begrippe gebruik word.
Konvensionele bewerking
Konvensionele bewerking verwys na hoe bewerking tans nog op groot skaal gedoen word. Die eerste of primêre bewerking voordat geplant word, is dan gewoonlik 'n ploegbewerking. Die ploegaksie versteur die bogrond met ‘n mengaksie.
Onkruide word sodoende vernietig en die grootste gedeelte van die oesreste met die bogrond vermeng. Dit word soms met 'n tweede, vlakker bewerking opgevolg met die doel om ‘n goeie saadbed te skep en onkruide te vernietig. Verdere bewerkings gedurende die seisoen word gedoen om bemesting toe te dien, onkruid te beheer, vog te bewaar of erosie te bekamp.
Skaar-, skottel- en tandimplemente word in konvensionele stelsels gebruik. Die herhaalde grondversteuring wat met konvensionele bewerking gepaard gaan, het die nadeel dat dit die grond se erosiekwesbaarheid verhoog, terwyl die struktuur vernietig word. Nie net neem die humusinhoud verder ook af nie, maar die mikro-organisme se balans word versteur wat op sy beurt ook daartoe bydra dat die grond se kwaliteit daal.
Ten spyte van die suksesvolle graanproduksie wat met konvensionele bewerking behaal is en steeds behaal word, ondermyn dit egter die langtermynvolhoubaarheid daarvan.
Bewaringsbewerking
Bewaringsbewerking is ‘n ou term wat sy ontstaan in die VSA gehad het as conservation tillage. By bewarings bewerking word ‘n primêre bewerking gedoen, maar die grootste deel van die vorige seisoen se oesreste word op die grondoppervlakte agtergelaat. Verder word daar dan hoofsaaklik van chemiese in plaas van meganiese onkruidbeheer gebruik gemaak.
Met die oesreste op die grond behoue, word gronderosie, veral winderosie, beperk en vandaar die term “bewaringsbewerking”. Die gebruik van ‘n beitelploeg in plaas van ‘n skaarploeg kan as bewaringsbewerking beskou word. Die grond word egter steeds deur die bewerking versteur.
Bewaringsbewerking het ‘n groot impak op erosie in die Vrystaat gemaak. Die sand grond van die Noord- en Noordwes-Vrystaat is aanvanklik geploeg wat dit besonder kwesbaar vir winderosie gemaak het. Gedurende die 1970’s het die rip-op-ry-bewerkingstelsel die lig gesien waar die meeste oesreste op die grondoppervlak gelaat word.
Die oesreste bekamp erosie en kan dit selfs voorkom indien die bedekking van die grond voldoende is. Onkruiddoders se toenemende beskikbaarheid en die gebruik daarvan het ook bewaringsbewerking bevorder. Met bewaringsbewerking word erosie bekamp, maar dit laat steeds die grond se kwaliteit daal.
Geenbewerking
Geenbewerking is maar bloot die Afrikaans vir no-till. Geen primêre grondbewerking word toegepas nie en daar word in 'n onversteurde grond geplant. Die enigste versteuring van die grond vind tydens die plantproses plaas. Dit is dus sinoniem met “direkte plant”, soos dit in Argentinië genoem word. Met geenbewerking word erosie en die kwaliteitsagteruitgang van die grond beperk.
Strookbewerking
Strookbewerking, of die sogenaamde strip-till, is waar ‘n strook sowat 30 cm breed, van die grond bewerk word. Die bewerking word slegs gedoen waar geplant gaan word, met ‘n onbewerkte gedeelte tussen die plantrye. In ‘n 90 cm-ryspasiëring word ‘n derde van ‘n land dus bewerk.
Die saadbed word in stroke gemaak en 'n konvensionele planter sonder enige aanpassing kan steeds gebruik word. Die nadeel van strookbewerking is dat ‘n gedeelte van die grond steeds onderhewig is aan die nadele van konvensionele bewerking.
Bewaringsbewerking, geenbewerking en strookbewerking is dus terme wat spesifiek met bewerking te doen het.
Bewaringslandbou
Baie mense gebruik die term bewaringsbewerking, maar bedoel eintlik bewaringslandbou of bewaringsboerdery. Bewaringsbewerking en bewaringslandbou is nie die selfde ding nie.
Bewaringslandbou, soos van die naam afgelei kan word, is ‘n produksiestelsel en konsentreer met ander woorde nie net op bewerking nie. Indien graan in 'n bewaringslandboustelsel geproduseer word, word minstens drie praktyke of beginsels saam toegepas. Die eerste praktyk is minimumgrondversteuring en in dien ‘n betrokke grond daarvoor geskik is, geenbewerking. Geen bewerking het die voordeel dat die grond se erosie kwesbaarheid laag gehou word en dat voordelige organismes in die grond kan gedy deurdat hul habitat nie versteur word nie.
Die tweede praktyk is die behoud van oes reste op die grondoppervlak. Dit beperk ook erosie, veral winderosie en bevorder die infiltrasie van water. Die voordeel is dat die effektiewe reënval verhoog word weens minder afloop. 'n Groter hoe veelheid graan kan dus per millimeter reën wat val, geproduseer word. Dit is ‘n baie belangrike voordeel in die semi-ariede klimaat waarin ons graan produseer en waar water gewoonlik die mees beperkende produksiefaktor is.
Die derde praktyk is wisselbou en ons weet reeds baie lank dat wisselbou 'n manier is om die siekterisiko so laag as moontlik te hou. Die grond se kwaliteit of gesondheid word ook bevorder, veral met die insluiting van peulgewasse in die gewasstelsel. Die graankwaliteit word gewoonlik ook deur wisselbou bevorder. Ondervinding wys duidelik dat in seisoene waartydens mieliekwaliteit ‘n probleem raak, oortref mielies wat deur sonneblom voorafgegaan is, se kwaliteit gewoonlik dié van monokultuur-mielies.
In bewaringslandboustelsels word implemente soos skeurploeë, skottelêe en ploeë nie meer gebruik nie, omdat dit die erosiekwesbaarheid van die grond verhoog en die kwaliteit van die grond laat agteruitgaan. Dit is implemente wat 'n belangrike rol in konvensionele gewasproduksiestelsels speel, waar dit vir primêre grondbewerking en onkruidbeheer gebruik word.
In bewaringslandboustelsels word die genoemde implemente slegs in uitsonderlike gevalle (en beperk) aangewend, soos om ‘n ernstige probleem met verdigting op te hef of om kalk in te werk.
Alle aanduidings is dat konvensionele gewasstelsels, waar die grond by herhaling versteur word en mielies in monokultuur verbou word, nie volhoubaar is nie. Bewaringslandboustelsels is die enigste wyse waarop volhoubare graanproduksie bevorder kan word. Ons uitdaging is om die fynere besonderhede van die stelsel op alle grondsoorte uit te werk om dit te laat slaag.
Publication: March 2015
Section: On farm level