September 2017
Die vorige deel van die reeks het gehandel oor die risiko’s wat produsente in ag moet neem wanneer hulle bemarkings- en verskansingsbesluite neem. Hierdie risiko’s strek vanaf prys- en produksierisiko tot en met finansiële risiko, met meer spesifieke verwysing na kontantvloeirisiko.
Dit is vir produsente belangrik om die verskillende risiko’s in ag te neem wanneer hulle bemarkings- en verskansingsbesluite neem, aangesien hierdie risiko’s in die meeste gevalle direkte betrekking op hul besighede het.
In Deel 3 van die reeks word daar gefokus op die verskillende alternatiewe wat produsente kan oorweeg wanneer hulle verskansings- en bemarkingsbesluite neem. Daar is menige alternatiewe wat gebruik kan word om die prysrisiko te bestuur. Hierdie alternatiewe strek vanaf eenvoudige afgeleide instrumente tot en met ingewikkelde strategieë wat in kombinasie met mekaar gebruik kan word om die risiko te beperk (of doen dit?) en ook om beter winste te genereer.
Wat is die doel?
Wanneer daar gekyk word na die betekenis van verskansing, is dit duidelik dat dit beteken om jouself te beskerm teen iets ongunstigs. In hierdie geval sal die beskerming wees teen ongunstige prysbewegings. Vir ‘n produsent sal ‘n ongunstige prysbeweging ‘n prysdaling wees en die produsent wil homself daarteen beskerm.
Hy kan dit doen deur gebruik te maak van verkeie beskikbare alternatiewe en hierdie alternatiewe kan afgeleide instrumente op die Safex-mark wees, asook diversifikasie van gewasse.
Die doelstellings van die verskansingstrategieë sal van individu tot individu verskil – afhangende van faktore soos die besigheid se finansiële posisie, die individu se kennis rakende die gebruik en werking van die instrumente, sowel as die individu se risiko-aptyt.
Dit is egter duidelik dat daar nie een goue middeweg is wat vir almal gaan werk en wat almal suksesvol gaan implementeer nie, maar dat produsente self hul doelstellings moet gaan vasstel en strategieë oorweeg wat maklik by hul doelstellings, sowel as bestuursprogramme, sal inpas.
Die volgende is algemene faktore wat produsente in gedagte moet hou wanneer hulle die strategieë oorweeg.
Risikobestuur
Risikobestuur moet die heel eerste aspek wees wat die produsent in ag moet neem wanneer daar besluite geneem word rakende die verskansingstrategieë wat gebruik word. Identifiseer die moontlike risiko in die mark waarteen jy jouself wil beskerm en vergelyk dit met die uitkoms wat verkry kan word indien die risiko nie verskans is nie en dit wel uitspeel.
Hoe word die veranderlike kostes gedek?
Die dekking van veranderlike kostes (direkte koste vir die produksie van die gewas) is baie belangrik om heel eerste te dek. Produsente moet daarom goed vertroud wees met presies wat die kostes beloop en sodoende kan daar ook makliker strategieë geïdentifiseer word wat hierdie kostes kan dek. Probeer sover moontlik deur middel van verskansing om eers die veranderlike kostes te dek.
Rand per hektaar of rand per ton?
Produsente benader bemarking en verskansing op verskillende wyses en een goeie oorweging waarop gelet kan word, is om inkomste te sien op ‘n rand per hektaar eerder as ‘n rand per ton basis. Dit sal die produsent meer laat fokus op die winsgewendheid per hektaar eerder as die prys per ton.
Emosie en persoonlikheidstipe
Emosie, sowel as die individu se persoonlikheid, speel ‘n groot rol wanneer dit by die neem van bemarkingsbesluite kom. Die produsent moet bemarkingsbesluite so objektief moontlik neem met die fokus op die doelstelling – wat eerstens die risikobeperking en die dekking van veranderlike kostes insluit.
Vermy onbekende strategieë
Dit is belangrik dat produsente sover moontlik van strategieë gebruik sal maak waarmee hulle vertroud is. Daar is baie verskillende strategieë wat saamgestel kan word en baie belowend lyk. Maak seker dat jy presies vertroud is met wat die risiko verbonde aan die strategie is en dat dit jou nie later onverhoeds betrap nie.
Bemarkingsalternatiewe
Alternatiewe wat deur produsente oorweeg kan word, is onder andere vastepryskontrakte, minimumpryskontrakte en kontrakte wat beide minimums en maksimums insluit. Hierdie kontrakte kan almal met groot sukses geïmplementeer word om die produsent se prysrisiko te bestuur en ook die winsgewendheid van die besigheid te verseker. In kort kan hierdie alternatiewe soos volg verduidelik word.
Vastepryskontrakte
Dit verwys na kontrakte waar die produsent die prys wat hy sal ontvang, vasmaak sodat hy van hierdie prys verseker sal wees wanneer die produk uiteindelik gelewer word.
Met die gebruik van hierdie verskansingsalternatief sal die produsent egter verplig wees om die verskanste hoeveelheid graan teen die spesifieke tydperk wanner die kontrak verstryk, te lewer. Die produsent se prysrisiko met die gebruik van hierdie kontrak is beperk, asook die moontlikheid om te deel in ‘n opwaartse prys indien die prys moontlik tot en met lewering sou toeneem.
Minimumpryskontrakte
Met die minimumkontrakstrategie sal die produsent vir homself ‘n minimum prys vasstel waarteen hy sy graan teen leweringstyd sal verkoop. Hierdie strategie se bemarkingskostes is gewoonlik effens duurder as dié van ander beskikbare strategieë en dit ontmoedig in die meerderheid gevalle die produsente om van hierdie strategie gebruik te maak.
Dit moet egter nie die geval wees nie, aangesien hierdie strategie die produsent se risiko beperk tot op ‘n sekere minimum vlak en hom ook geleentheid bied om te deel in ‘n moontlike positiewe prysbeweging sou die mark só reageer tot en met lewering.
Hierdie kontrakte bied ook aan produsente verskansing teen produksierisiko. Sou die produsent nie verskanste tonne kon lewer nie, geniet die produsent nie die groot produksierisikokomponent soos met die vastepryskontrak nie.
Minimum-/maksimumkontrakte
Hierdie kontrakte bied aan die produsent die geleentheid om die prys van die graan binne ‘n sekere bandwydte te verskans. Hierdie tipe strategieë word hoofsaaklik gebruik met die doel om die bemarkingskoste effens te beperk, maar jouself steeds te beskerm teen ongunstige prysbewegings en ook baat te vind by stygende pryse.
Die produsent kan egter net tot op ‘n sekere punt voordeel trek uit versterkende pryse en dit is die maksimum vlak wat bereik kan word.
Bogemelde kontrakte dui slegs basiese kontrakte aan wat gesluit kan word wanneer die produsent die verskansing oorweeg. Ten einde so ‘n tipe kontrak te bewerkstellig, is daar verskeie afgeleide instrumente wat gebruik kan word om hierdie kontrakte in plek te kry.
Hierdie afgeleide instrumente sluit in die gebruik van gewone termynkontrakte asook opsiekontrakte wat koop (call-opsie)- en verkoop (put-opsie)-opsies insluit. Dit kan of apart en/of in kombinasie met mekaar gebruik word ten einde die korrekte doel met die verskansing te bereik.
Basiese roetinestrategieë
Produsente het in die meeste gevalle nie die tyd en diepgaande kennis rakende die werking van verskillende kontrakte om ingewikkelde strategieë aan te wend nie. Daar moet daarom na ander alternatiewe wat maklik verstaanbaar en bruikbaar vir produsente is, gekyk word.
Die gebruik van roetinestrategieë is een manier hoe hierdie probleem van tyd tot ‘n groot mate deur produsente omseil kan word. Roetinestrategieë kan suksesvol toegepas word sonder die diepgaande kennis van die markte en strategieë.
Produsente hoef derhalwe dan ook nie volgehoue marknavorsing te doen nie, aangesien die roetinestrategie van só ‘n aard is dat dieselfde strategie op ‘n jaarlikse basis gebruik word om ten minste die veranderlike kostes te dek.
Verskeie studies rakende graanbemarking het al getoon dat verskillende verskansingstrategieë wel suksesvol op roetinebasis aangewend kan word en dat dit beter vir produsente is om enige strategie te volg eerder as geen strategie nie.
Met die roetinestrategie maak die produsent vir hom op sekere kritieke tye in die verloop van die seisoen vas wanneer hy verskansing doen. Die strategie word dan op min of meer dieselfde tyd elke jaar toegepas.
Dit bevorder objektiewe besluitneming en verseker dat die produsent die emosie sover moontlik uit die besluit haal. Die strategieë wat vir roetineverskansing oorweeg word, moet die produsent se risiko sover moontlik beperk, terwyl hy steeds met redelike gemak die gewas se direkte produksiekoste kan dek.
Met die gebruik van roetinestrategieë sal die produsent een jaar die kostes makliker kan dek en meer wins maak, terwyl hy waarskynlik in ‘n ander jaar weer effens swakker af sal wees. Die doel van die roetinestrategie is egter om die risiko oor ‘n tyd te verminder en in ‘n gewoonte te kom om ten minte die produksiekoste vooraf op ‘n jaarlikse basis te verskans.
Kyk na berekeninge
Produsente moet wel goed vertroud wees met die kostes van produksie sodat hul vir hulself minimumpryse en opbrengspeile kan vasstel waarteen hulle moet verskans om die direkte kostes te kan dek.
Een goeie maatstaaf wat gebruik kan word, is sensitiwiteitsanalises wat dui op wát die verskillende pryse per ton moet wees om die kostes teen die verskillende opbrengspeile te dek.
Tabel 1 toon ‘n voorbeeld van ‘n sensitiwiteitsanalise vir ‘n mieliebedryfstak met direkte kostes van R7 200/ha en ‘n gemiddelde opbrengs van 4 t/ha. Die liggingsdifferensiaalaftrekking beloop R216/ton.
Uit die sensitiwiteitsanalise is dit duidelik dat die minimum Safex-prys wat die produsent teen 4 t/ha kan ontvang, gelyk is aan
R2 020/ton. Die produsent kan egter deur gebruik te maak van hierdie tipe berekeninge goed vasstel teen watter opbrengs en prys die minimum is waarvoor hy ‘n kontrak kan vasmaak om die veranderlike kostes te dek.
Een belangrike aspek om hier in gedagte te hou, is die plaas se langtermyn-gemiddelde opbrengs. Hieruit kan bepaal word watter persentasie van die plaas se huidige langtermyn-gemiddelde opbrengs teen die huidige Safex-prys verskans moet word om die veranderlike kostes te dek.
Indien daar ‘n groot persentasie van die langtermyn-gemiddelde opbrengs verskans moet word om die veranderlike kostes te dek, weet die produsent dat sy produksierisikokomponent vir die seisoen redelik groot is, terwyl ‘n lae persentasie benodig van die langtermyn-gemiddelde opbrengs dui op minder produksierisiko en dan kan die strategie waarskynlik met meer gemak uitgevoer word.
Ten slotte
Dit is van uiterste belang dat produsente die verskillende strategieë wat beskikbaar is, moet oorweeg wanneer hulle bemarkingsbesluite neem. Risikobestuur moet die as wees waarom hierdie besluite draai en moet ook as die hoofdoel gesien word waarom hierdie besluite geneem word. Oorweeg die opsies, weeg die moontlikhede teenoor mekaar op en neem die besluite so objektief as moontlik.
In die volgende aflewering van die reeks sal die gebruik van termynkontrakte meer diepgaande bespreek word.
Publication: September 2017
Section: On farm level