March 2012
PIETMAN BOTHA, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER
Koos Barnard en sy seuns, van Vlakplaas Boerdery in die Hoopstaddistrik,
is as die 2011 Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar aangewys. Hierdie eer val nie sommer enige iemand te beurt nie, maar hierdie boerdery verdien dit terdeë.
Die meerderheid van Vlakplaas Boerdery se land is op watertafelgronde wat dit moontlik maak om reënwater effektief op te vang en op te gaar. Koos en sy drie seuns, Janes, Abraham en Kobus, plant jaarliks hoofsaaklik mielies, koring en grondbone, maar vanjaar het sonneblom bygekom.
Aanplantings
Die mielie-aanplanting neem tussen 50% en 60% van hul lande op, wat dit die belangrikste gewas in die boerdery maak. Koringaanplantings beslaan gewoonlik tussen 5% en 10% van die lande, met die grondboonaanplanting ongeveer 5%. Die res van die lande lê braak, wat optimaal bestuur word om vog op te gaar. Hierdie benadering ten opsigte van gewasverbouing word gevolg om die voordele van wisselbou, vogbewaring en onkruidbeheer te ontsluit.
‘n Sesry rip-op-die-ry-spoorverkeerstelsel word algemeen in hierdie boerdery gevolg. Dit beteken dat die gewasse op los gebreekte rye geplant word. Die planters plant 6,2 m wyd op ‘n slag. Die rywydte verskil waar die trekker-
spoorbane 1,4 m wyd is en die ander rye 760 mm uitmekaar is met ‘n las-ry van 1 m wyd.
Jaarliks word ongeveer 65% van die mielie-aanplantings op lande gedoen wat ‘n volle groeiseisoen gerus en vog opgegaar het. Die koringlande word gewoonlik opgevolg met mielies en dit beslaan bykans 15% van die mielie-
aanplanting. Dit wil sê dat so te sê 80% van die mielie-aanplantings op lande gedoen word waar vog opgegaar is. Die res word op grondboon- of mielie-
lande aangeplant. Deur die mielieaanplantings op hierdie basis te doen, word die produksierisiko’s in ‘n groot mate verskans.
Bestuur
Volgens Koos dra die grond nie alleen tot die sukses van die boerdery by nie en moet hul goeie bestuur toepas om die waarde van die grond te ontsluit. “Ons moet beplan, bestuur, betrokke wees en boonop betyds wees en met die genade van Bo sal ons goeie oeste kry,” verduidelik Koos.
Uit hierdie woorde is dit duidelik dat dié boerdery bestuur word om so doeltreffend en effektief as moontlik die hulpbronne aan te wend en te funksioneer.
Janes noem dat sy oupa ‘n sêding gehad het wat hom altyd sal bybly: “Daar is mos altyd tyd om ‘n ding oor te doen, maar nooit tyd om dit die eerste keer reg te doen nie.” So hulle probeer om alles die eerste keer reg te doen!
Janes is verantwoordelik vir die boerdery se beplanning en sorg dat hierdie boerdery soos ‘n horlosie loop. Hy sorg dat nuwe tegnologie en planne geïmplementeer word en sodoende stagneer die boerdery en bestuur
nie. “Ek bly ‘n student wat jaarliks iets nuuts leer en iets nuuts probeer,”
sê Janes.
Veranderinge en beplanning
Hierdie boerdery was aan die voorpunt van verskeie praktyke wat tans algemeen in die omgewing toegepas word. Aanpassings in enige stelsel vereis dat ‘n goeie studie van die beoogde verandering en die effek daarvan op die huidige stelsel gedoen moet word. Daarom is hierdie boerdery deel van verskeie nuwe navorsingsprojekte. Aan die hand van hierdie resultate word die huidige stelsels aangepas en verbeter.
Beplanning in hierdie boerdery berus op gedetailleerde inligting. Die grond-
voedingstatus, die hoeveelheid vog in die grond asook die verwagte reënval, word as die belangrikste insette beskou om die beoogde opbrengste te bepaal. Met dit bekend, word die stropermonitoropbrengskaarte asook gedetailleerde grond ontledingskaarte gebruik om die bemestingsaanbeve-
lings mee te doen. Die bemesting word dan variërend toegedien.
Om net te produseer en nie baie aandag aan graanprysbestuur te gee nie, lei tot moeilikheid. Om verby hierdie hekkie te kom, bepaal Janes elke jaar hoeveel dit hom gaan kos om ‘n hektaar te verbou.
Dié inligting word dan gebruik om die graanverskansingsvlakke te bepaal. Alle moontlike verskansingsinstrumente word aangewend in die graanprys-
bestuur. Op ‘n stadium moet hul die fisiese graan verkoop, maar daar word gepoog om soveel as moontlik van die verbruikersrand in die hande te kry. Deur self hul mielies op te berg en later te verkoop, hou vir hul finansiële voordele in.
Vlakplaas Boerdery se bestuurders probeer altyd proaktief optree en om nuwe dinge te toets. Hierdie beleid het aanleiding gegee tot groot verande-
ringe wat oor tyd op Vlakplaas geïmplementeer is.
Vanjaar gaan gepoog word om volgende jaar se fosfaatbemesting direk ná die stroper uit te strooi en in te werk soos die bewerkings gedoen word. Vanjaar is die bobemesting met strooiers uitgestrooi en met rygewasskoffels ingewerk. Hierdie aksie het baie vinniger as die konvensionele praktyke verloop en al die bemestingstowwe kon tydig toegedien word.
Elkeen het sy eie verantwoordelikheid
Elke broer het sy eie verantwoordelikhede ten opsigte van die boerdery. Abraham sorg vir die ysters en masjiene se instandhouding, terwyl Kobus
die vee hanteer. Met planttyd werk hul almal soos ‘n goed geoliede masjien saam om die take so effektief en doeltreffend moontlik afgehandel te kry.
Om so lekker saam te werk, vereis dat hul mekaar se sienings respekteer, uitluister en debatteer. Dit het tot gevolg dat beter besluite geneem kan word en dat daar nie verwyte ná die tyd rondgegooi kan word nie. Op die ou end lê die finale besluit by die persoon wat die spesifieke afdeling of taak se verantwoordelikheid dra. Deur gereeld met mekaar te praat en om daagliks om ‘n tafel te sit, verseker dat goeie verhoudinge gehandhaaf word.
Regdeur die jaar bly almal betrokke by die graanverbouing alhoewel hul soms op hul eie afdelings sal fokus. Die selfaangedrewe hoogloopspuite waarmee onkruiddoders en plaagdoders toegedien word en wat deur hul-
self bestuur word, is ‘n hulpmiddel wat dit vir hul moontlik maak om foute beter raak te sien, aan te teken en reg te stel as dit moet.
Janes wend ook sy stokperdjie, naamlik vlieg, aan om die boerdery te kontro-
leer. Met ‘n mikroligtevliegtuig kan hy al die lande binne ‘n uur deurgaan en sodoende kan die nodige aanpassings (indien nodig en moontlik) gemaak word.
Deur net om die land met ‘n bakkie te ry, kan tot baie groot verdriet aanlei-
ding gee. Deur te inspekteer en te meet, weet hul wat die oes behoort te wees en hierdeur kan die bemarkingsproses beter bestuur word. Alle bewerkings word gereeld, soos dit gedoen word, gekontroleer. ‘n Grond verdig tings meter word byvoorbeeld gebruik om die bewerkingsaksies te evalueer.
Alles in hul vermoë word gedoen om alle werk tydig af te handel. Die plantvenster in hierdie gebied is beperk en daarom moet daar genoeg slaankrag wees om die plantproses tydig af te handel. Voor die oes in die grond gesit kan word, moet alle aksies geneem word om die beste oes te verseker.
Die opbrengs per hektaar word deur die beperkende faktor bepaal. As dit
is omdat die grond te vlak bewerk is, kan geen verandering aan die situasie gemaak word nie. Die probleem kan dus eers die volgende seisoen aange-
spreek word.
Om seker te maak dat aksies binne die gewenste tye afgehandel word, kan daar soms drastiese stappe gedoen word wat op die oog af na ‘n verkeerde besluit kan lyk. Hulle het byvoorbeeld vanjaar ‘n addisionele selfaangedrewe hoogloopspuit aangeskaf.
Voor die aankoop van die spuit, het hul geweet dat daar volgens bereke-
ninge voldoende spuitkapasiteit op die plaas bestaan, maar met hierdie kort seisoen was hul baie dankbaar dat die spuit beskikbaar was. Dit het daartoe gelei dat die onkruiddoders tydig toegedien kon word. Met die reën en die baie nat lande moes hul vinnig kon spuit terwyl die toestande gunstig was. Die geleentheidskoste of die verlies indien iets nie gedoen word nie, moet ook vir elke aksie bepaal word. Dié stap sal tot beter besluitneming aanlei-
ding gee.
Moenie te veel wil spaar nie
Hulle het agtergekom dat hul opbrengs inboet deur te veel te wil spaar. Vanjaar, met die aalwurms, het hul dit weer gesien. Deur ‘n klompie geld ekstra per hektaar te spandeer en ekstra insette te koop, het hul ten minste 2 ton ekstra gewen.
Volgens hulle is die plant- en spuitaksies die belangrikste op die plaas. Daarom poog hul om die planters voor plantseisoen volledig te versien en reg te maak om sodoende te sorg dat die pitte op die regte diepte en regte afstand in die ry geplaas word. Alle plantereenhede word ook voor die seisoen nagegaan, versien en ingestel.
Omdat onkruid die effektiwiteit van die gewasse benadeel, word alles
in hul vermoë gedoen om onkruid vroeg te beheer. Die spuite wat hierdie onkruiddoders moet toedien, word ook gereeld nagegaan en versien.
Veevertakking
Vee vorm ‘n integrale deel van die boerdery en Kobus neem in totaliteit die verantwoordelikheid van hierdie vertakking. Tog word die beplanning en die inskakeling daarvan met die res van die boerdery, deur Janes gedoen. Die vee word nie toegelaat om die oesreste te bewei nie en die oesreste word net so tot voordeel van die gewasse aangewend.
Publication: March 2012
Section: Other Articles