• Login
  • Search Icon

Argentynse en plaaslike praktyke in proewe vergelyk
Deel 3: Evaluering van sekere basiese grondeienskappe

July 2018

DR DANIE BEUKES, onafhanklike grondkundige en HERTZ EISELEN, AgriConsult Trust

In die Junie-uitgawe (Dele 1 en 2) is die agtergrond, proefpraktyke en opbrengste ten opsigte van die vergelyking van die Argentynse geenbewerkingspraktyke met plaaspraktyke in verskillende produksiegebiede bespreek. In hierdie artikel word gefokus op die evaluering van sekere basiese grondeienskappe, gemeet in die 2013/2014-seisoen, wat enersyds ‘n rol speel by die implementering van die Argentynse en plaaspraktyke, maar andersyds ook deur die implementering van hierdie praktyke beïnvloed is.

In die ooreenkoms tussen Graan SA en drie Argentynse maatskappye is besluit dat proewe op die volgende lokaliteite oor ‘n aantal seisoene heen uitgevoer sou word:

  • Settlers, in die Springbokvlakte, met ‘n warm semi-ariede klimaat, op ‘n swaar klei (turf)-grond;
  • Nigel, met ‘n koel, humiede klimaat, op ‘n diep sandleem- tot sandkleileemgrond;
  • Odendaalsrus, met ‘n warm, semi-ariede klimaat, op ‘n sand- tot sand­klei­leemgrond; en
  • Lichtenburg, met ‘n warm klimaat, op ‘n goed gedreineerde, diep sandklei­leemgrond.

Die produsentemedewerkers, naamlik mnre Willem Groothof (Good Hope, Settlers), Tony da Costa (Manjoh Ranch, Nigel), David Maree (Leeuwkuil, Odendaalsrus) en Arno van Vuuren (Lichtenburg) het ingewillig om proewe uit te voer waar die Argentynse direkte manier van plant in stoppelreste met nou plantrye en hoë plantdigthede met bestaande plaasstelsels onder verskeie gewasse vergelyk word.

Die Lichtenburg-proef is ongelukkig na twee seisoene gestaak en word nie ingesluit nie.

Basiese grondfisiese eienskappe
Die proefgronde (Tabel 1) het uit verskillende moedermateriale ontwikkel: Die Arcadia uit lawa en doleriet, die Hutton uit dolomiet en die Avalon uit eoliese sand wat neergelê is op kleierige verweerde materiaal wat swak dreineer. 

Dit het, onder andere, meegebring dat grondteksture grootliks tussen die proef­lokaliteite verskil – van 52% klei tot 7% klei vir Good Hope en Leeuwkuil, onderskeidelik. Die sandgronde van die noordwes-Vrystaat is bekend vir hul geneigdheid tot verdig­ting soos die toename in brutodigtheid met gronddiepte vir die Avalon-grond van Leeuwkuil bewys.

Vanweë sy sanderige tekstuur het laasgenoemde grond ook die kleinste hoeveelheid (146 mm per 1 200 mm profiel) plantbeskikbare water.

Grondtemperatuur
Op Manjoh Ranch is grondtemperature aaneenlopend op verskeie diepte-intervalle vanaf 50 mm tot 650 mm onder alle mieliestande gemeet. Lugtemperatuur is op 50 mm-hoogte bo die grond gemeet. 

In Grafiek 1 word daaglikse temperatuurskommelinge op 50 mm-diepte onder Plaas42K (rooi lyn) en Arg80K (blou lyn) met mekaar vergelyk. Beide die maksimum en minimum temperature onder Arg80K is laer as onder Plaas42K.

Een van die voordele van die koeler grond onder Arg80K is minder waterverlies as gevolg van direkte verdamping vanuit die grondoppervlak. Grafiek 2a en Grafiek 2b toon koeler grondprofiele tot op 650 mm-diepte in die oggend sowel as in die middag onder Arg80K (blou lyne). Van belang is die verskynsel dat lugtemperature op 50 mm-hoogte (-50 mm in grafiek) ook laer was onder Arg80K.

Foto 1a en Foto 1b toon dat die hoofrede vir die laer temperature onder Arg80K die skadu-effek van die geslote blaredak van die nou mielierye was, in vergelyking met die oop blaredak van die wyer rye van Plaas42K. Weens ‘n veldbrand in Augustus 2013 was daar ongelukkig geen stoppel beskikbaar in die 2013/2014-seisoen nie. 


Die gevolgtrekking word gemaak dat hierdie spesifieke Argentynse stelsel derhalwe kan bydra tot die vermindering van die effek van aardverwarming.

Grondkoolstof
As gewaardeerde medewerker het Omnia in April 2014 grond- en blaarmonsters op die proeflokaliteite geneem vir ontleding. In Grafiek 3 word bogrond (0 mm - 200 mm diepte)-koolstof (C) as ‘n funksie van gewas en stelsel voorgestel. 

Die oop simbole verwys na waardes soos onder die plaaspraktyke verkry. Op Good Hope, met die vorige seisoen se graansorghum as maatstaf, het die Argentynse stelsel hoër grond-C (1,17% - 0,92%) as die plaaspraktyk teweeggebring. Die laagste grond-C (0,83%) is verkry waar die vorige gewas sojabone was. 

Op Manjoh Ranch het grond-C, teen die verwagting in, onder die Argentynse stelsel afgeneem, soos wat plantestande van mielies van 40 000/ha tot 80 000/ha verhoog het. Plaas42K het soortgelyke grond-C as Arg42K gelewer. 

Op Leeuwkuil het die Argentynse stelsel gemiddeld 0,28% grond-C gelewer teenoor die 0,13% grond-C van die plaaspraktyk, 
met beide stelsels in 2013/2014 onder mielies.

Samevatting
Die grondtemperatuurstudie onder mielies op Manjoh Ranch het getoon dat die hoë plantestande van die Argentynse stelsel koeler gronde tot gevolg gehad het as die wye rye en laer plantestand van die plaaspraktyk. Selfs die temperatuur van die luglaag bokant die grondoppervlak onder eersgenoemde stelsel was laer. 

Een van die voordele van die koeler grond is minder waterverlies as gevolg van direkte verdamping vanuit die grondoppervlak. Die gevolgtrekking kan daarom gemaak word dat die Argentynse stelsel kan bydra tot die vermindering van die effek van aardverwarming.

Beide produksiestelsels het veranderinge in koolstofinhoude in die bogrond veroorsaak. In vergelyking met die plaaspraktyke, het die Argentynse stelsel ‘n verhoging in grond-C op die klei- en sand­gronde van Good Hope en Leeuwkuil onderskeidelik, teweeggebring.

Publication: July 2018

Section: On farm level

Search