September 2017
Met die nuwe somergewasproduksieseisoen op hande, is dit belangrik dat daar opnuut besin word oor wegdrywing (drift) van landbouchemiese middels na nie-teikenareas tydens toediening. Dit is veral belangrik dat sekere wanpersepsies rakende wegdrywing aangespreek word aangesien dit juis, byvoorbeeld in die geval van kalm windtoestande, ‘n bepalende rol in wegdrywing speel.
Produsente is geneig om net aan lugtoediening van onkruiddoders te dink as daar oor wegdrywing gepraat word. Hoewel dit sekerlik in ‘n groot persentasie van gevalle waar oesskade veroorsaak word wel ter sprake is, is dit belangrik om te besef dat wegdrywing van insek- en swamdoders ook ekonomiese gevolge kan hê indien dit byvoorbeeld teen oestyd op ‘n uitvoergewas beland wat later weens hoë residuvlakke afgekeur word.
Die ander mistasting is die gedagte dat wegdrywing net ‘n probleem is wat met lugbespuiting geassosieer word. Al hoe meer gevalle van gewasskade as gevolg van wegdrywing van onkruiddoders by trekkertoedienings (insluitend selfloopspuite) word deesdae aangemeld (Foto 1).
Hoewel wegdrywing van landbouchemiese middels deur verskeie faktore beïnvloed word, is die volgende drie faktore sekerlik die belangrikste en kan dit ook effektief bestuur word:
Klimatologiese toestande wat wegdrywing beïnvloed
Hoewel hoë windsnelheid sekerlik ‘n groot rol speel by wegdrywing, bestaan daar die foutiewe persepsie dat dit die veiligste is om bespuitings te doen onder windstil/ kalm toestande en dat wegdrywing oor langer afstande met hoë windsnelhede gepaard gaan.
Die ironie is dat langafstandwegdrywing (1 km plus) juis onder kalm windtoestande plaasvind en spesifiek tydens temperatuurinversietoestande. Temperatuurinversietoestande kan van laatmiddag af begin voorkom wanneer die wind gaan “lê” en kan voortduur tot die volgende oggend wanneer die son weer die grond verhit – wat die hitte-energie uitstraal en die lug verhit.
Tydens ‘n temperatuurinversie verkeer ‘n laag koeler, meer digter lug naby grondvlak onder ‘n laag warmer lug. Dit word altyd geassosieer met stadige lugbeweging (as “duimreël” minder as 5 km/h).
Onder toestande van vinniger windbeweging, meng die luglae as gevolg van turbulensie en word die inversielaag opgebreek. Let wel: Kalm windtoestande beteken nie noodwendig dat ‘n inversietoestand bestaan nie; dit is egter wel ‘n vereiste daarvoor.
‘n Inversielaag suspendeer die fyner druppels fisies in die lug en saam met die hoër humiditeit tydens ʼn vroegoggendbespuiting bly die druppels fisies as ‘n “spuitwolk” bymekaar, terwyl dit stadig oor ‘n paar kilometer kan wegdryf totdat windbeweging dit later oor ‘n sensitiewe gewas laat neerslaan.
Wees veral versigtig in areas waar daar heuwels en valleie is, aangesien dalende “vallei” terrein as ‘n dreineringstelsel dien waarlangs die koue lug afbeweeg en druppels daarmee oor lang afstande saamgeneem kan word.
‘n Volgende probleem met bespuiting onder lae windsnelhede is die feit dat die windrigting tydens lae windsnelhede neig om wisselvallig te wees, wat veroorsaak dat die rigting waarin ‘n spuitwolk sal beweeg, nie met sekerheid voorspel kan word nie.
Onder hoër windsnelhede (5 km/h tot 15 km/h), sal druppels wel verder gewaai word hoe vinniger die wind waai, maar sal dit moeilik verder as ‘n paar honderd meter waai alvorens dit verdamp of neerslaan (die turbulensie by hoër windsnelhede veroorsaak dat druppels gouer neerslaan grond toe).
Wees ook bewus daarvan dat verdamping van water binne ‘n besproeiingsland ‘n laer temperatuur op grondvlak skep wat ‘n inversietoestand kan induseer.
In alle gevalle (lug- of grondtoediening) moet 15 km/h as die maksimum windsnelheid vir effektiewe toediening beskou word en moet bespuiting tydens ‘n inversietoestand liefs vermy word.
Grondtoediening
Soos reeds genoem, vind drywingskade ook plaas waar bespuitings met grondgebaseerde toerusting gedoen word. Produsente kan die volgende doen om die risiko van wegdrywing te beperk:
Lugtoediening
Vanweë die aard van lugtoediening – kleiner druppels en die hoër hoogte van loslating – bly lugtoediening van onkruiddoders egter die grootste kwelling wanneer wegdrywing ter sprake is. In hierdie geval is dit belangrik dat al die partye wat by lugtoediening betrokke is, saamwerk om wegdrywing te bestuur.
Met die nodige samewerking en toediening onder die regte omstandighede, is daar geen rede dat gewasskade as gevolg van wegdrywing hoef plaas te vind nie. Die partye betrokke by lugtoediening kan elk die volgende bydrae lewer:
Landbouchemiese verteenwoordiger
Die produsent
Lugbespuitingsoperateur
Geneties gemodifiseerde gewasse wat bestand is teen hormoonaksie-onkruiddoders soos dikamba, lê op die drumpel en wag vir Suid-Afrikaanse produsente. Saam die huidige toename in die gebruik van glifosaat, asook die toename in aanplanting van breëblaargewasse soos sojabone en kanola, gaan daar al hoe meer eise aan effektiewe voorkoming van wegdrywing gestel word.
Hoewel daar tegnologie soos lae drywing-spuitkoppe reeds beskikbaar is, sal die grootste vereiste vir effektiewe drywingsbestuur egter altyd die regte ingesteldheid van al die partye betrokke bly, hetsy vir grond- of lugbespuiting.
Publication: September 2017
Section: Focus on