• Login
  • Search Icon

Alternatiewe om te oorweeg

April 2018

In die vorige gedeeltes van die reeks is meer gefokus op wat na-stroopbemarking is, asook die faktore waarop gelet moet word wanneer produsente na-stroopbemarking oorweeg. In hierdie gedeelte van die reeks sal meer gefokus word op die verskillende alternatiewe wat produsente moontlik kan oorweeg vir na-stroopbemarkingsdoeleindes. 

Hierdie alternatiewe sluit die fisiese stoor van graan in, sowel as die gebruik van Safex-afgeleide kontrakte.

Stoor graan om later te verkoop
Die fisiese stoor van graan om later te verkoop, is sekerlik een van die mees algemene strategieë wat produsente oorweeg vir die na-stroopbemarking van graan. Dit is ook een van die strategieë wat algemeen deur produsente gebruik word vanweë die bekendheid daarvan. 

Dit word ook allerweë as die laer risiko strategie beskou, aangesien die produsent steeds beheer het oor die geproduseerde graan solank dit in sy besit bly. Daar is egter ‘n paar faktore wat produsente moet oorweeg wanneer hulle hierdie strategie inspan, waarvan koste en kontantvloei seker die belangrikste is. 

Indien die produsent nie die graan gedurende strooptyd verkoop nie, maar opberg om later te verkoop wanneer die pryse moontlik meer gunstig verhandel, sal die produsent nie ‘n kontant-invloei tydens strooptyd ontvang nie. Dit kan moontlik lei tot druk op die produsent se kontantvloei en finansiële posisie. 

Dit is ook noodsaaklik dat produsente goed vertroud is met die kostes verbonde aan hierdie strategie. Die koste verbonde aan die stoor van graan strek verder as slegs die koste van opberging en produsente moet ook die rentekoste in ag neem wanneer hulle hierdie strategie oorweeg. 

Die stoorkoste verwys na die koste wat deur die produsent betaal moet word wanneer die fisiese graan in kommersiële stoorfasiliteite geberg word. Hierdie koste word algemeen as ‘n dagstoortarief per ton gehef. 

Die rentekoste verbonde aan die stoor van graan is tweeledig en bestaan uit die geleentheidsrente-inkomste wat die produsent verbeur omdat daar nie ‘n kontant-invloei is nie, asook rentekoste op die uitstaande produksiekrediet indien dit nie gedek word nie. 

Verkoop en koop Safex-termynkontrakte
Met die gebruik van hierdie strategie sal die produsent die geproduseerde graan na strooptyd in die mark verkoop en dan Safex-termynkontrakte op die termynmark gaan koop. Die strategie is grootliks op dieselfde strategie as die stoor-strategie gebaseer en die produsent sal hierdie strategie oorweeg om te probeer wins maak uit prystoenames in die mark deur die loop van die seisoen. 

Deur die graan in die fisiese mark te verkoop, kry die produsent ‘n kontant-invloei tydens strooptyd, wat aangewend kan word om die produksiekoste te delg, terwyl die produsent homself steeds in die posisie bevind om moontlik wins uit gunstige prysbewegings te maak sou die mark deur die loop van die seisoen op hierdie wyse reageer. 

Wanneer die produsent Safex-termynkontrakte koop, gee dit hom die geleentheid om wins uit hierdie kontrakte te maak wanneer die markprys toeneem na ‘n hoër vlak as waarteen die kontrakte aangekoop is en hy dit dan weer verkoop. 

Die verskil tussen die aankoopprys en die koopprys van die kontrak sal dan die wins of verlies van die strategie bepaal. Indien die verkoopprys tydens die tydperk wanneer die produsent die kontrak moet sluit laer is as die aankoopprys, sal hierdie strategie op ‘n verlies uitloop. Dit is noodsaaklik dat produsente die risiko’s verbonde aan die strategie in ag neem. 

Omdat die produsent in die strategie, waar hy net kontrakte op Safex koop, hom vir die tydperk in ‘n spekulatiewe posisie bevind, is die risiko vir hom oneindig. Die produsent sal met die aankoop van kontrakte ‘n aanvangsmarge betaal en indien die mark nie hoër verhandel nie, sal die produsent op ‘n daaglikse basis marges per ton moet inbetaal om die kontrak steeds in stand te hou. 

Hierdie strategie kan ‘n wesenlike negatiewe impak op die produsent se kontantvloei hê en produsente moet die risiko’s en moontlikhede behoorlik opweeg wanneer hulle die strategie oorweeg.

Veronderstel die produsent produseer witmielies en gedurende strooptyd (Julie) verhandel die mielieprys teen R1 800/ton en die Desember-termynprys verhandel teen R2 000/ton. Indien die produsent die verkoop- en kooptermynkontraktestrategie wil volg omdat hy van mening is dat die pryse goeie ondersteuning tussen Julie en Desember behoort te vind, sal die produsent die mielies direk na stroop teen R1 800/ton in die mark verkoop en die inkomste ontvang. 

Die produsent sal dan ‘n Safex-termynkontrak vir lewering in Desember teen die huidige Desember-termynprys van R2 000/ton koop. Dit beteken dat die produsent se prysrisiko met hierdie strategie onbeperk is. Indien die markprys toeneem tot bo R2 000/ton, sal die produsent wins maak en indien die prys laer as R2 000/ton verhandel, sal die produsent met die strategie ‘n verlies maak. 

Grafiek 1 is ‘n grafiese voorstelling van die gebruik van die koop en verkoop van Safex-termynkontrakte-strategie.

Verkoop die fisiese mielies en koop Safex-koopopsies (call-opsies)
Deur van die strategie gebruik te maak, bied die produsent aan homself die geleentheid om steeds ‘n voordeel uit ‘n stygende mark te kan trek, terwyl hy sy prysrisiko in die mark beperk. Wanneer die produsent van die strategie gebruik maak, sal hy die graan na strooptyd in die fisiese mark verkoop en dan koop-opsies op Safex koop. 

Dit sal vir die produsent ‘n kontant-invloei tydens strooptyd verseker waarmee hy sy produksiekoste vir die seisoen kan delg en die koop-opsie op Safex sal vir hom die geleentheid bied om wins te maak sou die markprys toeneem. 

Die produsent betaal egter ‘n premie vir die koop van die opsie en die produsent se risiko is beperk tot die opsiepremie. 

Grafiek 2 is ‘n grafiese voorstelling van die wins of verlies wat gely word met die gebruik van die Safex-koop-opsiestrategie. 

Veronderstel die produsent produseer witmielies en gedurende strooptyd (Julie) verhandel die mielieprys teen R1 800/ton en die Desember-termynprys verhandel teen R2 000/ton. Indien die produsent die call-strategie wil volg omdat hy van mening is dat die pryse goeie ondersteuning tussen Julie en Desember behoort te vind, sal die produsent die mielies direk na stroop in die mark teen R1 800/ton verkoop en die inkomste ontvang. 

Die produsent sal dan ‘n call-opsie op Safex vir lewering in Desember teen die huidige Desember-termynprys van R2 000/ton koop en ‘n premie van R150/ton betaal. 

Dit beteken dat die produsent se risiko met die strategie beperk is tot en met R150/ton, maar dat die produsent steeds wins kan maak indien die pryse toeneem tot hoër as R2 150/ton.

Ten slotte
Alhoewel daar ‘n groot aantal verskillende alternatiewe is wat produsente kan aanwend vir bemarkingsdoeleindes, is dit noodsaaklik dat produsente nie die hoofdoel van die strategie vergeet nie. Die eerste belangrike punt waarom die produsente na-stroopbemarking van die graan moet oorweeg, is om ‘n beter prys te probeer realiseer terwyl hy die risiko daaraan verbonde so laag as moontlik probeer hou. 

Die verskillende strategieë soos in die artikel genoem, is van die heel basiese strategieë wat produsente kan oorweeg – wat relatief maklik verstaanbaar en bruikbaar is. Wanneer produsente hierdie strategieë inspan, is dit noodsaaklik dat hul hulself moet vereenselwig van die werking van die strategie en die risiko verbonde aan die strategie ten einde onnodige verliese te verhoed. 

In die volgende gedeelte van die reeks sal meer berekeninge met betrekking tot die verskillende strategieë gepubliseer word.

Publication: April 2018

Section: On farm level

Search