April 2014
BELINDA JANSE VAN RENSBURG en BRADLEY FLETT, LNR-Instituut vir Graangewasse
Die veroorsakende patogeen van bakteriese blaarstreep is Xanthomonas campestris pv. zeae. Hierdie siekte is die eerste keer in 1949 in Suid-Afrika gerapporteer. Tot dusver is mielies (Zea mays) die enigste bekende gasheer.
Voorkoms en verspreiding
Daar is tans min inligting beskikbaar oor hierdie siekte. Bakteriese blaarstreep is tot dusver nog net in Suid-Afrika aangemeld en kom hoofsaaklik in warm, droë mielieproduksiegebiede (Figuur 1) voor, soos die Noordwes Provinsie, Noord-Vrystaat en suid-westelike dele van Gauteng.
Dit is ook al opgemerk in sekere saadproduksiedele van die land. Daar is die afgelope paar jaar ‘n toename in die erns en voorkoms van bakteriese blaarstreep in mielies en dit is dus vir ons van belang om hierdie siekte te bestudeer om beheerstrategieë te bepaal.
Die siekte is wisselvallig en daar is groot seisoenseffekte opgemerk rakende die siektegraad. Navorsing is tans onderweg om die siekte se potensiële opbrengsverliese oor tyd te bepaal.
Ekonomiese belangrikheid en epidemiologie
Bakteriese blaarstreep kan in sommige gevalle tot 40% voortydige verbruining en uitdroging van blare tot gevolg hê
(Foto 1), wat moontlik tot verliese in graanopbrengs kan lei. Tot op hede is verlies aan opbrengs as gevolg van bakteriese blaarstreep nog nie gekwantifiseer nie.
Daar is min bekend oor die epidemiologie van die siekte. Baie bespiegelings bestaan, maar min gepubliseerde bewyse van die verskeie faktore wat die siektesiklus beïnvloed nie. Tans maak ons staat op observasies en die klein bietjie navorsing wat daarop gedoen is.
Bakteriese blaarstreep kan moontlik vir ‘n hele aantal maande in oesreste oorleef en dus jong mielieplante infekteer wanneer omgewingstoestande gunstig is. Bykomende bronne van inokulum kan in besproeiingswater asook reën teenwoordig wees. Die patogeen kan ook versprei deur plantluise, wind en wanneer plante met mekaar in aanraking kom as gevolg van wind, diere, meganisasie en menslike beweging.
Ons is tot dusver nog nie seker of hierdie bakterie saadgedraagd is nie. Dit hou belangrike ekonomiese implikasies in vir die saadbedryf en kommersiële uitvoere na ander lande toe. Primêre infeksies vind plaas in saailinge, terwyl sekondêre infeksies plaasvind op jonger blare tydens die groeiproses.
Bakterie sal die blaar binnedring deur ‘n natuurlike opening, soos huidmondjies en dit is dus waarskynlik dat die hoogste infeksie in die middel van die dag sal plaasvind wanneer huidmondjies heeltemal oop is. Kort nadat letsels ontwikkel, vorm bakteriese uitskeidings op die letsels. Verdere navorsing is nodig om die verspreiding van die patogeen asook die moontlikheid van saadgedraagdheid beter te verstaan.
Simptome
Simptome kan tydens alle groeifases van die mielieplant in die veld waargeneem word, alhoewel dit meer intens is tydens of net na blom. Aanvanklike blaarsimptome is donkergroen, oliedeurdrenkte strepe. Letsels is aanvanklik klein, maar vergroot later om smal, geelverkleurde (Foto 2), deurskynende strepe van 2 mm tot 3 mm wyd oor die hele blaar te vorm.
Dit is waar vroeër infestasies op jong plante voorkom en waar fotosintese ingeperk word wat latere graanvul negatief beïnvloed. Bakteriese blaarstreep kan maklik verwar word met grysblaarvlek van mielies. Grysblaarvlek en bakteriese blaarstreep word deur are in die blaar beperk. Grysblaarvlekletsels het ‘n reghoekige voorkoms (Foto 3), terwyl bakteriese blaarstreep se letselrande meer oneweredig is.
Dit word ook soms verwar met sonbrandskade (Foto 4) wat op sekere kultivars voorkom. Bakteriese blaarstreepletsels sal naderhand inmekaarvloei om verlengde kolle of strepe te vorm wat bruin tot gryswit kan vertoon met ‘n geel rand.
Blare wat erg besmet is met bakteriese blaarstreep sal uitmekaar uit skeur en dit sal dan soos haelskade lyk. Die maklikste manier om bakteriese blaarstreep uit te ken, is deur bakteriële uitskeidings in die vorm van klein druppeltjies wanneer blare nat is of tydens periodes van hoë humiditeit.
Beheermaatreëls
Omdat daar min inligting oor bakteriese blaarstreep beskikbaar is, is dit moeilik om spesifieke beheermaatreëls neer te pen. Daar word tans navorsing deur die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) gedoen in samewerking met die Noordwes-Universiteit om die siekte beter te verstaan. Op die oomblik is daar nog nie bestande kommersiële mieliebasters geïdentifiseer nie, maar prof Bradley Flett (van die LNR-IGG) het al groot verskille tussen basters in kommersiële aanplantings waargeneem.
Ons is tans op soek na kultivarproewe (wat statisties uitgelê is) wat bogenoemde simptome toon, om te monitor vir verskille in weerstand. Omdat mielies die enigste gedokumenteerde gasheer van bakteriese blaarstreep is waarvan ons bewus is, sal gewasrotasie help om inokulum van bakteriese blaarstreep laag te hou. Nog ‘n manier om bakteriese blaarstreep-inokulum te probeer beperk, is deur sanitasiepraktyke, soos die verwydering of vernietiging van oesreste en opslagplante. Dit sal die inokulum aan die begin van die plantseisoen verminder.
Die braak en drooglê van landery word ook aanbeveel as moontlike beheermaatreël. Dit is belangrik om kennis te neem dat geregistreerde mielie-swamdoders nie hierdie siekte onder beheer sal bring nie en duur bespuitingsprogramme dus nie ekonomies regverdigbaar is nie.
Dit is baie belangrik dat die regte siekte-identifikasie gemaak word alvorens daar op beheermaatreëls besluit word. Ons het al menige navraag en stories van produsente gekry wat toon dat verkeerde middels gespuit word om die siekte te keer. Daar is tans geen middel wat geregistreer is op bakteriese blaarstreep nie.
Kontakbesonderhede
Vir verdere inligting rakende bakteriese blaarstreep of grysblaarvlek van mielies, kontak vir dr Belinda Janse van Rensburg of prof Bradley Flett by 018 299 6100.
Publication: April 2014
Section: Input Overview