May 2012
SCHALK ROELOFSE, PSG KONSULT
Dit is vir die meeste produsente ‘n lewensdroom om die boerdery eendag aan die volgende geslag oor te dra. Bestuursopvolging en aftrede is egter ‘n proses wat met baie beplanning gepaardgaan.
Ekonomiese omstandighede laat baie keer nie toe dat die proses vlot verloop nie. Heelwat afgetrede produsente is steeds ná hul aftrede van die plaas afhanklik omdat hulle nie genoeg bates buite die plaas geakkumuleer het wat aan hul inkomstebehoeftes ná aftrede kan voorsien nie.
Dit is uiters belangrik om ‘n goed geformuleerde aftreeplan in plek te stel. Beleggers moet met behulp van hul finansiële adviseur vroegtydig ‘n vooruitskatting maak van die kapitale bedrag wat nodig gaan wees om aan hul inkomstebehoeftes ná aftrede te voorsien.
‘n Begroting kan dan gebruik word om te bepaal wat die bedrag is wat jaarliks weggesit kan word om by die verlangde bedrag uit te kom. Deur beleggingsdoelwitte te stel, kan jy deurlopend evalueer of jou aftreebeplanning op koers is. Dit sal jou ook toelaat om gouer aanpassings te maak indien jy op enige gegewe tyd in die toekoms agterkom dat jy nie genoegsame voorsiening tot op daardie stadium vir jou aftrede gemaak het nie.
Ongelukkig is daar baie mense wat eenvoudig net nie kan bekostig om op 65 met waardigheid af te tree nie en gevolglik geforseer word om aan te hou werk omdat daar nie voldoende voorsiening vir hul aftrede gemaak is nie.
Die spaarkultuur van die 1970’s en 1980’s is vervang met ‘n bestedingskultuur. Dit is dus glad nie verbasend dat mense min tyd aan hul aftreebeplanning afstaan nie.
Die onlangse finansiële krisis en die erosie van vertroue in die finansiële stelsel het verder bygedra tot die afname in die spaarkultuur die afgelope paar jaar.
‘n Vals gerustheid
Hoë historiese opbrengste van bateklasse skep ‘n vals sin van gerustheid onder beleggers. Hoewel beleggings in plaaslike aandele en die genoteerde eiendomsektor fantastiese opbrengste gedurende die afgelope dekade opgelewer het, sal dit baie gevaarlik wees om historiese opbrengste te gebruik wanneer vooruitskattings oor toekomstige prestasie van bateklasse gemaak word, aangesien dit hoogs onwaarskynlik is dat die faktore wat tot dié prestasie gelei het, weer in die toekoms herhaal gaan word.
Saamgestelde rente
Beleggers onderskat gereeld die krag van saamgestelde rente. Warren Buffet verwys hierna as die agtste wonder van die wêreld.
Indien ‘n belegger op 21 begin om R1 000 per maand te spaar vir ‘n periode van tien jaar, waarna hy sy kapitaal in die mark los, sal hy R6 100 000 op die ouderdom van 65 geakkumuleer het indien sy belegging teen 12% per jaar kan groei.
‘n Belegger wat ‘n R1 000 per maand tussen die ouderdom van 31 jaar tot 65 spaar, sal R3 425 000 geakkumuleer hê indien sy belegging ook teen 12% per jaar kan groei. Die eerste belegger het feitlik twee keer soveel soos die tweede belegger geakkumuleer ten spyte van die feit dat hy slegs vir tien jaar tot sy belegging bygedra het. Hierdie is ‘n duidelike voorbeeld van hoe belangrik dit is om vanaf ‘n vroeë ouderdom te begin spaar. Die tweede belegger sal ‘n bedrag van R1 800 per maand moet spaar om dieselfde opbrengs as die eerste belegger te verkry.
Uittredingsannuïteite: ‘n Belastingeffektiewe manier om vir aftrede te spaar
Die teleurstellende opbrengste van ou generasie uittredingsannuïteite het baie beleggers ontmoedig om uittredingsannuïteite as beleggingsinstrument te oorweeg wanneer daar vir aftrede gespaar word.
‘n Groot bydraende faktor tot die swak prestasie van hierdie ou generasie uittredingsannuïteite was die hoë versteekte koste daaraan verbonde. Die koste van hedendaagse uittredingsannuïteite is heelwat laer en meer deursigtig. Beleggers het baie meer vryheid in terme van beleggingskeuse – nie net is daar ‘n wye verskeidenheid van effektetrusts waarin ‘n belegger kan belê nie, maar ‘n direkte aandeleportefeulje binne die uittredingsannuïteit is ook ‘n opsie.
Regulasie 28 van die Pensioenfondswet beperk egter die blootstelling in meer riskante bateklasse, soos aandele en genoteerde eiendom, om te verseker dat daar nie uitermatige hoë risiko met die geld geneem kan word nie.
Uittredingsannuïteite is ‘n belastingeffektiewe manier om vir aftrede te spaar. Beleggers kan tans ‘n belastingaftrekking van tot 15% van hul nie-pensioenfunderingsinkomste kry indien hulle hierdie geld tot ‘n uittredingsannuïteit bydra. Bydraes wat nie in die finansiële jaar kwalifiseer vir die belastingaftrekking nie, kan oorgedra word na die volgende jaar.
‘n Ander voordeel van die nuwe generasie uittredingsannuïteite is dat daar baie vryheid rakende bydraes is. Eenmalige bydraes kan enige tyd gedurende ‘n finansiële jaar gemaak word om vir die volle belastingvoordeel te kwalifiseer. Daar is ook geen kapitaalwins ter sprake binne ‘n uittredingsannuïteit nie en rente-inkomste wat op rentedraende beleggings verdien is, is ook nie belasbaar nie.
Krediteure kan ook nie ‘n eis teen ‘n uittredingsannuïteit instel nie.
Kyk só daarna
Kontak Schalk Roelofse by schalk@psgkonsult.com.
Publication: May 2012
Section: Input Overview