• Login
  • Search Icon

Bestuur van natuurlike veldweiding vir hoër wins

October 2012

IB OOSTHUIZEN, TERRATEK

Binne alle fasette van boerdery behoort daar ‘n konstante strewe na beter effektiwiteit en groter optimale benutting van elke beskikbare hulpbron te wees. Dit is die enigste manier om die druk en wurggreep van die kosteknyptangrealiteit ligter te maak. Hierdie werklikheid bestaan ook binne veeboerdery en die benutting van natuurlike weiding – net soos binne kontantgewasproduksie. Gesien in die lig van die koste van weiding en ander insette, is die toepassing van ‘n presisiebenadering binne veeboerdery net so kritiek vir die langtermynvolhoubaarheid van hierdie produksiesisteem.

Die sleutelhulpbronne hier is waarskynlik in beginsel die weiding (natuurlike veld en aangeplante weiding), die vee waarmee dit benut word en die kapitale investering in beide die voorgenoemde hulpbronne en die infrastruktuur.

Essensieel boer elke veeprodusent dus eerstens met gras (of blare) en gebruik slegs die vee om die gras (of blare) “om te skakel” in ‘n vorm of produk wat verkoopbaar is. Die beginsel is dus eintlik eenvoudig: Om meer vleis vanaf dieselfde oppervlak te bemark, moet meer gras of blare geproduseer word en moet die beskikbare weiding so doeltreffend moontlik benut word.

‘n Effektiwiteitsmaatstaf wat gebruik kan word om hierdie doeltreffendheid te meet, is om dit uit te druk in kilogram lewendige massa per hektaar (kg LM/ha) of kg vleis per hektaar geproduseer. Om die beperking van streke en reënval “uit te haal”, kan dit ook uitgedruk word per 100 mm reën.

Die regte benadering hier is om op ‘n “voorraad-in” en “voorraad-uit” beginsel te werk, waar al die diere op die plaas elke jaar tussen byvoorbeeld 15 Augustus en 15 September geweeg word. Die verskil in “voorraad-in” en “voorraad-uit”, plus die massa van al die diere wat vir daardie produksiejaar die plaas (of produksiesisteem) verlaat het en nooit weer terugkom nie (byvoorbeeld al die speenkalwers, ou koeie en ou bulle), gedeel deur die aantal hektare van toepassing, gee dan die kg LM/ha geproduseer. Aanvanklik kan selfs net eers die massa van al die diere wat die plaas verlaat het en nooit weer terugkom nie, gebruik word om ‘n aanduiding te kry.

Die resultate van goeie veldbestuur vind in die praktyk stadig inslag. Die rede hiervoor is waarskynlik omdat die resultate van goeie veldbestuur nie dadelik sigbaar is nie, die reaksie daarop oor ‘n lang tyd manifesteer en omdat dit konstante korrekte of goeie bestuur vereis.

Hoewel daar verskeie vrae is wat elke produsent homself kan afvra om te bepaal waar hy sy bepaalde beweidingsisteem kan verbeter, is daar hoofsaaklik vier vrae wat kritiek is, naamlik:

  • Is my veldtipes en veldsoorte korrek geskei?

  • Het ek genoeg of die regte aantal kampe per trop?

  • Is my kampgrootte tot tropgrootte reg? (Of selfs andersom)?

  • Is my weiperiodes in die groeiseisoen kort genoeg en rusperiodes lank genoeg?

Dit is ook belangrik om in gedagte te hou dat indien ‘n plaas byvoorbeeld 100 grootvee-eenhede (GVE) kan dra, dit nie ‘n 100 koeie beteken nie. Meissner wys daarop dat vir ‘n kleinraam tipe bees (byvoorbeeld Angus en Afrikaner – 500 kg), is 67 volwasse koeie van drie jaar oud met hulle kalwers en die drie bulle wat nodig is vir paring, reeds net meer 99 GVE. Vir mediumraam tipe diere (byvoorbeeld Bonsmara en Beefmaster – 525 kg) is 67 volwasse koeie van drie jaar oud met hulle kalwers en die drie bulle wat nodig is, gelyk aan 100 GVE. Vir grootraam tipe diere (Charolais en Simmentaler – 575 kg) word 100 GVE opgemaak deur 58 volwasse koeie van drie jaar oud met hulle kalwers en die twee bulle wat nodig is.

Navorsing het gewys dat binne die normale vierkampstelsel-beginsel, met weiperiodes van 30 dae per kamp en normale weidingsdruk, herontblaring van dieselfde graspol ongeveer elke 14 dae plaasvind.

Binne hierdie navorsing is ook gevind dat die groeikragtigheid van veral smaaklike weiplante en intermediêr smaaklike spesies gesamentlik met tot soveel as ‘n derde benadeel word in die daaropvolgende groeiseisoen wanneer weiperiodes in die vorige groeiseisoen 30 dae en langer was in vergelyking met die produksie van veld wat ‘n volle groeiseisoen gerus het.

Die interessante bevinding was ook dat die totale produksie ongeveer dieselfde was as dié van veld met ‘n volle groeiseisoen rus, maar dat die verlies in produksie van die smaaklike en intermediêr smaaklike spesies opgeneem is in die produksie van die onsmaaklike spesies wat tot soveel as ongeveer ‘n derde meer produseer het. Die belangrike hier is dat ons moet onthou dat ons vee eerste smaaklike spesies wei en daarna die intermediêr smaaklike spesies, terwyl die onsmaaklike spesies sover moontlik vermy word. Dit beteken dus dat indien ons weiperiodes per kamp te lank is in die groeiseisoen, ons tot ‘n derde van die aanvaarbare weiding vir ons beeste in die volgende groeiseisoen verloor – daarom die beginsel van ‘n volle groeiseisoen se rus.

In gereelde proefbehandelings wat vir ses weke loop, is ontblaring teen verskillende intensiteite en frekwensies gesimuleer (Foto 1). ‘n Hoë intensiteit en frekwensie (straf) van ontblaring word gesimuleer deur grasplante weekliks 2 cm bokant die grondoppervlak af te sny. Vir ‘n matige intensiteit en frekwensie (matig) van ontblaring, word die grasplante elke tweede week 4 cm bokant die grondoppervlak afgesny. Die lae frekwensie word gesimuleer deur die grasplant aan die begin van die proeftydperk 4 cm bokant die grondoppervlak af te sny en dan eers weer ses weke later.

Die volgende kan hieruit afgelei word: Met weiperiode-lengtes van 30 dae en langer per kamp, behoort herontblaring van dieselfde plant ten minste elke 14 dae plaas te vind en sal die wortels van die smaaklike spesies afsterf tot ‘n status wat iets tussen die strawwe ontblaring en die matige ontblaring behoort te wees (sien Foto 1 en Foto 2).

image

Wanneer ons dus midsomerdroogtes beleef, kan ons smaaklike spesies nie tot dieselfde mate vir die beperkte beskikbare vog kompeteer met die onsmaaklike spesies (waarvan die wortelsisteme waarskynlik lyk soos die van die rus-plant) nie. Gevolglik is die risiko in sulke gevalle dat smaaklike grasspesies kan verdroog en afsterf en die veldtoestand oor tyd dus net verder verswak.

Daar is nie net die risiko van veldtoestand wat verswak nie, maar die hergroei van sulke straf ontblaarde plante is ook baie stadiger omdat hergroei onder hierdie strawwe ontblarings regime konstant vanuit reserwes moet plaasvind. Die gevolg is dat daar op die totale potensiële produksie vir die groeiseisoen verloor word.

Indien weiperiodes beperk word tot nie langer nie as 14 dae per kamp in die groeiseisoen, behoort die wortels van die smaaklike weiplante ‘n wortelstatus te handhaaf van iets tussen matig ontblaar en rus (Foto 1 en Foto 2). In hierdie geval kan die smaaklike plante dus baie beter tydens ‘n midsomerdroogte vir die beskikbare vog kompeteer as gevolg ‘n steeds relatief goed ontwikkelde wortelstelsel. Hierdie weiplante se hergroeitempo is as ‘n reël onder normale klimaatstoestande
ook goed. Waar die beginsel van korter weiperiodes toegepas word, word gevind dat die totale lekinname per kop in die meeste van die gevalle afneem teenoor die langer-weiperiode-per-kamp-scenario.

In ‘n gevallestudie waar die beginsels hier bespreek, toegepas is, is gevind dat die getalle van produserende koeie op dieselfde oppervlak oor ‘n driejaar-tydperk met ongeveer 72% verhoog kon word sonder om in voerskaarstes in te loop.

Binne hierdie produksiestelsel is daar beide ‘n somer- en ‘n winterkalfseisoen en het die gemiddelde speenmassa van 225 kg tot 240 kg verbeter. Ook die kilogram lewende massa per hektaar geproduseer het verhoog van 24 kg LM/ha na 43 kg LM/ha – dit is byna dubbeld die hoeveelheid lewendige massa geproduseer vanaf dieselfde oppervlak.

Die bruto marge per hektaar het verhoog vanaf ongeveer R311/ha na R456/ha binne drie jaar. Ná vyf jaar (geneem teen dieselfde koste en inkomste) verander die bruto marge per hektaar na R589/ha (plus R133/ha). Die R133/ha (wat ná vyf jaar verval) is die koste geneem as ‘n verlies aan inkomste vir die verse wat teruggehou is en die vroulike diere wat ingekoop is om die produserende koeigetalle te groei asook die koste om die infrastruktuur-aanpassings te maak, geneem as ‘n lening vir vyf jaar teen 12% rente.

In ‘n ander gevallestudie is die kilogram lewendige massa geproduseer, aangeteken as 142 kg LM/ha ná optimalisering binne ‘n backgrouding sisteem.

Dit is egter belangrik om in gedagte te hou dat die ordegrootte van die skuif wat gemaak kan word, absoluut afhang van hoe ver die sisteem vanaf die optimum is wanneer met ‘n optimaliseringsbenadering begin word. In beginsel is die benadering wat gevolg word op bewese navorsing gebaseer.

Om die sukses daarvan te verseker en byna die hele benadering in ‘n selfregulerende sisteem te laat verander, is daar ‘n paar duimreëls wat saam met die beginsels hier bespreek, gevolg word. Hierdie duimreëls word egter nie nou hier behandel nie.

Vir enige navrae, kontak Terratek by (018) 581-1016.

 

Publication: October 2012

Section: Input Overview

Search