April 2016
PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker
Droogte het verseker ‘n groot impak op alle produsente. Nie net het dit ‘n finansiële implikasie nie, maar die produksiemetodes word ook baie keer in heroorweging geneem.
Sommige produsente sal dit oorweeg om hulle produksiemetodes te verander. Die vraag is: Wat moet produsente produseer, hoe moet dit geproduseer word en wat moet in die huidige stelsel verander word?
Moet ek ‘n direkte-plantboerderystelsel volg? Of moet ek ‘n rip-opdie- ryboerderystelsel volg? Kan ek dit bekostig om nie vanjaar te bekalk nie? In artikels in die media word die term “boerderystelsel” baie gebruik, asook terme soos konvensionele boerderystelsel of bewaringsbewerkingboerderystelsels.
‘n Mens kan seker met reg vra: Waarna verwys hierdie boerderystelsels en produseer ek ook in ‘n boerderystelsel?
Doelwitte en vereistes
Jy as produsent se doelwitte en vereistes speel verseker die belangrikste rol in enige boerderystelsel. Maak seker dat jy weet waarheen jy op pad is en weet waar jou belangstellings asook sterk en swak punte lê. Jy kan die heel beste hulpbronne hê en die beste bestuurder wees, maar as die tipe boerdery jou nie pas nie, sal dit oor die lang termyn nie werk nie.
Daar is verskeie definisies van ‘n boerderystelsel, maar dit kom basies neer op die strategie wat gevolg word om jou hulpbronne aan te wend om winsgewendheid en doelwitte oor die lang termyn te bereik deur landbouproduksie só toe te pas dat dit oor die lang termyn volhoubaar is, hulpbronne bewaar en dat die diverse hulpbronsamestelling beskerm word.
Binne die boerderystelsel kan daar ‘n kombinasie van verskillende vertakkings wees, waar die een vertakking dalk die inset van die ander vertakking kan word en waar die een jaar se gewasse of bestuur ‘n effek op die volgende jaar se produksie kan hê.
In baie van die artikels word daar net na die bewerkings wat gedoen word, verwys. Die bewerkings is deel van die produksieproses wat gevolg word om te produseer, maar dit is nie die enigste faktor wat produksie verseker nie. Gegewe die stelsel, moet alle aspekte reg aangewend word om optimale produksie te verseker.
Boerderystelsels gaan egter nie net oor produksie nie, maar ook oor bemaking en die vergoeding vir die werk gedoen en kapitaal gebruik. Winsgewendheid is ‘n kritiese aspek van enige boerderystelsel om volhoubaarheid te verseker. Indien die stelsel nie die vermoë het om winsgewend te kan produseer nie, sal die boerderystelsel verseker gedoem wees.
Net so speel jou ingesteldheid ook ‘n rol. Daar is die moontlikheid om jouself bankrot te spaar, maar net so is spandabelrigheid ook ‘n onding. Kyk waar wat gespandeer word en meet die rendemente op die beleggings.
Om produkte volhoubaar oor die lang termyn te produseer, het jy as produsent en bestuurder die verantwoordelikheid om te besluit oor die aanwending van inligting, wat insluit:
Hulpbronsamestelling
Dit is ‘n feit dat elke boerdery-onderneming se hulpbronsamestelling verskil. Reënval tussen plase in dieselfde distrik verskil, hoeveelheid trekkers en toerusting beskikbaar verskil, die samestelling van grondsoorte en diepte, asook vorige bestuurspraktyke verskil en dit laat die produksievermoë van die plase varieer.
Die finansiële posisie van produsente verskil ook dramaties. Sommige produsente (en hulle is ver in die minderheid) boer kontant, terwyl die ander produksiekrediet moet gebruik. Dadelik word die moontlike geleenthede beperk. Hierdie insette kan en moet die verbouingspraktyke wat gevolg word, bepaal en rig.
Elke produsent het sy eie doelwitte, beperkinge en geleenthede en hierdie beperkinge moet in aanmerking geneem word as daar besluite oor boerderystelsels geneem word. Die boerderystelsel moet ook by die doelwitte vir die boerdery aanpas.
As jy as produsent weet waarheen jy op pad is, kan daar planne gemaak word om daar uit te kom.
Met hierdie verskille in hulpbronne, is dit belangrik om te besef dat daar nie ‘n boerderystelsel is wat reg deur die bank toegepas kan word nie. Daar is wel sekere beginsels wat toegepas moet word en hierdie beginsels sal verseker die produksie bevoordeel.
Elke produsent sal sy eie produksiestelsel moet ontwikkel en im plementeer waar sy beperkende hulpbron geoptimaliseer word en aan sy toekomsplanne voldoen word. Dit is belangrik om te weet wat die pilare van die stelsel is en hoe al die verskillende vertakkings bymekaar inskakel om die plaas se wins te maksimaliseer.
Implementeer nuwe stelsel
As daar nuwe, verbeterde boerderystelsels ontwikkel word, sal die nuwe, verbeterde stelsel se komponente eers in die huidige stelsel geïmplementeer en getoets moet word, voor daar groot veranderinge gemaak word. As hierdie bestaande stelsel verbeter kan word, is dit goed, anders maak dit nie sin om net agter nuwe gonswoorde en ander nuwighede aan te hardloop nie.
Nuwe veranderinge in die produksiestelsels sal verseker ook ‘n effek op die bestaande vertakkings in die stelsel hê. As daar byvoorbeeld besluit word om die beweiding van oesreste te staak, gaan dit verseker ‘n effek op die veevertakking hê. Bepaal wat die impak gaan wees en bestuur die impak sinvol.
Bereken eers die verskille in winsgewendheid oor die lang termyn tussen die twee stelsels en indien dit positief is, kan besluit word of die veranderinge geïmplementeer moet word. Pasop om net na winsgewendheid te kyk – volhoubaarheid is net so belangrik soos winsgewendheid.
Soms kan dit gebeur dat ‘n verandering in die boerderystelsel dalk die samestelling van die vertakkings kan verander. Indien hierdie veranderinge geïmplementeer word, moet dit die winsgewendheid van die besigheid oor die lang termyn bevoordeel.
Langtermynwinsgewendheid
Navorsing oor die boerderystelsel het ten doel om die voorwaartse en rugwaartse bindinge van die stelsel te ondersoek en te verbeter. Langtermynwinsgewendheid bly die kriterium waarteen alles gemeet moet word. Soms kan dit beteken dat daar oor die kort termyn opofferings gemaak moet word om langtermynwinsgewendheid te verseker.
Dit maak nie sin om ‘n wisselboupraktyk net op te offer omdat die winsgewendheidsverhoudinge tussen die gewasse oor die kort termyn uitmekaarbeweeg nie.
Wisselbougewasse en veevertakkings
Goeie, volhoubare produksiestelsels sluit gewoonlik die gebruik van wisselbougewasse in. Die redes hiervoor kan legio wees, maar kom ons aanvaar dit is om die produksievermoë van die grond in stand te hou. Soms kan die gebruik van verkillende wisselbougewasse en dekgewasse die winsgewendheid van die stelsel dramaties verhoog, maar daar moet nugter oor die saak gedink word voordat dit geïmplementeer word.
Tydens werk wat op Nooitgedacht Landbouontwikkelingsentrum op Ermelo in die 1980’s en 1990’s gedoen is, is daar bevind dat ‘n kombinasie van akkerbougewasse, verskillende meerjarige en eenjarige weidings en die inbring van beide beeste en skape die winsgewendheid van die boerdery dramaties verhoog het.
Die veevertakkings is bestuur om produksie te optimaliseer en te laat saamval met die produksie van weiding. In tye van volop, hoë kwaliteit kos moet daar vee wees wat die hoë kwaliteit kos in geld kan omsit. Indien daar ‘n voerskaarste of lae kwaliteit voer beskikbaar is, moet die diere in ‘n onderhoudsfase wees waar produksie nie ‘n vereiste is nie. Hierdie proewe het die belangrikheid van tydsberekeninge uitgewys.
Die resultate van produksiepraktyke wat in die Noordwes-Vrystaat en ander distrikte toegepas word, het lankal gewys dat die inbring van meerjarige weidingsgewasse die winsgewendheid van akkerbougewasse dramaties kan verhoog en terselfdertyd die risiko verlaag.
Die graanopbrengste in hierdie stelsels was beduidend beter as dié van die omgewing. Die inbring van meerjarige weidings in die produksiestelsel sal eers ekonomies getoets moet word, omdat die hulpbronne tussen produsente só dramaties verskil. Daar kan nie net aangeneem word dat die stelsel die winsgewendheid sal verhoog nie.
Bestuur is belangrik
Bestuur is die belangrikste komponent in enige stelsel en kan dit maak of breek. As die produsent nie die vermoë het om die stelsel reg te bestuur nie, sal die einde daarvan net trane en verdriet wees. Bemarking en prysbestuur is ook ‘n integrale deel van enige boerderystelsel.
Dit help nie daar word geproduseer, maar die produkte kan nie verkoop word nie of die prys is só laag dat dit nie winsgewend is nie. Vraag en aanbod van produkte speel ‘n belangrike rol in die boerderyproduksiestelsel.
Dit help nie daar is langtermynsurplus van die produkte wat geproduseer word en die prys bly onder druk nie. Die winsgewendheid van hierdie boerderystelsel sal vir altyd onder druk bly.
Kennis is ook ‘n kardinale vereiste om enige boerderystelsel te maak werk. Dit help nie die produsent weet wat om te produseer, maar het nie kennis van hoe om dit te produseer nie. Maak dus seker dat jy die produksie van die vertakking verstaan of win kennis in om hierdie vertakking te kan verbou. Vra jouself af: Wanneer het ek iets oor my produksiepraktyk nagevors of probeer?
Onthou net dat ‘n boerderystelsel oor die lang termyn beoordeel moet word. As daar besluite rakende die stelselveranderinge geneem word, sal dit alle komponente in die stelsel raak. Pas die besigheid se doelwitte en beplanning rondom die boerderystelsel aan. Maak ook seker dat die finansiële beplanning rondom die boerderystelsel gebou word.
Deel kennis onderling en implementeer die veranderinge, maar die belangrikste van alles is om eerlik met jouself te bly. As iets nie werk nie, verander dit en bou uit op die positiewe aspekte.
Saamgevat
Boerderystelsels word opgestel met die oog daarop om langtermyndoelwitte te bereik. Geen boerderystelsel tussen produsente behoort presies dieselfde te wees nie, maar die belangrike beginsels sal by almal toegepas word.
Maak seker dat die boerderystelsel die winsgewendheid van die besigheid oor die lang termyn verhoog. Maak seker dat die boerderystelsel die hulpbronne wat by ons kinders geleen word, in stand hou, of nog beter, opbou.
Weet dat daar altyd ‘n kombinasie van vee, akkerbou en aangeplante weiding moet wees. Onthou dat daar altyd binne ‘n stelsel sal word en dat binne hierdie stelsel se produksiesiklus geproduseer moet word.
As daar enige vrae is, kan die outeur by 082 759 2991 gekontak word.
Publication: April 2016
Section: On farm level