February 2014
DR SONIA STEENKAMP, LNR-INSTITUUT VIR GRAAN GE WASSE, POTCHEFSTROOM
Gedurende die begin van die seisoen is die Nematologie Eenheid van LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) uit alle rigtings oorval met navrae oor aalwurms.
Die goeie nuus is dat die meeste produsente (en landbouvoorligters) nou bewus raak van aalwurms en die probleme wat hulle veroorsaak, en dus nie meer sommer met die spreekwoordelike “broek op die knieë” gevang word nie.
Daar is egter slegte nuus ook, en dit is dat dit steeds ‘n geoefende oog en baie ervaring van ‘n deeglik opgeleide nematoloog agter ‘n mikroskoop verg om te identifiseer of dit werklik aalwurmprobleme eerder as iets anders is.
Tog is daar ‘n paar riglyne wat dit vir feitlik enige iemand wat oplettend is, moontlik maak om die bekende tekens van aalwurms in ‘n land met eenjarige gewasse raak te sien. Deur hierdie riglyne te volg, kan die produsent baie moeite en koste bespaar word.
Eerste tekens van aalwurmbesmetting
Dié van ons wat nou nie kan spog met superieure handvaardigheid nie, weet dat die mense in die verfwinkel een of ander geheime opleiding ondergaan om ons op ‘n afstand raak te sien en dadelik te kan identifiseer.
Die verf wat hulle dan aan ons verkwansel, is sweerlik baie meer loperig en drupperig as dié waarmee die meer vaardige persone werk...As jy dan begin verf, loop die spul af en maak oral blertse en kolle op die vloer waar jy nie veronderstel is om te verf nie en nie een kol is dieselfde vorm of grootte nie.
Die arme hond kry ook sommer ‘n addisionele druppel op die kop as hy per ongeluk in die omtrek is en die kat ruk sy stert vies omhoog as hy per abuis op ‘n druppel trap wat op ‘n onverklaarbare wyse so drie meter van jou af op die vloer beland het!
Dit is nou presies hoe aalwurmsimptome op die oog af in ‘n land voorkom (Foto 1). Dit maak onooglike kolle en blertse in die land, waar die plante geel en soms selfs verlepperig lyk. Hierdie kolle kan enige plek in die land voorkom, in hoeveelhede verskil en nie een lyk dieselfde nie.
Dus, as die geel plante in ‘n ordelike ry(e) voorkom waar die een ry se plante siek lyk en die ander twee rye weerskante van die siek ry blakend gesond vertoon, is dit beslis nie aalwurm nie. So ook as daar net een of twee plantjies in ‘n ry olik lyk en die res van die plante rondom die siek plant(e) mooi groen en sterk voorkom, moet daar vir seker na ‘n ander sondebok gesoek word.
Hierdie eenvoudige reël is van toepassing op die meeste van die aalwurms en eenjarige gewasse. Die enigste uitsondering op die reël is peulaalwurms op grondbone.
Anders as die ander aalwurms wat van ontkieming van die saailing af op die wortels van die plant voed en sodoende die plant se “water en ligte” afsny, voed hierdie aalwurm hoofsaaklik op die grondboon se peule en nie op die wortels van die plant nie.
Hierdie kalant veroorsaak dus geen bogrondse simptome nie, so daar is nie ‘n vroeë alarm wat vir peulaalwurmbesmetting afgaan nie. Gelukkig beskadig peulaalwurm net grondbone, so produsente hoef nie op die uitkyk te wees vir hierdie rateltaai kalant op die ander gewasse as daar die vorige jaar erge peulaalwurmbesmetting was nie.
Hoe lyk die wortels van aalwurmbesmette plante?
Knopwortelaalwurm is die aalwurm wat die algemeenste by al die eenjarige gewasse voorkom omdat hulle op so baie gewasse kan parasiteer. Dit is ook baie maklik vir ‘n produsent om die simptome wat deur hierdie aalwurm op die wortels veroorsaak word, raak te sien.
Die naam knopwortelaalwurm sê alles…Skadesimptome van die aalwurm op wortels (en peule en knolle) vertoon as onooglike knoppe en knoetse (Foto 2 en Foto 3). Hierdie knoppe en knoetse wat ‘n mens op die oppervlakte van die ondergrondse plantmateriaal kan sien, is basies die “kombuis” van die knopwortelaalwurmwyfie wat haar hele lewe lank binne-in die plantweefsel bly.
As sy op ‘n plantsel voed, veroorsaak haar speeksel dat die sel vergroot en aan die einde net vir haar kos maak en nie meer as ‘n normale plantsel funksioneer nie. Omdat sy nie net aan een sel voed nie, maar aan ‘n paar wat reg rondom haar kop lê, vergroot hulle om saam dan so ‘n knoets of “gal” te vorm.
Dit is egter so dat hierdie galle baie keer met stikstofbindende bakteriese knoppies wat by die peulgewasse voorkom, verwar kan word. Sien Foto 4. In só ‘n geval is dit raadsaam om die knoppie met jou naels oop te knyp of met ‘n knipmes oop te sny.
In die seisoen wanneer die eerste galle voorkom, is dit ook so dat die stikstofbindende bakteriese knoppies op hulle aktiefste is. Dus, as ‘n mens die knoppie oopdruk, sal hy rooi of groen vertoon, terwyl ‘n knopwortelaalwurmgal meer verrot sal lyk.
Nog ‘n manier om die twee te onderskei, is om te probeer om hulle af te vryf. Stikstofbindende bakteriese knoppies sit los aan die wortels en kan sonder veel moeite afgevryf word sonder om té veel skade aan die wortel aan te rig.
‘n Aalwurmgal daarteenoor, is selle van die wortel self wat so vergroot word en sal glad nie afgevryf kan word nie. Hou ook in gedagte dat knopwortelaalwurmsimptome nie noodwendig op volwasse mieliewortels tot uiting kan kom nie. Dit is dus nie te sê dat as jy nie galle op die wortels van ‘n volwasse mielie sien nie, daar nie knopwortelaalwurms teenwoordig is nie.
Letselaalwurms is die volgende op die lys wat naas knopwortelaalwurms, ook op die meeste gewasse voorkom en dus groot skade kan aanrig. Dit is nou by hierdie aalwurm wat die nematoloog se ervaring die deurslag sal gee om te kan diagnoseer of dit wel aalwurm is wat die skade veroorsaak het of nie. Letselaalwurms kan in die grond en in die plantweefsel voorkom. As hulle aan ‘n plantsel voed, word die inhoud van die plantsel uitgesuig en die sel val inmekaar.
Aan die buitekant van die plantweefsel word bruin letsels gevorm as daar aan ‘n paar selle wat langs mekaar lê, gevoed word. Hierdie aalwurm kan ook die selle binne-in die wortel beskadig of die vaatbondels van die plant verstop as die letselaalwurmbesmetting hoog genoeg is.
Elkeen van die letselaalwurmspesies veroorsaak egter verskillende simptome op ondergrondse plantdele wat hulle aanval en daarom kan hulle simptome baie maklik verwar word met simptome wat deur ander organismes veroorsaak word.
Die ander probleem is ook dat hulle simptome verdoesel kan word deur ander organismes wat sekondêr ingekom het. Dit is dus raadsaam dat ‘n nematoloog na die simptome, die plant en na grondmonsters kyk om sodoende die regte diagnose te maak.
Peulaalwurms rig groot skade aan grondbone aan, maar beskadig glad nie ander gewasse nie. Soos reeds verduidelik, sien ‘n mens nie skade aan die bogrondse gedeeltes van die grondboonplant nie. Die produsent kom vir die heel eerste keer agter dat hy skade het as hy die grondboon begin lig en die meeste van die peule bly óf agter in die grond óf die besending word afgegradeer na persgraad toe. Die peulaalwurm en die skade wat hulle berokken, sal in ‘n volgende artikel bespreek word.
Die res van die plant-parasitiese aalwurm spesies wat op ons gewasse parasiteer, ver oorsaak natuurlik ander tipes ondergrondse simptome. Omdat die knopwortelaalwurm en letselaalwurm die meeste voorkom en die meeste skade aanrig, sal produsente eerder simptome van dié twee aalwurmspesies teëkom.
Die beste raad aan die produsent is egter om sy oë oop te hou vir die bogrondse simptome wat beskryf is en die res aan die nematoloog oor te laat om die regte diagnose te maak.
Publication: February 2014
Section: Input Overview