• Login
  • Search Icon

Alternatiewe vir ‘n mielie-uitvoerpoel

July 2010

Dr Kobus Laubscher, Hoofbestuurder

Die uitspraak van die Mededingingskommissie oor die wettigheid van die voorgestelde uitvoerpoel vir surplus mielies het weer die erns waarmee mededingendheid deur die owerhede aangeslaan word, onderstreep.

Indien die voorgestelde uitvoerpoel behoorlik sou werk, sou dit keer dat produsentepryse verder daal en gevolglik die verbruiker ontneem van die voordele van dalende pryse. Die feit dat die uitkoms van so ‘n poel sou lei tot verhoogde binnelandse produsentepryse, met gevolglike verhoogde verbruikerspryse, beteken dat nadele en voordele teen mekaar opgeweeg moes word.

Groter mededingendheid het die beskerming van die belange van die verbruiker as grondslag en enige aksie wat dit teenwerk, word beskou as buite die wet te wees. Die enigste uitweg vir die potensieel benadeeldes, die produsente, is om aansoek te doen vir kwytskelding van die bepalings van die betrokke wet.

So ‘n proses sou dan die welvaartsimplikasies van die afwesigheid van winsgewendheid en die nadelige gevolge daarvan vir die primêre landbou opweeg teen die nadele vir die verbruiker weens stygende pryse. Graan SA is in die proses om aansoek om kwytskelding te doen, maar dié proses is lank en uitgerek – met ‘n redelike sekerheid dat die uitkoms geen impak sal hê op die huidige markomstandighede nie.

Dit laat dan minder, maar steeds moontlike strategieë vir onmiddellike, mediumtermyn en langtermyn implementering. Onmiddellike aksies sluit onder meer in om enige uitvoergeleenthede maksimaal te ontgin. Dit geld veral vir diepsee-uitvoere en daar is aanduidings dat administratiewe rompslomp vertragend inwerk op die ontsluiting van uitvoergeleenthede.

Daaroor is daar reeds op ministeriële vlak geskakel. Die agro-logistiek moet hierdie verskerpte aksies komplementeer en daarom plaas dit interdepartementele samewerking voorop. Disfunksionaliteit is onaanvaarbaar, want enige aksies of gebrek daaraan wat uitvoerders sou of kon belemmer, moet onverskrokke aan die kaak gestel word.

Die vlak van die invoertarief op koring moet dringend verder gevoer word (wat inderdaad tans in proses is). Hier het die regering ‘n gulde geleentheid verspeel deur die tydigheid van aankondiging en dieonvoldoende vlak van die invoertarief allermins ten gunste van groter aanplantings van koring te benut. Deur logiese insentiewe betyds aan koringprodusente te gee, sou daar ‘n herstrukturering gekom het in terme van hektare aangewend. Die feit dat Suid-Afrika vir die eerste keer in amper 100 jaar meer koring sal moet invoer as wat binnelands geproduseer kan word, sal in die geskiedenis opgeteken staan as ‘n onomkeerbare letsel ten opsigte van voedselsekuriteit. Diegene met jurisdiksie om dié tarief te hersien, moet tot orde geroep word, al vra dit regsoptrede!

Uitbreiding van die binnelandse vraag na mielies is reeds verby die fase van “praat daaroor”. Dit is gewoon onaanvaarbaar dat onverwerkte grane uitgevoer moet word, terwyl ‘n beduidende hoeveelheid verwerkte (met mielies as inset) voedsel ingevoer word. Die regering kan hier ‘n leidende rol speel met beskermende maatreëls en aansporing vir beleggings om binnelands waarde toe te voeg. Die buitelandse vraag na uitvoerbare mielies uit Suid-Afrika is bepaald hoër vanweë die lae pryse vir die mielies met gevolglike onderwaardering van die Suid-Afrikaanse produk.

Uitbreiding van die binnelandse vraag na mielies dui onteenseglik op ‘n dringende hersiening van die beleid ten opsigte van mielies as inset tot biobrandstof. Die destydse argumente teen die insluiting moet uitgedaag word en hersiening is onafwendbaar. ‘n Vrees vir onvoldoende stapelvoedsel is ongegrond. Die geleentheidskoste van die nie-insluiting en die gebrek aan dringendheid om beleid aan te pas, word al hoër en vir die rekening van die primêre produsent.

Mededingendheid ten opsigte van produksie met ‘n gevolglike vermoë om teen uitvoerpariteitspryse wins te maak, bly ewe belangrik. Benewens deurlopende produktiwiteitsverhoging deur middel van nuwe tegnologie, sal die koste van insette ook moet aanpas namate die uitwys en uitwis van nie-mededingende sakepraktyke beslag kry. Die antwoord bly om meer met minder te doen.

Publication: July 2010

Section: Editorial

Search