November 2018
’n Nuwe produksiejaar met verskeie uitdagings en bedreigings lê voor. Die meeste produsente is by ’n kruispad en herbesoek hul produksiestelsels, want daar sal drastiese strategiese besluite oor die toekoms van hul boerdery geneem moet word.
Die volgende vrae kom onwillekeurig op: “Waarheen is ek met my boerdery op pad? Wat is die toekomsverwagtinge vir my huidige bedryf? Moet ek met die graanbedryf voortgaan of moet ek na die veebedryf oorskakel en indien wel, hoe moet ek dit doen?”
In hierdie artikel word ’n paar verskillende stelsels, gebaseer op inligting vir die Noordwes-Vrystaat, vergelyk. Van die inligting is gebaseer op produsente se stelsels wat tans in daardie streek toegepas word. ’n Hele paar aannames moes egter gemaak word ten einde die nuutste inligting van die stelsels op te neem.
Verskillende stelsels
Alle vertakkings is in ’n produksiestelsel aan mekaar gekoppel en sekere gewasse sal as gevolg van die impak van wisselbou bevoordeel word, terwyl ander benadeel word. Om die uitwerking van wisselbou vir eers uit die prentjie te hou, word gefokus op die uitkoms van verskillende mielieverbouingstelsels. Dit word vergelyk met ’n mielie/veestelsel.
Die stelsels wat in dié artikel van naderby bekyk en vergelyk word, sluit soortgelyke plase in waarop met:
In die monokultuurstelsel word al die lande jaar-op-jaar met mielies beplant. Geen lande in die stelsel lê ooit braak nie. In die 50%-russtelsel word daar net op 50% van die lande geplant en net op braaklande geplant waar daar vog in die vorige jaar opgeberg is. Die braaklande word gedurende die jaar chemies en meganies skoon gehou.
In die 33%-russtelsel word 66% van die lande met mielies beplant en 33% van die lande lê braak. Die helfte van die mielies word op oorlêlande, waar vog opgegaar is, geplant en die ander helfte word op die vorige jaar se mielielande geplant.
Die weidingstelsel is ’n stelsel waar permanente aangeplante weiding op van die lande gevestig word en waar ’n gedeelte jaarliks na mielies teruggeskakel word. Ten einde die hoeveelheid weiding konstant te hou, word ’n ander gedeelte waarop mielies geplant is, weer na permanente weidings omgeskakel.
Mielies word vir drie jaar verbou, waarna dit na permanente aangeplante weiding omgeskakel word. Die permanente weiding word hoofsaaklik deur vee benut, maar ’n gedeelte word aangewend om hooi te vervaardig.
In die 50%-dekgewasstelsel word net op 50% van die lande geplant en die ander 50% word jaarliks met dekgewasse, wat deur vee bewei word, beplant. Sodoende vind wisselbou met vee plaas. Die aanname is dat die stelsel die mielieopbrengste met 10% sal verhoog. Tans is daar nog nie werklike langtermynsyfers beskikbaar wat hierdie styging kwantifiseer nie.
In die 33%-dekgewasstelsel word 66% van die lande met mielies beplant en 33% daarvan met dekgewasse beplant. Die helfte van die mielies word op vorige dekgewaslande, waar die impak van wisselbou en ander voordele van dekgewasse die mielieopbrengste met ten minste 10% verhoog, geplant. Die ander helfte word op die vorige jaar se mielielande geplant.
Die lusernweidingstelsel is ’n stelsel waar lusern op van die lande gevestig word en waar ’n gedeelte jaarliks na mielies teruggeskakel word. Ten einde die hoeveelheid weiding konstant te hou, word ’n ander gedeelte waar mielies verbou is, weer na lusernweiding omgeskakel. Mielies word vir twee jaar verbou, waarna dit weer na lusernweiding omgeskakel word.
Lusernweiding word hoofsaaklik deur vee benut, maar ’n gedeelte word aangewend om hooi te vervaardig. As gevolg van die effek van lusern as wisselbougewas, is die helfte van die topbemesting by die mielies in die tabelle weggelaat. Sojabone is in die stelsel ingebring om die lusern se vestigingskoste te verlaag.
Winsgewendheid en hulpbronne
Winsgewendheid is nie die enigste faktor wat bepaal of ’n stelsel sal werk of nie. Die plaas se hulpbronne en die produsent se belangstelling speel ook ’n rol in die besluit wat geneem moet word. Die hoeveelheid kapitaal wat elke stelsel benodig, sal ook ’n verskil maak en produsente moet ’n volledige studie daarvan maak voordat só ’n besluit geneem kan word. Risiko en die aptyt vir risiko sal ook ’n belangrike aspek wees wat in aanmerking geneem moet word.
Die tydwaarde van geld-beginsel is gebruik om die stelsels wat oor meer as een jaar strek met mekaar te vergelyk. Dié tegniek kom daarop neer dat toekomstige inkomstes en uitgawes gelyk gestel word aan huidige waardes. Dit word gedoen deur toekomstige inkomstes en uitgawes terug te verdiskonteer na ’n huidige waarde.
Op dié manier word seker gemaak dat ’n rand wat jy vandag verdien, meer werd is as ’n rand wat môre verdien word. In dié ontleding het die stelsels vir ’n siklus van vier jaar geloop en is dan na huidige waardes per hektaar terugverdiskonteer.
Kritiese rentabiliteit is gelyk gestel aan die nabelaste geweegde gemiddelde koste van kapitaal wat gebruik word om toekomstige inkomstes en uitgawes mee te verdiskonteer. Die inligting wat gebruik is om die nabelaste geweegde gemiddelde koste van kapitaal te bereken, word in Tabel 1 getoon.
Die inligting wat in die stelselvergelykings gebruik is, is vanaf produsente verkry en is aangepas met die begrote inligting vir 2018/2019. Ten einde die kontantvloei te optimaliseer, word aanvaar dat die plantkoste twee keer toegedeel word – 55% gedurende Desember en 45% gedurende April.
Voorsiening is gemaak om die oorlêlande vyf keer skoon te maak en die koste is ook so verdeel. Die weiding se vestigingsuitgawes is gedurende Maart toegedeel, terwyl die bemestingskoste deur die jaar versprei is. Daar word aanvaar dat alle inkomstes gedurende Junie realiseer – en is so aangeteken. Die inligting verteenwoordig die kontantvloei ten einde die huidige netto waarde te bereken.
In Tabel 2 word die direk-allokeerbare koste, -opbrengste en graanpryse vir elke stelsel getoon. Die uitwerking van klimaat en inflasie is buite rekening gelaat. Daarom word aanvaar dat die mielies elke jaar dieselfde produksievlakke handhaaf en dat die produksiekoste dieselfde bly.
Ten opsigte van weidingstelsels is die volgende aannames gemaak:
Tabel 3 toon die resultate van die ontledings. Uit Tabel 3 kan ons aflei dat daar nie groot verskille in die winsgewendheid van die russtelsels is nie. Dit wil voorkom asof die 33%-russtelsel dalk ’n bietjie beter as die ander stelsels presteer.
Die veestelsels waar die vee permanente weiding benut, se winsgewendheid is aansienlik hoër as dié van die russtelsels. Sodra vee, wat die koste van die braakstelsels en weiding kan verlaag, in die stelsels opgeneem word, styg die winste skerp. Deur weiding in te bring, word die die winsgewendheid verhoog. Hou in gedagte dat die kapitaalbehoefte van die veestelsels ook dramaties hoër is.
Die gebruik van lusern in die stelsel verhoog die winsgewendheid aansienlik. Aangesien die lusernstelsel nie groot uitgawes benodig nie, is die inkomste ook verreweg die hoogste. Wees egter bedag daarop dat dié stelsel se kapitaalbehoefte as gevolg van die vee, hoog is.
Samevatting
Uit hierdie inligting is dit duidelik dat ander aspekte soos risiko, kapitaalbenodighede, bedryfsverwagtinge en talle ander ’n groter rol sal speel as wat die winsgewendheid van die stelsels impliseer.
Daar is ook groot verskille tussen die hoeveelheid bedryfskapitaal wat die verskillende stelsels benodig. Die veestelsels benodig heelwat meer bedryfskapitaal as die gewasstelsels, omdat vee gebruik word om die weiding in geld te omskep.
Moenie te vinnig probeer omskakel tussen stelsels nie. Probeer om nie meer as 10% in jaar een om te skakel nie. In jaar twee kan 20% omgeskakel word.
Groter oorskakelings kan daarna volg. Wat die veestelsels betref, sal kontantvloei die bepalende faktor wees. Hierin sal elke individu sy eie strategie moet bepaal.
Vir meer inligting kontak die outeur by 082 759 2991.
Publication: November 2018
Section: On farm level