January 2011
Dr Kobus Laubscher, Hoofbestuurder
Twee onlangse publikasies plaas die graanbedryf opnuut onder die soeklig. Die meer direkte verwysing is ‘n verslag van die Nasionale Bemarkingsraad oor die aard, omvang en tendense ten opsigte van die produksie-insette van mielies en koring. Die tweede publikasie is die eindresultaat van verskeie strategiese dokumente wat die rig ting en verwagtinge van ekonomiese groei in die ekonomie belig.
Beide onderstreep die belangrike rol van die sektor en watter risiko’s die ontsluiting van die ontwikkelingspotensiaal inhou. Gelees saam met ander uitsprake van kundiges, dui alles daarop dat die sektor opwindende tye in die gesig staar. Die graanbedryf is na regte uitstekend geplaas om as katalisator van eerste en tweede linie welvaart skepping te groei.
Aan die insetkant is dit duidelik dat die mengsel van insette dui op toenemende afhanklikheid van faktore wat ekonomies buite die beheer van plaaslike produsente ontwikkel en as sodanig bedreigend kan wees vir volhoubaarheid oor die lang termyn. Die rol wat olie-afhanklike insette speel en die geleidelik-stygende prys van ruolie as gevolg van die na-resessie herstel van die wêreldekonomie, beklemtoon die dringendheid van meer met minder.
Produsente bly prysnemers en indien insetkostestygings die ruilvoet onder druk plaas, is verhoogde doeltreffendheid die enigste teenvoeter vir verswakkende winsgewendheid. Die vraag na graan as inset tot proteïenproduksie groei namate die ekonomieë die gevolge van die finansiële krisis ontgroei en stygende besteebare inkomste nuwe vraagmoontlikhede skep.
Kortom, produksietoename is slegs bekostigbaar as die mark dit kan akkommodeer en matige tekorte sal vertroue herstel. Winste moet produksiebesluite rig en die aanduidings is daar dat bestaande aanbod nie aan die vraag sal kan voldoen nie. Die uitdaging bly egter om geduldig genoeg te wees om die vrugte te kan pluk.
Die Suid-Afrikaanse graanbedryf is vanweë sy afhanklikheid van ingevoerde insette té uitgelewer om nie aandag te gee aan die ontsluiting van die voordele van waardetoevoeging buite die plaashek nie. Dit is nie meer ‘n bekostigbare opsie om onverwerkte graan uit te voer en die betalingsbalans onder druk te hou deur ‘n groeiende afhanklikheid van ingevoerde, toegevoegde waarde produkte nie.
Daar is gevolglik nie ruimte vir die bestaande beleid wat nie daadwerklik waardetoevoeging ondersteun nie. Verklarings van voorneme deur die onderskeie staatsdepartemente is nie meer goed genoeg nie. Die bedryf sal in 2011 daarop geregtig wees om te agiteer teen enige iets minder as bewese aanmoediging van die staat om die bedryf te industrialiseer nie.
Dit bring ons dan by die tweede publikasie waarna hierbo verwys is, naamlik die groei- en ontwikkelingstrategie van minister Patel. Genoemde beleidsdokument is in vele opsigte omstrede, maar bevat werkbare elemente wat ruimte bied vir ander strategieë om geïmplementeer te kan word.
Een so ‘n direktief is die ontwikkelingstrategie van die minister van landbou, bosbou en visserye, wat onder die sambreel van die herprioritisering van landbou as ontwikkelingsmedium deur president Zuma, val. Volgehoue agitasie en onderhandeling het die regering nou deeglik onder die besef dat landbou onlosmaaklik deel is van die gereedskap wat nodig is om die Suid-Afrikaanse ekonomie uit sy groei-slaap te wek.
Publication: January 2011
Section: Editorial