• Login
  • Search Icon

Besproeiing se bydrae tot oliesade-produksie

November 2011

image

PETRU FOURIE, EKONOOM: INSETTE/PRODUKSIE, GRAAN SA

Suid-Afrika is daarvoor bekend dat droogtes gereeld voorkom. Dié verskynsel lei daartoe dat produksie baie kan varieer en daarom speel besproeiing ‘n belangrike rol in die stabilisering van landbouproduksie.

Die afgelope insetkosteverhogings en veral die elektrisiteitskosteverhogings dra daartoe by dat die produksiekoste van oliesade onder besproeiing verhoog het en steeds aan die toeneem is. Die verhogings kan ’n wesenlike invloed op winsgewendheid en aldus die produksie en daarom voedselsekerheid hê.

Die huidige gewaspryse is te laag om die verhoging in insetkostes te absorbeer en dit het die gevolg dat daar ‘n afname in produksie verwag kan word wat verseker Suid-Afrika se voedselsekerheid negatief sal raak.

Grondboon- en sojaboonverbouing onder besproeiing vorm ’n belangrike deel van die nasionale oes. Besproeiing bring mee dat die nasionale opbrengs van oliesade, veral in ‘n droogtejaar, gestabiliseer word. Om dié stabiliseringseffek op voedselsekerheid te bepaal, moet die bydrae van oliesade onder besproeiing tot die finale oes ontleed word.

Ten spyte van die afgelope kosteverhogings, het oliesaadaanplantings onder besproeiing die afgelope paar jaar stelselmatig toegeneem. Sedert die afgelope twee produksieseisoene het die hektare sojabone onder besproeiing met 53,6% (17 765 ha) toegeneem. Grondbone het dieselfde tendens gevolg en het met 8,1% (1 185 ha) toegeneem.

Indien die aanname gemaak word dat geen besproeiingsgrond met die gewasse beplant kan word nie, is dit belangrik om die uitwerking hiervan op voedselsekerheid te ondersoek. Die vraag is dus of daar genoeg oliesade droëland geproduseer kan word om voedselsekerheid te verseker? Wat sal die effek wees indien dit ’n droogte of buitengewone goeie jaar is?

Om hierdie effek te bepaal, is aanvaar dat die huidige hoeveelheid droëlandaanplantings tydens die berekeninge in hierdie artikel, konstant gehou is, maar dat die opbrengste verander.

Grondbone

Grafiek 1 toon dat die totale produksie van grondbone die afgelope drie seisoene afgeneem het. Die finale oes was 99 500 ton gedurende die 2009-seisoen, waar die huidige oes rondom 68 295 ton geskat word; dit is ’n afname van 31 205 ton.

Grafiek 1 toon verder die persentasieverdeling van besproeiings- en droëlandgrondbone tot die finale oes. Droëland- en besproeiingsproduksie dra albei tot ongeveer die helfte van die oes by. Die besproeiingsarea vir grondboonverbouing beslaan 28,5% van die totale oppervlakte, maar produseer 53,6% van die totale oes in Suid-Afrika. Grondbone onder besproeiing is dus belangrik en speel ‘n fundamentele rol tot die finale oes.

image

In die 2011-produksieseisoen word geskat dat 68 295 miljoen ton grondbone geproduseer is, waarvan 46,4% (31 710 ton) vanaf droëlande en 53,6% (36 585 ton) vanaf besproeiing geproduseer is. Dit beteken dus dat grondbone onder besproeiing ’n uiters belangrike rol ten opsigte van die totale grondboonoes uitmaak.

Dié 2011-produksieseisoen grondbone is op 55 150 hektaar verbou. Die huidige vraag na grondbone is jaarliks ongeveer 66 000 ton en dit word as ’n konstante vir berekeningdoeleindes gebruik. Indien aanvaar word dat die bogenoemde 55 150 hektaar op droëland aangeplant is en daar geen aanplantings onder besproeiing plaasvind nie, is ’n gemiddelde oes van ongeveer 1,75 ton/ha nodig om aan die plaaslike vraag te voorsien (Grafiek 2).

image

Uit hierdie grafiek is dit verder duidelik dat indien daar wel hektare onder besproeiing aangeplant word, daar slegs ’n gemiddelde opbrengs van 1,5 ton/ha benodig word om aan die vraag te voldoen. As gevolg van besproeiing se bydrae en sy stabiliseringseffek, is ’n opbrengs op droëland van ongeveer 1,5 ton/ha essensieel gedurende ’n droogtejaar, mits daar nie groot oordragvoorrade is nie.

Afgesien van besproeiing, was daar gedurende die afgelope tien jaar nie eers een jaar waar die opbrengs per hektaar, op ‘n gemiddelde nasionale vlak, bo 1,75 ton/ha was nie, terwyl ’n opbrengs van 1,5 ton/ha en hoër, slegs een keer voorgekom het.

Uit die boonste inligting is dit verstaanbaar dat dit moeilik vir Suid-Afrikaanse produsente sal wees om aan die plaaslike vraag van grondbone te voldoen indien daar geen grondbone onder besproeiing verbou word nie. Dit is dus duidelik dat indien daar nie meer grondbone onder besproeiing verbou sou word nie, dit tot moontlike plaaslike tekorte kan lei omdat besproeiing in ’n groot mate die nasionale produksie stabiliseer, veral gedurende droogtejare.

Sojabone

Die oppervlakte met sojabone beplant het die afgelope paar jare drasties gegroei met die gevolg dat rekordoeste geproduseer is. Die toename in produksie word in Grafiek 3 getoon en hieruit kan gesien word dat sojaboonproduksie die afgelope drie seisoene met 37,4% of 192 750 ton toegeneem het.

image

Die persentasieverdeling van besproeiing en droëlandsojabone tot die finale oes, word ook in Grafiek 3 getoon. Die besproeiingsarea vir sojaboonverbouing beslaan 12,2% van die totale oppervlakte, maar verteenwoordig 20,3% van die totale hoeveelheid sojabone in Suid-Afrika geproduseer. Die besproeiing van sojabone speel dus ‘n belangrike rol om die voorsiening van sojabone te verseker.

’n Groter persentasie van die land se grondbone word onder besproeiing geproduseer as in die geval van sojabone. In die 2011-produksieseisoen is 708 750 ton sojabone geproduseer; dit beslaan 79,7% (564 740 ton) van die droëlandproduksie terwyl besproeiing se produksie 20,3% (144 010 ton) bydra.

Net soos die jaarlikse produksie, neem die verbruik van sojabone ook jaarliks toe. Volgens beramings word die huidige plaaslike sojaboonverbruik op ongeveer 638 000 ton geskat en dit word as ’n konstante vir verdere berekeningsdoeleindes gebruik.

Die 2011-produksiejaar se 708 750 ton sojabone is op 418 000 hektaar verbou. Volgens Grafiek 4 is ’n gemiddelde oes van ongeveer 2,25 ton/ha fundamenteel om aan die plaaslike vraag te voldoen indien aanvaar word dat daar geen aanplantings onder besproeiing plaasvind nie en die bogenoemde hektare op droëland aangeplant is.

image

Dieselfde berekening as vir grondbone word gemaak vir indien daar wel hektare onder besproeiing aangeplant word. Gedurende ‘n produksiejaar waar droogtetoestande voorkom, moet ‘n gemiddelde opbrengs van ongeveer 2 ton/ha op droëland verkry word om aan die plaaslike vraag na sojabone te voldoen.

Uitgesluit die bydrae van besproeiing, was daar gedurende die afgelope tienjaar-tydperk nie eers een jaar waar die gemiddelde nasionale opbrengs per hektaar bo 2,25 ton/ha was nie, terwyl ’n opbrengs van 2 ton/ha en hoër ook slegs een keer voorgekom het.

Uit die berekeninge blyk dit dat besproeiing by sojabone ’n belangrike rol speel ten einde plaaslike tekorte te voorkom, aangesien die bogenoemde berekende opbrengste om gelyk met die groeiende verbruik te breek, tans nie so algemeen haalbaar is nie.

Dit is egter moeilik om aannames in die geval van sojabone te maak, aangesien dit ’n gewas is wat uitermatig vinnig groei en ’n toename in addisionele hektaar aanplantings die situasie vinnig anders kan laat voorkom.

Publication: November 2011

Section: Input Overview

Search