• Login
  • Search Icon

Bestuur landboukundige insekplae suksesvol met voedselsekerheid as oogmerk

April 2014

ASTRID JANKIELSOHN, LNR-Kleingraaninstituut, Bethlehem

Die versekering van voedselsekerheid is tans een van die grootste uitdagings in die landbou. Die menslike populasie word tans as 7,122 miljard gereken en in die toekoms sal daar ‘n 70% toename in voedselproduksie moet wees om ‘n geraamde populasie van 9,2 miljard in 2050 te voed.

Vir produsente, wetenskaplikes, ekonome en politici behoort voedselsekerheid vir ‘n groeiende populasie ‘n prioriteit in besluitneming te wees.

Plaaginsekte is vandag een van die grootste kopsere in die landbou wat voedselsekerheid bedreig. Dit is egter nie ‘n onlangse probleem nie. Sedert die begin van landbou, sowat 10 000 jaar gelede, kompeteer produsente met skadelike insekplae. Net soos abiotiese faktore (temperatuur, water en sonlig) het biotiese faktore die potensiaal om gewasproduksie drasties te verlaag.

Hoekom is insekte so ‘n groot probleem in die landbou?

Insekte is een van die mees aanpasbare organismes op aarde en die diversiteit van plaaginsekte is gedurig besig om uit te brei en te verander. Hulle is klein en het kort lewensiklusse en kan dus vinnig vermeerder en maklik versprei na nuwe gebiede.

Landboukundige plae word deur beide menslike aktiwiteite en natuurlike prosesse, soos wind versprei, maar daar word gemeen dat internasionale vervoer die hoofverspreidingsmeganisme is. Daar is ook gewoonlik ‘n verskeidenheid van gasheerplante waarop insekte kan oorleef en wanneer een voedselbron nie meer beskikbaar is nie, kan hulle op ‘n ander bron oorleef totdat die hoofvoedselbron weer beskikbaar is.

Om die situasie nog meer te kompliseer, ontwikkel daar nuwe biotipes van insekte wat beter aangepas is by ‘n veranderde omgewing en nuwe gasheerplante. Soos die omgewing verander, as gevolg van ‘n veranderende klimaat met hoër temperature, vergroot die diversiteit en verspreidingstreek waarin insekte voorkom. Insekte kan dan suksesvol oorleef in gebiede waar hulle nie voorheen voorgekom het nie en plaagstatus bereik op nuwe gewasse.

image

Hoe kan hierdie insekte suksesvol bestuur word?

Biodiversiteit is ‘n belangrike faktor in landbouproduksie en voedselsekerheid asook noodsaaklik vir omgewingsbewaring. Prominente patrone in die ontwikkeling van landbou het biodiversiteit afgebreek, soos byvoorbeeld die genetiese bronne van plante, insekte en grondorganismes.

Hierdie prosesse het ekonomiese verliese veroorsaak en ook produktiwiteit en voedselsekerheid bedreig wat uiteindelik gelei het tot groter sosiale koste. Die sogenaamde “groen rewolusie” is een van die grootste bydraende faktore tot die afbreek van biodiversiteit, aangesien die paradigma die aanplant van monokulture aanmoedig. Die oormatige gebruik van chemiese plaagdoders het gelei tot die afbreking van diversiteit by organismes wat belangrike ekosisteemfunksies verrig, soos predatore, parasiete, patogene en ontbinders.

In die VSA word die jaarlikse waarde van natuurlike biobeheer “dienste” wat deur hierdie organismes gelewer word, tussen ,5 miljard en miljard beraam. Die gebruik van agro-chemikalieë en sekere bewerkingspraktyke het ‘n afname in gronddiversiteit veroorsaak wat gelei het tot verswakte grondvrugbaarheid en produktiwiteit.

Monokulture skep ‘n ideale habitat vir herbivoriese insekplae en die afname in grondvrugbaarheid veroorsaak ‘n afname in die gesondheid van die plante wat vatbaarheid vir skade deur hierdie insekte se voeding verhoog. In die afwesigheid van natuurlike vyande kan hierdie insekte ook meer suksesvol vermeerder en plaagstatus bereik. Dit word dan ‘n bose kringloop waar meer chemikalieë gebruik word, wat dan biodiversiteit verder afbreek.

Om biodiversiteit en landbou te vereenselwig, is ‘n groot uitdaging. Daar moet ‘n holistiese benadering gevolg word in plaas van om simptome te behandel soos dit opduik. Verandering is op alle vlakke nodig vanaf die verandering in staatsinstellings en institute tot die toepassing van nuwe praktyke op plaaslike vlak deur gemeenskappe en produsente. Die toepassing van agro-ekologiese beginsels wat biodiversiteit op plase sal bewaar, benut en bevorder (ook bekend as bewaringsbiologiese beheer), is noodsaaklik.

Voorbeelde van praktyke wat gevolg kan word vir effektiewe bestuur van insekplae, sluit die volgende in:

  • Wisselbou om opbou van plaag populasies te verhoed.
  • Plant van gasheerplante tussen gewasse wat predatore, parasiete en patogene van plaaginsekte kan huisves.
  • Gebruik van plante, soos sekere kruie, wat as natuurlike insekafweerders optree.
  • Hervestiging van biologiese beheeragente, soos predatore en parasiete wat op insekplae voed.
  • Uitskakel of beperking van chemiese plaagdoders om verdere negatiewe effekte op agro-ekologiese diversiteit te beperk.
  • Gemengde gewasverbouing om die vermeerdering en verspreiding van insek plae te beperk deur die mikro-omgewing te verander.
  • Die plant van voorkeur gasheerplante om die insekplaag weg te lok van die gewas op die mees kwesbare stadium.

Om die bedreiging van verlies aan genetiese bronne en biodiversiteit te oorkom, is verandering noodsaaklik. Die bevordering van landboukundige biodiversiteit lei tot volhoubaarheid wat voordele vir klein- en grootskaalse produsente inhou. Terselfdertyd word die breër sosiale belange van ekosisteemgesondheid en voedselsekerheid bevorder.

Produsente met enige navrae of opmerkings, kan dr Astrid Jankielsohn by die LNR-Kleingraaninstituut kontak by
058 307 3431 of jankielsohna@arc.agric.za.

Publication: April 2014

Section: Input Overview

Search