• Login
  • Search Icon

Aspekte wat in koringgradering opnuut aandag kan geniet

March 2013

image

WESSEL LEMMER, SENIOR EKONOOM: BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Die gebrek aan ondersteuning wat koringproduksie in Suid-Afrika by die Suid-Afrikaanse maal- en bakbedryf geniet, is vir koringprodusente ‘n bitter pil om te sluk. Veral in die lig daarvan dat die bedryf jare gelede ingestem het tot kultivarvrystellingsnorme om die gehalte van Suid-Afrikaanse koring te verbeter.

Een van die gevolge van langtermyn-koringteelprogramme wat dié norme nagevolg het, is dat Suid-Afrikaanse koring vandag wêreldwyd, gemeet teenoor Suid-Afrikaanse markbehoeftes, die beste maal- en bakkwaliteite het.

Maal- en bakkwaliteit

Tabel 1 gee ‘n oorsig oor hoe die maal- en bakkwaliteit van Suid-Afrikaanse koring met dié van ingevoerde koring oor vyf produksieseisoene vergelyk. Uit die tabel kan afgelei word dat laer kwaliteit koring ingevoer word en met plaaslike koring gemeng word om ‘n beter gemiddelde samestelling vir maal- en bakdoeleindes te verkry.

‘n Gekwalifiseerde verslapping van sekere graderingsnorme vir koring sal nie die maal- en bakkwaliteit van koring negatief beïnvloed nie, maar dit kan tot ‘n meer regverdige graderingsbestel vir die produsent in die markplek lei.

image

Witkoring

Die behoefte na witkoring wat besig is om in die maalmark te ontwikkel, vereis dat graderingsregulasies hiervoor oorweeg moet word.

Witkoring is bekend vir hoër ekstraksies en hou die belofte van hoër opbrengste as rooikoring in. Dié koring word veral onder besproeiing aangeplant. Die meeste witkoring word vanaf Australië ingevoer.

Kleur is deel van die graderingsregulasies in oorsese lande en wanneer witkoring en rooikoring gemeng word, gaan dit deur as Klas Ander koring. Die argument dat silo-opbergers nie bykomende grade of klasse kan hanteer nie, is besig om ondervang te word met alternatiewe opbergingsmetodes wat vinnig besig is om veld te wen. Daar sal uiteraard ‘n aparte kultivarlys vir rooikoring en witkoring moet wees.

Beskadigde koring

Daar is vier tipes beskadigde koring waaronder uitgeloopte koring ook getel word. Uitgeloopte koring behoort heeltemal uit die graderingsregulasies verwyder te word. Die valgetaltoerusting wat deesdae beskikbaar is om toetse te doen, is heeltemal voldoende.

Koring wat die valgetaltoets slaag, maar wat 3% tot 4% uitgeloopte koring bevat, was in die verlede na UT-koring afgegradeer. Die koring is egter volgens die valgetaltoets steeds as broodkoring vir maal- en bakdoeleindes bruikbaar.

Definisie van koring

Die definisie van koring moet in die huidige graderingsregulasies reggestel word deurdat daar slegs na die genus: Triticum, verwys moet word in stede van Triticum Aestivum.

Dit is slegs koring wat op die kultivarlys verskyn, wat in Suid-Afrika vir maal- en bakdoeleindes verkoop kan word. Koring wat verhandel word, moet ten minste uit 95% van die koringkultivars wat op die kultivarlys verskyn, bestaan.

‘n Besending koring wat meer as 5% koring bevat wat nie op die kultivarlys verskyn nie, mag nie in Suid-Afrika as graadkoring verhandel word nie. Sulke koring word as Klas Ander koring beskou.

Die meeste ingevoerde koring sal dus as Klas Ander koring klassifiseer. Dit impliseer dat ingevoerde koring slegs vir maaldoeleindes deur ‘n meule ingevoer en opgegradeer kan word.

‘n Handelaar of enigiemand anders sal dus nie koring kan invoer en met goeie kwaliteit plaaslike koring opgradeer om in die handel as graadkoring te verkoop nie. Die produk sal steeds as Klas Ander koring moet deurgaan. Ingevoerde koring mag ook nie onder die voorwendsel dat dit Suid-Afrikaanse koring is, verkoop word nie. Dit is onwettig.

Karnalbrand

Suid-Afrika geniet tans Karnalbrand-vrye status en daarom word die norme vir Karnalbrand nie vir insluiting in die graderingsregulasies oorweeg nie. Koring wat in lande soos Indië geproduseer word, wat nie oor ‘n Karnalbrand-vrye status beskik nie, kan nie na Suid-Afrika uitgevoer word nie. Indië het tans groot hoeveelhede surpluskoring beskikbaar vir uitvoere.

Hektoliter-massa-afsnypunte

Proteïenvlakke speel in die Suid-Afrikaanse markplek en in die graderingsregulasies vir broodkoring, ‘n groter bepalende rol as hektolitermassa. Suid-Afrika produseer in elk geval hoë hektoliter-massa-koring. Hektoliter-massa speel ook nie so ‘n groot rol in die opgradering van koring as proteïen nie. Die huidige afsnypunte vir hektoliter-massa, word in Tabel 2 gegee en behoort as sodanig behou te word.

image

Valgetal

Die toleransie vir valgetal by Graad B1, B2 en B3, is 30 sekondes. Teen ‘n valgetal van 200 sekondes, kan ‘n aanvaarbare brood steeds gebak word. Die valgetalvereistes is tans te hoog en die valgetal vir B1-, B2-, B3- en B4-graad behoort 200 sekondes te wees.

Landswambesmette koring

Die toegelate persentasie vir Fusarium is 2% en dit is ‘n aanvaarbare norm in die graderingsregulasies. Wat egter ‘n probleem raak, is die hantering van gryskwasente. Die swamme wat gryskwasente veroorsaak, is nie toksiese swamme nie. Gryskwasente is veral ‘n probleem tydens reën in oestyd. Die minimum toelaatbare grens vir gryskwasente in die broodkoringgrade, kan van 2% tot 5% verhoog word en vir Utiliteitsgraadkoring na 10%.

Sifsels

Dit gebeur telkemale dat die persentasie sifsels van ingevoerde koring die vereistes in die graderingsregulasies oorskry. Indien ingevoerde koring plaaslik op sifselinhoud gegradeer word, sal die koring na Utiliteitsgraad afgegradeer word.

Suid-Afrika het die strengste regulasie in dié verband ter wêreld. Neem ook in ag dat die siwwe wat in die VSA gespesifiseer word, ‘n deursnee van 1,6 mm het, terwyl plaaslike siwwe met ‘n 1,8 mm deursnee sif. Die hoeveelheid sifsels wat gekeer word met ‘n 1,6 mm deursnee sif, teenoor die 1,8 mm sif, is ongeveer die helfte meer. Die vereiste afsnypunt vir toelaatbare sifselinhoud behoort terug verander te word na 5% vir die broodkoringgrade (B1, B2, B3 en B4), maar vir Utiliteitsgraadkoring kan dit tot 10% verhoog word. Neem in ag dat koring op ‘n skoon basis gegradeer word.

Vergoeding vir koringkwaliteit

Dit word besef dat die inkomste uit koring nie deur veranderings aan die bestaande graderingsnorme verhoog kan word nie. Daar is egter die bogenoemde aspekte wat geen negatiewe impak op die maal- en bakkwaliteit van koring sou hê indien dit verlaag sou kon word nie. Daarom behoort dit ten minste aandag te geniet. Die vereistes vir die lewering van koring in Suid-Afrika, is eenvoudig te streng.

Premies vir koringkwaliteit

Die ontwikkeling van kultivars wat daartoe gelei het dat Suid-Afrika se maal- en bakkwaliteitwaardes van die hoogste ter wêreld is, ontsluit nie vir koringprodusente hoër inkomste soos verwag sou word nie. Dit word ondervind dat die meulenaarsbedryf en handelaars laer kwaliteit koring invoer om by plaaslike hoër kwaliteit koring in te meng om aan die vereiste vir die Chorleywood bakproses te voldoen.

Gevolglik word Suid-Afrika se hoëkwaliteitkoring teen laer gehalte ingevoerde koring in die mark geprys. Die maalbedryf ontvang die hoër koringgrade teen prysvlakke waarteen laer kwaliteit koring ingevoer word. Weens die markkrag aan die kant van die gekonsentreerde maal- en bakbedryf, is produsente nie by magte om premies vir hoër kwaliteit koring af te dwing nie. Suid-Afrika produseer te veel hoëkwaliteitkoring en waar surplusse heers, realiseer laer pryse.

Een van die oplossings kan wees dat hoëkwaliteitkoring op kontrakbasis verbou moet word. Sodoende word die produsent ten minste vir die hoër insetvereistes en bestuur vergoed. Voorstelle om byvoorbeeld die aantal koringrade van vier na drie toe te verminder, word ondersoek. Indien produsente nie vergoed word vir hoëkwaliteitkoring nie, is dit sinneloos om produksiekostes hiervoor aan te gaan.

Die behoefte is dan om eerder ‘n laer kwaliteit/graad koring met hoër opbrengste teen dieselfde prysrealisasie te produseer. Dit is bloot nie regverdig om te verwag dat hoëkwaliteitkoring op versoek van die maalbedryf teen marginale opbrengste onder uiterste klimaatstoestande geproduseer moet word, indien die einste bedryf nie die produksie van koring in Suid-Afrika wil ondersteun nie. Hier word spesifiek na kommentaar op Graan SA se koringtariefaansoek verwys.

Kultivarvrystellingsnorme

Die ooreengekome kultivarvrystellingsnorme bring dus nie die voordeel mee waarop produsente hoop nie en die maalbedryf is nie bereid om te betaal vir kwaliteitkoring nie. Dit sou beter wees om toegang tot ‘n hoër opbrengs, laer kwaliteit koring te hê. Die prysingsmeganisme op die Termynbeurs sal ook hierby moet aanpas sodat ‘n B1-graad nie as basisgraad gebruik word in prysbepaling nie.

Graan SA werk tans in samewerking met lede van die Koringforum aan oplossings om die afname in koringproduksie te probeer stuit.

– Met erkenning aan dr Sierk Ybema vir sy insette.

Publication: March 2013

Section: Markoorsig

Search