May 2018
Mokolo is ‘n nuwe LNR-Kleingraan-koringkultivar wat vir droëlandproduksie in die somerreënvalgebied vrygestel is. Mokolo is uit Matlabas ontwikkel en is net soos sy voorganger uitstekend aangepas vir uiteenlopende produksie-omgewings. Matlabas behaal reeds oor verskeie seisoene heen uitstekende graanopbrengste.
Volgens die LNR-Nasionale Kultivarproewe se gemiddelde opbrengs tussen 2014 tot 2017, beklee Matlabas tans onderskeidelik die tweede en derde plek in die Noordwes Provinsie en Oos-Vrystaat.
Net soos Matlabas, benodig Mokolo ‘n beduidende sarsie koue-eenhede om vanaf die vegetatiewe na reproduktiewe fase oor te skakel en word dit vir vroeë aanplanting aanbeveel. Alhoewel laat aanplantings toenemend deur koringprodusente in die Vrystaat toegepas word, neem die risikofaktor met dié praktyk ook toe deurdat kwynende grondvog ontkieming en saailingontwikkeling laat in die plantseisoen kan belemmer.
Die teenkant is ook waar, omdat vroeë aanplantings ‘n aansienlike groter premie op die koringprodusent se bestuursvernuf plaas. Noodsaaklike aksies ten opsigte van somergewasse moet op datum wees en koringlande moet voorberei wees sodat vroeë plantery in Junie kan begin.
‘n Interessante tendens wat in die 2017-seisoen in die Wesselsbron-omgewing voorgekom het, was hoë temperature aan die einde van die herfs, wat vroeg in die winter deur snerpende koue opgevolg is. Dit het veroorsaak dat die meeste inskrywings van die vroeë plantdatum in die teelproewe duidelike wit are met aarverskyning gehad het (Foto 1).
Hierdie are was meestal steriel, wat gevolglik daartoe gelei het dat opbrengste uiters swak was. Wat wel opmerklik was, is dat die wintertipe-inskrywings, wat ‘n langer groeiseisoen benodig, aansienlik minder as die intermediêre groeiers deur die hitte en koue beïnvloed was.
Die rede hiervoor is nie heeltemal duidelik nie, maar het waarskynlik daarmee te doen dat sensitiewe groeistadiums van dié inskrywings buite die tydperk waarin die hitte en koue voorgekom het, geval het.
Agronomie en kwaliteit
Mokolo se uitloopweerstand is in 2017 geklassifiseer as “goeie” weerstand met ‘n gemiddelde uitloopwaarde van 3,3. Hierdie kultivar beskik, net soos Matlabas, oor ‘n lang koleoptiel met ‘n gemiddelde lengte van 108 mm en hoë saadontkieming van 90%.
Evaluering van Mokolo se geelroesweerstand, wat in 2017 deur die Universiteit van die Vrystaat by Greytown gedoen is, dui op goeie weerstand wat gewissel het tussen 10R (vroeë seisoen) en 20R (laat seisoen). Mokolo het variërende weerstand teen Russiese koringluisbiotipes en beskik slegs oor weerstand teen RWASA1 en RWASA3, maar nie teen RWASA2 en RWASA4 nie.
Broodbakkwaliteit van Mokolo voldoen aan die vereistes wat deur die plaaslike meulenaars en bakbedryf in Suid-Afrika voorgeskryf word en dié resultate is in 2018 deur die SA Graanlaboratorium bevestig.
In 2017 was daar wel ‘n besorgdheid oor die hoë farinostabiliteit en alveosterkte van Mokolo, wat aanleiding kon gee tot sterker deeg en gevolglike langer deegmengtye. Dit het egter steeds binne die grense van die aanvaarbare norme geval.
Opbrengspotensiaal
Opbrengste van Mokolo in die Oos-Vrystaat sedert 2014 toon duidelike ooreenstemmings met Matlabas en bevestig dat hierdie kultivar beter by ‘n vroeë plantdatum aangepas is en as ‘n wintertipe koring geklassifiseer kan word.
Graanopbrengs in 2016 by die laat aanplanting dui egter aan dat Mokolo moontlik minder koue-eenhede as Matlabas benodig ten einde oor te skakel na die reproduktiewe fase (Grafiek 1). Een van Mokolo se primêre kenmerke is groter are met meer pitte, wat die potensiaal inhou vir hoër opbrengste onder gunstige toestande.
Die kultivar se inkomste per hektaar-rangorde, wat bepaal word volgens die graanopbrengs en graad (proteïeninhoud, hektolitermassa en valgetal) per hektaar, is ook uiters belowend. Graanopbrengs alleen skep soms ‘n vals indruk van ‘n kultivar se potensiaal, aangesien dit dikwels negatief met veral proteïeninhoud korreleer. In teenstelling hiermee, skets inkomste per hektaar-rangorde ‘n beter geheelbeeld omdat die drie primêre graderingsparameters, naamlik proteïeninhoud, hektolitermassa en valgetal, daarby ingereken word.
Mokolo se inkomste per hektaar-rangorde, bereken by ‘n vroeë plantdatum in die teelproewe van die Oos-Vrystaat, vergelyk bevredigend met die toppresteerders uit die Nasionale Koringproewe van 2017 vir die vroeë plantdatum in die Vrystaat (Tabel 1). ‘n Meer realistiese inkomste per hektaar-rangorde sal in 2019 bereken kan word wanneer Mokolo ook in die Nasionale Koringproewe van die LNR ingesluit word.
Die huidige afwaartse druk op die koringprys gaan toenemend vereis dat koringprodusente die produksie-omgewing so noukeurig moontlik bestuur. Een van die belangrikste faktore waaroor ‘n koringprodusent moet besin, is watter kultivar(s) die beste vir sy produksie-eenheid aangepas is. Mokolo, met verskeie unieke eienskappe, gaan grootliks hiertoe bydra en word ‘n belangrike toevoeging tot die huidige kultivarlys wat deur die LNR-Kleingraan ontwikkel is. Saad sal waarskynlik oor twee na drie jaar vir kommersiële produksie beskikbaar wees.
Hiermee graag ook ‘n groot dankie aan die navorsers by die LNR-Kleingraan, wat oor die afgelope seisoene tot die ontwikkeling van Mokolo bygedra het. Hartlike dank ook aan die koringprodusente in die Oos- en Noordwes-Vrystaat wat proefgrond beskikbaar gestel het sodat Mokolo in verskillende omgewings getoets kon word.
Navrae kan gerig word aan dr Robbie Lindeque by lindequerc@arc.agric.za of 082 563 1553.
Publication: May 2018
Section: On farm level