December 2013
DUP HAARHOFF, PRESISIE- EN PRODUKSIENAVORSING, GWK
GWK het ‘n unieke benadering tot presisieboerdery. Hierdeur het ons vinnig agtergekom dat daar een belangrike, basiese bousteen is vir suksesvolle boerdery in die Noord-Kaap, en dit is effektiewe waterbestuur.
Besproeiingskedulering is een van die belangrikste faktore wat in ag geneem moet word ten einde water effektief te bestuur.
In hierdie artikel wil ek graag uitlig dat besproeiingskedulering onder dieselfde spilpunt, op ‘n mikro- en makrovlak benader moet word. Beide aspekte is uiters belangrik om effektiwiteit te verseker.
Wees egter bedag daarop om nie een van die twee benaderings ondergeskik aan die ander te plaas nie. Op die mikrovlak gebruik ons sogenaamde probes wat detail metings op ‘n uurlikse basis doen. GWK maak van die Irricheck-sagteware gebruik vir aanbevelings van puntdata. Hierdie metings is uiters belangrik om die aandag te vestig op wat in ons grondprofiele (vertikale evaluasie) aangaan. Met ander woorde tot op watter laag water onttrek word, is daar moontlike keerlae, hoeveel water kan die profiel hanteer voordat daar weer wateraanvullings gedoen moet word en het daar water deur die profiel gedreineer?
Hoewel hierdie metings sub-millimeter akkuraat kan wees, moet ons ongelukkig daarmee saam ons gesonde verstand inspan om alle ander hulpmiddels tot ons beskikking te gebruik om sodoende ruimtelike variasie in ag te neem. Dit is daarom noodsaaklik dat die persoon wat skeduleringsaanbevelings doen, oor goeie kennis beskik van die verskeie faktore wat ‘n invloed kan hê op watergebruik deur die plante.
Ongelukkig moet die uitdaging van effektiewe waterbestuur wyer benader word as net die blote meting deur instrumente of aanbevelings wat gekoppel word aan weerstasie-inligting. ‘n Holistiese benadering is nodig wanneer optimale besproeiing toegepas word en so ‘n benadering begin by die waterverspreiding van spilpunte (‘n basiese beginsel).
Dit maak geen sin om water te skeduleer as spilpunte se toedienings te veel tussen spuite varieer nie (Grafiek 1). Onthou, nie net water nie, maar ook kunsmis word oneweredig tot die grond toegevoeg indien die verspreiding onder spilpunte nie op aanvaarbare norms is nie (Figuur 1: ‘n Tipiese satellietbeeld wat swak waterverspreiding uitwys). GWK het ‘n besproeiingsafdeling tot stand gebring wat onder meer daarop fokus om produsente te help om hulle besproeiingsisteme te optimaliseer.
Daar moet seker gemaak word dat die saadbed tydens plant so egalig as moontlik is. Onegalighede kan veroorsaak
dat sekere rye meer water en kunsmis kry as ander, wat siektes en oneweredige watergebruik tot gevolg kan hê (Sien Foto 1). Daar is ook ‘n definitiewe fisiese impak op grondprofiele wanneer meer of minder water toegedien word (wortelontwikkeling kan daaronder ly).
Ons hoor baie van “vetkolle” in lande waar die waterinfiltrasie nie goed is nie. Die nadeel van vetkolle is dat die water in die natter dele makliker infiltreer en oor tyd die oneweredige verspreiding van water vererger. Droër kolle raak droër en nat kolle raak natter (soute word gewoonlik meer geloog by natter dele).
By rygewasse (soos mielies) kan daar nog ‘n plan gemaak word deur te wetrip om infiltrasie van water te verbeter, hoewel dit die tweede prys is. Die tipe spuitpakket en benattingsfront is ook van groot belang tydens besproeiingskedulering. Onthou dat die infiltrasietempo van gronde nooit oorskry mag word nie.
Indien dit oorskry word, sal oppervlakafloop plaasvind wat nat kolle in die lande tot gevolg het. Daar is ‘n tendens om alle infiltrasieprobleme met gips of kalk te probeer regstel. GWK Presisie is baie versigtig vir oormatige aanbevelings van laasgenoemde, aangesien beide soute is en onder swak dreineringstoestande sal sulke aanvullings uiters onverantwoordelik wees, veral waar die gronde se elektriese geleiding (EC) reeds te hoog neig.
Sulke aanvullings kan net die totale soutkonsentrasie (onthou kunsmis is ook soute) verhoog tot nadeel van die plant indien daar nie voldoende dreinering is nie. Wanneer sulke besluite geneem word, moet kundiges geraadpleeg word en onthou, probleme moet wetenskaplik opgelos word. Die oplossing van laasgenoemde lê dikwels in ‘n kombinasie van fisiese, chemiese en biologiese benaderings.
Primêre bewerkingspraktyke blyk ‘n al hoe groter rol te speel by besproeiingskedulering in ons gebied (sien voorbeeld van oneffektiewe bewerking, Foto 2 en Grafiek 2). Indien die plant se wortels optimaal ontwikkel weens effektiewe primêre bewerking, is die volume water wat benodig word om die profiel op te vul, groot.
Die siklusse van toedienings kan dus in die meeste gevalle “gerek” word (meer water op ‘n keer), wat die gevolg het dat minder water gebruik word. Elke keer as water toegedien word, verdamp ‘n sekere hoeveelheid, met ander woorde hoe meer siklusse, hoe groter is verdamping.
In die veld word ervaar dat wortels soms deur die semi-verdigte lae groei (aan die begin van die seisoen terwyl die grond nog nat is), om net weer af te sterf indien die lae uitdroog weens te min water wat op ‘n keer toegedien word. Ons noem dit ‘n “toebroodjie” wat gevorm word (Foto 3). Baie interessant, is die feit dat daar aansienlik minder toebroodjies is waar groter volumes water op ‘n keer toegedien word (voorbeelde van swak en goeie waterbestuur kan gesien word in Grafiek 3 en Grafiek 4).
Die plasing van moniteringspunte is van uiterste belang. Die probes moet sover moontlik op verteenwoordigende grondtipes geplaas word. Dit is dus belangrik dat gronde gekarteer (geklassifiseer) word om sodoende spesifieke bestuursones sowel as verteenwoordigende areas uit te wys.
Monitering in die veld deur middel van alle hulpmiddels tot ons beskikking, is ononderhandelbaar indien besproeiingskedulering gedoen word. Moontlik die belangrikste rede waarom monitering in die veld gedoen moet word, is om seker te maak die posisionering van die metingsinstrumente is steeds op die regte plekke nadat siektes, hael en ryp voorgekom het.
Onthou dat enige metingsinstrument maar slegs ‘n baie klein oppervlakte rondom dit verteenwoordig (sentimeters rondom die punt). Daar moet dus vinnig opgetree word indien hierdie punt nie meer verteenwoordigend is nie. Die voorbeeld in Figuur 2 wys dat groot foute begaan kan word indien die skade wat byvoorbeeld deur ryp veroorsaak is, nie in ag geneem is wanneer die instrument binne daardie sone metings doen nie.
Indien die metingspunte dus binne hierdie sone is, kan daar totaal te min water vir die spilpunt aanbeveel word, hoewel slegs ‘n klein gedeelte van die spilpunt deur die ryp beïnvloed is. Dit is daarom uiters noodsaaklik dat meer as een hulpmiddel vir skedulering in ag geneem moet word tydens ‘n seisoen.
GWK gebruik klimatologiese data met gewasfaktore saam met die intydse skedulering sodat die produsente kan sien (beplan) wat die plant se behoefte in ‘n sekere tyd behoort te wees. Baie van die intydse stelsels het so ‘n funksie as deel van hul sagteware. Deur hierdie data in ag te neem, kan probleme wat in ‘n seisoen voorsien word betyds gekorrigeer word.
Indien die produsent aandag gee aan optimale suurstofbestuur in die grondprofiel, sal die effektiwiteit van watergebruik toeneem en sal die besproeiingskeduleringsproses vergemaklik word.
Onthou dat voedingstowwe optimaal opneembaar is deur plante indien die suurstof in die grond reg bestuur word. Indien water in klein volumes toegedien word, sal die profiel se suurstof nie optimaal bestuur kan word nie.
Klein hoeveelhede water het vlak wortelstelsels tot gevolg en die profiele is baie keer óf te nat óf te droog met so ‘n benadering. Grondlae droog onomkeerbaar uit onder laasgenoemde toestande wat vlak profiele tot gevolg het. Wanneer water dus toegedien word, word die kapasiteit van die grond maklik oorskry, wat kan lei tot afloop.
GWK is op die oomblik deel van ‘n WNK-projek met die naam Water use efficiency of irrigated agricultural crops determined by satellite images, waar daar op ‘n weeklikse basis gekyk word na die ruimtelike verspreiding van waterbehoeftes deur middel van satellietbeelde (SEBAL-tegnologie).
Hierdie tegnologie gaan geweldig handig wees in die toekoms wanneer waterskedulering op ‘n ruimtelike manier hanteer word. Deur van dié tegniek gebruik te maak, kan ‘n oorhoofse beeld van ‘n plaas gekry word en kan sekere dele van ‘n spilpunt anders bestuur (bestuursones) word as ander dele. Hierdie projek is tans nog in ‘n toetsfase.
Behaal sukses
Besproeiingskedulering word deesdae op ‘n uiters wetenskaplike wyse aangepak. Dit is egter baie belangrik dat ruimtelike variasie in ag geneem moet word tydens die proses van skedulering. Verskeie hulpmiddels word gebruik om hierdie holistiese benadering tot skedulering te ondersteun.
Monitering van wat onder spilpunte aangaan gedurende ‘n seisoen is van kritieke belang om vinnige veranderings ten opsigte van skedulering aan te bring. Indien die fokus van skedulering op effektiewe suurstofbestuur berus, is die sukses daarvan so te sê gewaarborg.
Publication: December 2013
Section: Input Overview