August 2010
Dr Kobus Laubscher, Hoofbestuurder
Die pas afgelope, uiters suksesvolle Wêreldbeker vir Sokker (SWB) hou ‘n hele aantal lesse in vir hoe georganiseerde landbou die sogenaamde grondkwessie kan benader. Die Een Doel-inisiatief skep ‘n geleentheid waarmee graanprodusente ‘n slag kan slaan ten opsigte van gewone alledaagse welwillendheid!
Suid-Afrika se eerste bod om die SWB aan te bied het gesneuwel met een amptenaar wat sy stem buite sy mandaat uitgebring het. Die 2006 SWB-uitkoms het ons gedwing om weer te dink en dieper te delf na oorspronklike voorstelle om die wêreld te oortuig dat Suid-Afrika in staat is tot die aanbied van só ‘n skouspel.
Betrokkenheid by ‘n SWB-toernooi berus op baie fasette wat in vele fases aangebied moet word. Die belangrikste is om reg te begin en om in staat te wees om ‘n droom te verkoop en dan die “kopers” te oortuig om die droom te bewaarheid. Die “verkoop” van vermoë behels om met oortuiging te bewys dat die land meer as net die minimum vereistes van die opdraggewer kan ontmoet. Met aanvaarding van die aanbod word daar nie ‘n nuwe begin gemaak nie – die aanvanklike plan gegrond op die voorstel kry dan beslag. In die uitvoering van dié plan is daar geen plaasvervangers vir goeie beplanning, harde werk en ‘n nougesette hou by die ooreengekome plan nie – ysere dissipline!
Grondhervorming het heelwat parallelle met die aanloop tot, voorbereiding vir en aanbied van die 2010 SWB. Aanvanklike planne is voorgelê met ooroptimistiese verwagtinge om uitvoering te kan gee aan meer as net die werklike oplos van ongelykhede van die verlede. Deur deelname aan die proses kan die baie slaggate van die aanvanklike plan uitgewys word, maar die regering het nietemin voortgegaan; en nou na afloop van ‘n reeks mislukkings, bes gegee dat die aanvanklike plan nie gewerk het nie. Daarna moes daar egter meer diepte kom in terme van die wat en die hoe.
Ontleed ‘n mens egter die ontwikkelingsgang van die veronderstelde herskikking, kom dit voor asof die regering nou kortpaaie wil vat om die uiteindelike visie te ontmoet. Daar kan egter nie kortpaaie wees as ‘n mens die volgende lesse uit die suksesvolle aanbied van die 2010 SWB wil benut nie:
Met die strukture in plek, kan die eintlike besigheid van die SWB begin. Die spel van intensiewe onderlinge kompetisie tussen die bestes van die beste! Die spel self is egterook beheersd. Die reëls van die spel word afgedwing deur die skeidsregter wat ‘nonsigbare deelnemer moet wees. Hoe sigbaarder die skeidsregter, hoe moeiliker is die spel. Met verwysing na grondhervorming, is die Suid-Afrikaanse Grondwet die skeidsregter – almal is gelyk daaronder.
Wat staan georganiseerde landbou te doen? Georganiseerde landbou moet aandring op die daarstel van ‘n plan met ‘n einddoel waaroor onderhandel en onderling ooreengekom moet word. Die spel gaan oor landbou se vermoë om volhoubaar bekostigbare kos van gehalte te produseer en die kommersiële landbou se verantwoordelikhede in daardie verband. Met dié plan in die hand, is die volgende stap uitvoering om in harmonie in die toekoms kos te kan produseer (te kan speel). Wees streng met die standaarde en gee uitvoering daaraan met huidige aktiwiteite om aan vandag se uitdagings te voldoen, maar wees aanpasbaar ten opsigte van daardie aktiwiteite wat toekomstige oorle wing sal bepaal.
Wees ferm ten opsigte van ‘n oorhoofse plan, voordat implementering begin. Daar is nie tyd en plek vir ‘n halfgebakte voorstel nie. As daar ooreengekom is op ‘n plan, dryf die implementering om by ‘n uiteinde te kom wat behoorlike spel moontlik kan maak. Neem die kans, speel en geniet die spel! Die Een Doel-inisiatief van FIFA het insgelyks toepassing op veral die lede van Graan SA of trouens alle deelnemers aan die graanwaardeketting. Hoekom kan daar nie verwag word dat elke deelnemer binne die volgende drie maande 1 ton graan of graanekwivalent skenk aan ‘n sentrale fonds vir die aanwending van opvoeding van minderbevoorregte kinders nie? Dink net watter voorreg sal dit wees om só deel te wees van ‘n “groter spel”?
Publication: August 2010
Section: Editorial