• Login
  • Search Icon

Aalwurmpeste: Die sondebokke wat mielie-oeste stilweg kelder

October 2014

SONIA STEENKAMP, LNR-Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom; DRIEKIE FOURIE, Eenheid vir Omgewingswetenskappe en Bestuur, Noordwes-Universiteit; en MARETHA PRETORIUS, Noordwes-Universiteit

Grond- en wortelmonsters vanaf die mielielande van plaaslike mielieprodusente, wat die afgelope paar jaar na die LNR-Instituut vir Graangewasse (LNR-IGG) en die Noordwes-Universiteit (NWU) gestuur is vir aalwurmontledings, het getoon dat aalwurmprobleme algemeen en wydverspreid voorkom.

Wat aalwurmsimptome in mielies betref, neem produsente gereeld waar dat daar kolle in mielielande is waar die plante nie optimaal groei nie en dikwels ook vergeel en verdwerg is (Foto 1). Sulke swak kolle in mielielande is gewoonlik nie baie groot nie, maar kan vergroot in opeenvolgende seisoene indien geen aalwurmbeheer toegepas word nie.

Die teenwoordigheid van duidelik sigbare knoppe (Foto 2) wat deur die voeding van knopwortelaalwurms veroorsaak word, is 'n simptoom wat toenemend waarneembaar is op mieliewortels tydens die afgelope dekade. Gekombineerd hiermee, word die voorkoms van abnormale wortelstelsels wat min, stomp of verdikte sywortels het, ook toenemend opgemerk (Foto 3).

Opvolggewasse wat dikwels saam met mielies in ‘n wisselboustelsel ingesluit word, toon uiteraard dieselfde tendens wat betref die opbou van plantparasitiese aalwurmbevolkings met gevolglike simptome wat daarmee gepaardgaan (Foto 4 en Foto 5). Hierdie waarnemings het daartoe gelei dat die LNR-IGG en NWU (in samewerking met Syngenta wat die projek befonds het) ‘n mielieopname in ‘n groot gedeelte van die mielieproduksiegebied geloods het tydens die afgelope seisoen.

image

Hierdie opname is in die Vrystaat (twaalf streke), Noordwes Provinsie (sewe streke), Noord-Kaap (drie streke) en Mpumalanga (13 streke) gedoen (Figuur 1). Grond- en wortelmonsters is op 78 mielielande tydens die blomstadium van die gewasse geneem. 23 van die lande se mielies is onder besproeiing verbou, terwyl die oorblywende 55 droëlande was.

image

Produsente is ook gevra om ‘n vraelys in te vul, onder meer om uit te pluis of aalwurmdoders deur hulle gebruik is al dan nie. Die hoofdoel van hierdie aalwurmopname was om vas te stel watter aalwurmpeste asook voordelige aalwurms teenwoordig is in gronde van produsente in hierdie gebiede.

Hierdie artikel sal egter net fokus op inligting wat versamel is rakende die plantparasitiese aalwurms, terwyl ‘n volgende artikel die invloed en rol van nie-parasitiese/voordelige aalwurms wat in landbougronde in Suid-Afrika voorkom, sal behandel.

Voorkoms van plantparasitiese aalwurms

Wortelmonsters
Knopwortel- en letselaalwurms is dié aalwurmgroepe wat die meeste in wortelmonsters teenwoordig was van mielieplante wat in al die lande versamel is. Knopwortelaalwurms het oorheers in terme van hul bevolkingsvlakke en was verder in 71 van die 78 lande teenwoordig.

Hulle bevolkingsvlakke het gewissel vanaf 13 tot 38 479 individue per 50 g wortels. Laasgenoemde bevolkingsvlakke is uitermatig hoog en dui daarop dat die teenwoordigheid van knopwortelaalwurms tot definitiewe skade kan en sal lei – nie net in mieliegewasse nie, maar ook in opvolg- en ander wisselbougewasse.

Letselaalwurms het in meer lande voorgekom as knopwortelaalwurm, naamlik in 77 van die 78 lande wat in hierdie opname ingesluit was. Hierdie groep se bevolkingsvlakke het van 4 tot 490 individue per 5 g wortels gewissel.

Dit is opmerklik dat letselaalwurmgetalle tydens die laaste paar seisoene in diagnostiese grond- en wortelmonsters van mielieplante ook hoër blyk te wees. Hierdie aalwurmgroep se teenwoordigheid in mielies en ander wisselbougewasse behoort dus deurentyd gemonitor word om sodoende te verseker dat voorkomende maat reëls geneem word om hulle te beheer.

Grondmonsters
Letselaalwurms het die hoogste bevolkingsvlakke gehad en was in die meeste van die grondmonsters teenwoordig. Daarteenoor was knopwortelaalwurms in relatief min van die grondmonsters teenwoordig en in relatief lae getalle, behalwe vir twee van hierdie lande.

Hierdie resultate van die grondmonsters, lig weer eens ‘n aspek uit waarvoor produsente katvoet moet loop. Letselaalwurms word gewoonlik maklik in beide grond- en wortelmonsters geïdentifiseer, terwyl knopwortelaalwurms ‘n perd van ‘n heel ander kleur is.

Slegs knopwortelaalwurmeiers, tweede jeugstadia en mannetjies kom in die grond voor, terwyl geen derde en vierde jeugstadia asook wyfies in grondmonsters teenwoordig is nie. Hoewel knopworteleiers wat in grondmonsters teenwoordig is deur ‘n nematoloog geïdentifiseer kan word, is dit ‘n gespesialiseerde en ingewikkelde proses, want eiers met 'n eerste jeugstadium daarin teenwoordig moet beskikbaar wees vir so ‘n positiewe identifikasieproses.

Vervolgens kan daar ook nie voorspel word wanneer die eiers sal uitbroei en die infektiewe tweede jeugstadia in die grond teenwoordig sal wees nie. Om hierdie rede kan daar nie 'n realistiese prentjie gevorm word as ‘n nematoloog net grondmonsters vir aalwurmontledings doen nie.

Produsente moet dus onthou om altyd grond- sowel as wortelmonsters in te sluit vir aalwurmontledings. Die beste tyd om grond en wortelmonsters vir sulke ontledings te neem, is tydens die blomstadium van mielies. Vorige navorsing deur die LNR-IGG het reeds getoon dat plantparasitiese aalwurmgetalle hulle piek bereik in die sogenaamde groeistadium.

Die gebruik van aalwurmdoders

Verskeie aalwurmdoders is in Suid-Afrika geregistreer vir gebruik op mieliegewasse, soos aangedui in Tabel 1. Hierdie inligting is onlangs opgedateer en gepubliseer in A guide to crop pest management in South Africa (Van Zyl, 2013) wat uitgegee is deur die Vereniging vir Veterinêre- en Gewasverenigings (AVCASA).

Produsente kan hierdie gids, etikette van die onderskeie produkte en/of chemiese verteenwoordigers raadpleeg vir korrekte inligting rakende die dosisse sowel as toedieningsaanbevelings en -vereistes vir die onderskeie produkte.

Voorts behoort slegs die volle, geregistreerde dosisse van die onderskeie produkte toegedien te word soos dit aanbeveel word.

Dit is verder ook belangrik om daarop te let dat alle geregistreerde aalwurmdoders net voor en/of tydens die plant van mielies toegedien mag word. Geen regstellende aalwurmbeheer deur gebruik te maak van geregistreerde aalwurmdoders is dus wetlik toelaatbaar nie.

Dit was interessant dat mieliegewasse waarop daar geen aalwurmdoders gebruik is tydens die afgelope seisoen nie en wat ingesluit was in hierdie aalwurmopname, die hoogste getalle knopwortel- en letselaalwurms gehad het.

Daar was egter ook mieliegewasse waarop geregistreerde aalwurmdoders toegedien is wat steeds hoë knop- en letselaalwurmgetalle getoon het. Hierdie verskynsel bevestig weer eens dat aalwurmdoders nie altyd effektief is nie as gevolg van verskeie faktore, byvoorbeeld omgewingstoestande, ‘n té hoë aalwurmpopulasie aan die begin van die seisoen, die biologiese afbreking van die aktiewe bestanddeel (bestanddele) van chemiese aalwurmdoders wat aan dieselfde klas behoort en oor en oor op dieselfde grond gebruik word, en ander.

Produsente moet dus bewus wees hiervan en ander alternatiewe ook oorweeg om aalwurmpeste onder beheer te hou. Dit sluit onder andere wisselbou in en die plant van kultivars wat swak gashere is vir byvoorbeeld die knopwortelaalwurmspesie wat in 'n spesifieke land teenwoordig is. Die beheer van plantparasitiese aalwurms word egter in meer detail in ‘n tweede artikel wat ook in hierdie uitgawe van SA Graan/Grain (bladsy 94) gepubliseer is, bespreek.

Aanbevelings en voorstelle

Dit is baie belangrik om te onthou dat die bevolkingsvlakke van plantparasitiese aalwurms van een plantseisoen na ‘n volgende kan wissel. Tydens een seisoen kan plantparasitiese aalwurms ‘n produsent groot skade berokken, terwyl dit nie die volgende jaar die geval hoef te wees nie. Die aalwurmgetalle wat byvoorbeeld gedurende hierdie opname aangeteken is, sal dus nie noodwendig dié wees wat in die volgende seisoen in die grond teenwoordig sal wees nie.

Lae wintertemperature, die teenwoordigheid van onkruid op die lande deur die winter asook die aanplant van wintergewasse is byvoorbeeld van die faktore wat die oorlewing, vermindering of vermeerdering van plantparasitiese aalwurms in landbougrond beïnvloed.

Verskeie laboratoriums wat opgeleide personeel het en waar aalwurmontledings gedoen kan word, is in Tabel 2 aangedui. Só 'n nematoloog wat aanbevelings doen ten opsigte van beheermaatreëls met betrekking tot plantparasitiese aalwurmbesmettings in verskeie gewasse, moet geregistreer wees by die Suid-Afrikaanse Raad vir Natuurwetenskaplike Professies (SARNAP).

image

Opgeleide en ervare nematoloë behoort wel redelike akkurate voorspellings en aanbevelings aan produsente in ‘n komende seisoen te kan doen om aalwurmprobleme die hoof te bied. Korrekte aalwurmmonsterneming is egter van uiterste belang vir sulke aanbevelings.

Ter afsluiting kan dit nie genoeg benadruk word dat voortdurende samewerking tussen nematoloë (plaaslik en internasionaal), industrieë (chemiese en saadmaatskappye) en produsente behoort te bestaan om aalwurmpeste wat mielies en ander wisselbougewasse (soos aartappels, sojabone, sonneblom, grondbone, koring en ander) aanval en beskadig, te monitor en vroegtydig te beheer nie.

Befondsing vir sulke navorsing behoort prioriteit te geniet aangesien hierdie mikroskopiese klein organismes stilweg mielie-oeste en dié van ander gewasse knou.

Vir verdere inligting en navrae, kontak Sonia Steenkamp by 083 452 5926 of SteenkampS@arc.agric.za; Driekie Fourie by 018 293 3683 of driekie.fourie@nwu.ac.za; of Maretha Pretorius by 076 331 3868 of marethaviljoen@rocketmail.com.

Publication: October 2014

Section: On farm level

Search