• Login
  • Search Icon

Bemagtigingsmodelle wat in die Wes-Kaap werk: Deel 2b

April 2015

STEPHANUS RICHTER, produsent, Windheuwel en Genadeshoop Boerderye, Piketberg

In die eerste deel van hierdie artikel (in die Maart-uitgawe van SA Graan/Grain) is na die eerste stappe gekyk wat hulle op Windheuwel en Genadeshoop Boerderye gevolg het: Vergifnis, opoffering, opleiding, eie grond/sekuriteit en eienaarskap.

Die res van die stappe word vervolgens bespreek.

Stap 6 en 7: Ondersteuning

Die kontrakteurs het ondersteuning nodig en hulp moet verleen word sodat hulle so goed as moontlik in hul kontrakarea kan werk, met behulp van byvoorbeeld beter tegnologie (GPS) sodat ander tyd/koste-besparende aksies toegepas kan word.

Dit is hier waar langtermynfinansiering nodig is. Dit is egter afwesig in Suid-Afrika by tradisionele banke en bly ‘n groot uit daging. ‘n Mens wil nou graag wegbeweeg vanaf krisisbeheer na langtermynvoorkoming.

‘n Werkswinkelbestuurder is aangestel wat moes toesien dat alle dienste getrou gedoen word en dat alle toerusting altyd reg is vir werk. Die werkswinkel moet toerusting in sekere tydgleuwe diens. Buiten kontrakwerk, is daar ook baie ander take op die plaas wat gedoen moet word (onderhoudswerk, diere, voer en draadwerk). Daar is besluit op ‘n uur/dagloon.

Die begunstigdes is die vryheid gegun om self te besluit wat hulle wou doen, maar met die verstandhouding van geen werk geen betaling. Die vennote van verskillende besighede moes nou leer om goed, hard en effektief met mekaar saam te werk. Soms word ander kennisse wat behoeftig is gevra om sekere werke onder kontrak te doen.

Op Donderdae word vir die volgende week beplan en word dit in die bymekaarkomplek op ‘n kennisgewingbord geskryf. Elkeen van die manne is gemotiveerd om hard te werk en ekstra te doen, sodat hulle die voordeel kan trek om so gou moontlik toerusting af te betaal en dan “een voor” te wees.

Namate masjinerie afbetaal word, kan die individu beter toerusting aanskaf, wat hom weer in ‘n beter (meer hektare teen laer kostes) posisie plaas. As masjinerie afbetaal is, sal daar groter winste toon, wat begunstigdes se lewenstandaarde baie sal lig.

Die uitdaging vir die individu is om nou gefokus skuld af te handel. Geen uitgawes buite die begroting moet aangegaan word nie.

Eerste dinge eerste. Die versekering moet egter gegee word dat die manne wat die plantkontrakte het, byvoorbeeld altyd die planterkontrakte sal kry, die stropermanne die stroperkontrakte, die transportman die transportkontrakte en die spuitman die spuitkontrakte. Elkeen is dus verseker van hul funksie in die besigheid, so lank as wat die kontrakte goed gediens word.

Hierdie kontrakte word elke sewe jaar heroorweeg. Die eerste termyn is tot ‘n groot mate ‘n toets vir pa en seun. ‘n Mens sal nou sien of die wil, dissipline en die regte, positiewe gesindheid daar is. Met die tweede termyn, word dit egter verleng tot 14 jaar, omdat die toets dan reeds geslaag is.

Solank as wat die gesindheid en verhoudings op plaas reg is, sal daar nooit werk agterweë gelaat word nie. Elke persoon het egter self die vryheid om te kies waar hy sy gewig wil ingooi, maar liefde sonder dade is nie liefde nie. As mens dus oor tyd selfgesentreerd aanhou om jouself, jou emosies, begeertes en gevoelens voorop te stel en die res van die familie tweede, gaan jy jouself uitwerk.

“Papierwerk” en administrasie bly altyd ‘n uitdaging. ‘n Gemeenskaplike finansiële administrateur asook ‘n finansiële konsultant/bestuurder, is aangestel. Alle boerderygegewens, rekeninge, kontrakure/fooie en dae gewerk op watter plaas, word nou weekliks op datum gehou, terwyl die finansiële bestuurder elke Vrydag 'n verslag voorhou van presies waar elke boerdery, maar ook elke individu, teenoor sy begroting staan.

Met tyd sal besef word hoe belangrik dit vir vennote is om hierdie inligting deurentyd te hê, om sodoende op ‘n ingeligte wyse besluite te kan neem. Daar is ‘n reëling dat een persoon (die voorsitter) teen ekstra vergoeding almal help dat hulle gegewens reg en betyds deurgegee word.

Dit is vir almal belangrik dat daar een finansiële kantoor is wat almal diens en omdat ons inmekaargevleg is, moet almal ‘n bydrae maak om salarisse aan die finansiële kantoor te betaal. Só kan hierdie koste vir almal laer gehou word. Vanaf die finansiële kantoor se kant kan hulle weer beding vir ‘n beter prys by ‘n boekhouer en vir ‘n belastingopgawe. ‘n Samewerkingsooreenkoms is tussen die onderskeie besighede opgestel.

In ons geval, het manne die gebruik van die werf om hulle besigheid vanaf te bedryf, verblyf in huise asook die stoor van toerusting in store, mentorskap en ook hulp met sekuriteit (plaaskoop), in ruil daarvoor dat:

  • Elkeen self vir sy huis/erf verantwoordelikheid neem vir die instandhouding en verbetering daarvan.
  • Ook is elkeen verantwoordelik vir eie krag/water/vullisverwydering.
  • Elkeen het ook ‘n verpligting om die verantwoordelikheid te neem vir die area op die werf waar sy toerusting gehou word en om dit netjies te hou.
  • Werf-, plaas- en huisreëls, wat redelik streng is, om ‘n hoë standaard te handhaaf, moet deurlopend eerbiedig word.

Hierdie samewerkingsooreenkoms word jaarliks hersien. Daar is egter ook ooreengekom dat wanneer toerusting afbetaal is, die kontrakteur dan vorentoe huur gaan betaal vir stoorplek. Dit is ‘n motivering om groter te dink en te spaar vir byvoorbeeld 'n industriële erf. Ook om ‘n eie plaas af te betaal en nog ‘n plaas met store aan te skaf.

Dit is baie belangrik dat die finansiële kantoor beman word deur hulpvaardige mense met groot harte. Hulle speel ‘n baie groot rol in elkeen van hierdie mense se lewens; nie net in elkeen se besigheid nie, maar ook in hulle persoonlike lewens.

Deur gawes en talente saam te gooi, betaal ‘n mens baie minder skoolgeld en kan elkeen ook sy roeping meer gefokus beman. Elkeen kan dus sy funksie vervolmaak.

Onthou: Ons is nie saamgevoeg of geroep om mekaar se sakke vol te maak nie. Ons is geroep om ander in ‘n verhouding met God te kry en hulle dan by te staan om hulle Godgegewe roeping uit te leef.

image

Stap 8: Afronding

Al die projekte/besighede moet nou vervolmaak word, sodat nuwes bygeneem kan word. Daar kan geleenthede bygevat word, maar moenie bestaande projekte verstadig nie. Dis hier waar ons nou is in ons proses en ons werk met ‘n sewejaar-plan vir ons besighede.

Ons moes ‘n kollektiewe “managing/bank” stig om al die langtermynbehoeftes te bevredig. Windheuwel voorsien dus sekuriteit, bestuur en ondersteuning aan elke lid, terwyl Genadeshoop die operasionele gedeelte beman.

In die kort termyn moet toerusting afbetaal word, maar daar moet nou al weggesit begin word vir langtermynbehoeftes. Ons ondersoek die moontlikheid om aandele in besighede aan familielede beskikbaar te stel.

Hierdie aandele kan individue help om hul vervanging (sekuriteit) te doen, maar ook om met aftrede dividende te ontvang. Dit is egter nog iets waarnatoe ons beweeg. Ook moet seuns se oorname en pa’s se betrokkenheid ná aftrede reg bestuur word.

Ontwikkel en groei om doelwitte te bereik. Boerderye word nie meer net beskou as besighede waardeur geld gemaak kan word nie, maar eerder projekte om mense te plaas, te bekwaam, te vestig en te ondersteun, sodat almal kan gedy.

Besighede sal groei namate mense groei. Algehele ferm verantwoordelikheid moet deur leiers van families gevat word. Almal moet so goed as kan versorg word in hulle verskillende ouderdomsgroepe.

Kinders begin nou trou en gaan huise en groter inkomste vereis. Dit is normaal en moet volwasse hanteer word. Daar is mos 'n familiekultuur en dit is ons hart dat ons almal as gesinne saam leef, saam speel, saam werk en saam oud word, tot eer en verheerliking van sy Naam.

image

Voorlaaste woord

Soos genoem was daar in die beginjare geen hulp van buitebesighede nie. Dit was goed vir verhoudings en ook om vas te lê in jou hart vir watter redes jy die pad stap. Ek dink terug en besef dat al die kontantvloeikrisisse, al die naels kou en agteroorbuig absoluut die moeite werd was.

Dit het ons as familie saamgebind en ‘n band gevorm wat vorentoe nodig sou wees om die groot uitdagings wat voorgelê het (onder andere grondhervorming), te oorbrug. Ons het die wonderlikste mense op hierdie moeilike pad ontmoet en baie dankie aan julle almal vir julle liefde, hulp en ondersteuning.

Al die besoeke en vergaderings wat mnr Toit Wessels (ledebemarking en kommunikasiebeampte, Graan SA) en Liana Stroebel (ontwikkelings koördineerder, Graan SA) so onbaatsugtig aanhou doen, het baie keer die wa deur die drif getrek.

Goeie opleiding en insiggewende vergaderings het ons telkemale weer eens gemotiveer en ook gedien as ‘n platform waar ander projekte se nuwe era produsente ontmoet kon word om skouers te skuur. Toit en Liana se name moet in die Wes-Kaap se anale neergeskryf word, vir die herstel en groei wat hulle bewerk in verhoudings.

Wat staatshulp betref: Dit bly altyd ‘n uitdaging omdat hulle kriteria en reëls redelik baie verander. Die deurslaggewende faktor is om met jou plaaslike landbouvoorligter saam te werk. Oor al die jare is Genadeshoop gehelp met R1,5 miljoen vir produksie-insette en R1 miljoen vir masjinerie.

Daar was baie aansoeke wat goedgekeur is, maar wat nooit deur die staat uitbetaal is nie. Ook was daar aanvanklik gevra om 'n vyfjaar-plan te gee met ‘n uitkomstrategie.

Dit het die illusie geskep dat daar by die vyfjaar-plan gehou sou word van die staat se kant af.

Dit was nie die geval nie en ons moes maar saamstaan en help om kop bo water te hou. Ons het onnodig ons eie tyd gemors deur ons voetjies te stamp, net om weer self saam skouer aan die wiel te moes sit.

Moet dus geensins jou beplanning of begroting opstel deur aansoeke in ag te neem nie. Laat dit ‘n aangename verrassing wees as iets van hulle kant af kom. Ons weet mos wie ons Bron is.

Moet ook nie jou vertroue in ander boerderybesighede (gifmaatskappye, kunsmismaatskappye, dieselverskaffers, masjineriefirmas, banke, graanbemarkingsbesighede en land bou maatskappy) plaas vir hulp nie. Dit sal jou een teleurstelling op die ander spaar. Dit is nie die skade in verhoudings werd om ander onder druk te sit nie.

Wees lief vir almal en hou maar jou oë op die Bron – God. Sonder om sarkasties te wil wees, sien ek dit as my voorreg om op Hom te vertrou en nie ander se arm te draai nie. As hulle dit nie sien as 'n geleentheid (Jes 40:3 - 5) en hoogtyd om meer betrokke te raak in die red van ons land nie, is dit hulle saak. Die tyd van praat is verby.

Afsluiting: God eerste

Ek wil die eer by die Here hou, maar moet weer eens noem dat Hy baie van sy wonderlike kinders op die regte tye in ons lewens gestuur het, om ons te neem van een stap tot ‘n volgende. Prys die Here vir sy koningryk wat reeds heers op aarde.

Omdat daar baie energie en geld in hierdie projekte ingaan, is dit moeilik om goed voorsiening te maak vir die oudag (in die vorm van geld), maar ons begin sien dat daar geliefdes om ons is wat die behoefte het om na ons om te sien.

Die onus rus swaar op produsente om grondhervorming te maak werk. As produsent is ek egter al gewoond om die minste in die waardeketting te wees. Maar wie eerste is, sal laaste wees, sê die Here.

Daar is nie eintlik ‘n keuse oor wat gedoen behoort te word nie. Dit is ‘n gegewe. Almal van ons is klaar betrokke. Of dit suksesvol gaan wees, hang van onsself af. Hierdie stelsel hierbo genoem is ons storie en ons weet dit is vir mense wat leef vir dinge wat ewigheidswaarde het.

Jy sal moet glo en vertrou dat jy ná hierdie lewe jou eintlike beloning sal beërwe. Ook dat jou nageslag nie geld en besittings nodig het om ‘n gesonde, vol lewe te ervaar nie, maar goeie ondersteuningsnetwerke/verhoudings/vriendskappe, mense in hulle roepings rondom hulle.

‘n Produsent/landbouer moet dus daarop gerig wees om mense te respekteer/eer vir hulle gawes/vir hulle ‘n geleentheid te skep/te ondersteun en saam te groei in ons verhoudings met mekaar en met ons God. “It’s in our serving that we receive the gift of our own restoration.”

Ek merk dat baie medeprodusente, landboubesighede en politici nou in vrees veg vir hulle posisie. Ook in vrees optree en in 'n magstryd gewikkel is op hulle plase, met mekaar en met politici. Miskien is hulle bang dat daar nie lase/eiendom/geld en geleenthede is vir almal nie.

Ons moes ook hierdie vrese deurwerk. Jesus wys egter dat Hy met vyf broodjies en twee vissies meer as genoeg vir almal kon bewerk. Ons mag nie tyd mors met magstryde nie. Los dit vir diegene wat nog nie hulle identiteit in Christus gevind het nie. Daar sal altyd hulle wees wat mense afbreek/misbruik, laat ons maar net heeltyd mense bou en dissipel, vinniger as wat hulle afbreek.

Die drie lesse wat ons by Hom leer is: Dit jou werklik gelukkiger maak om te gee as om te ontvang; dat wat jy saai, jy sal maai; en dat Hy absoluut in beheer is van alles.

Deur die hulp van ons Vader, Jesus Christus en die werking van die Heilige Gees, gaan ons in geloof voort en bid seën toe vir ons land en sy mense.

Publication: April 2015

Section: Grain SA

Search