• Login
  • Search Icon

'n Paar gedagtes oor die bemesting van sojabone

July 2014

NICO BARNARD, landboukundige, Pannar Saad

Die groeiende belangstelling in die maksimale produksie van sojabone landswyd, regverdig dit om met nuwe oë na die bemesting van die gewas te kyk. Daar is baie teenstrydige uitlatings oor die bemesting van sojabone.

In baie gevalle word beweer dat bemesting nie ‘n positiewe invloed op die opbrengs van sojabone het nie. Dit kan veral gesien word by die bandplasing van kunsmis. Hier volg die mees waarskynlike redes vir ‘n swak reaksie op bemesting:

  • Die fosfaat- en kaliuminhoud van die grond is meer as die kritieke behoeftevlakke.
  • ‘n Droogteperiode in die groeiseisoen het ‘n groter invloed gehad op produksie as bemesting.
  • Planttoestande (grondtemperatuur en -vog) was ideaal.
  • Die bemesting was onvoldoende of ongebalanseerd.

Die artikel fokus op die nuutste inligting rakende die bemesting van sojabone en gee inligting oor watter voedingstowwe die mees waarskynlike opbrengsverbetering gee. Dit gee nie ‘n waarborg dat opbrengs gaan verbeter nie. In ‘n goeie groeiseisoen, soos die afgelope een, sal dit wel bydra tot opbrengsverbetering.

Sojabone het ‘n hoër behoefte aan fosfaat en kalium as mielies. 1 ton sojabone onttrek tot 9 kg P en 40 kg K per hektaar. As hierdie behoeftes nie aangespreek word nie, kan die opbrengs nadelig beïnvloed word. Dit kan ook die opbrengs van die opvolggewas benadeel en in die lang termyn tot rampspoedige gevolge lei. Om sulke probleme ná die tyd te moet regstel, kan dan baie duur raak.

Sojabone is groot verbruikers van stikstof. Elke ton sojabone geoes onttrek 50 kg tot 60 kg stikstof per hektaar uit die sisteem. Al die stikstof moet deur die wortels uit die grond onttrek word. Deur van stikstofbindende Rhizobium-bakterieë gebruik te maak, kan daar baie goedkoop aan hierdie konstante behoefte voldoen word.

Hierdie voordelige assosiasie wat sojabone met Rhizobium-bakterieë het moet reg bestuur word. As daar stikstof in die grond beskikbaar is, gaan sojaboonwortels eerder dit opneem en nie Rhizobium-bakterieë toelaat om knoppies op die wortels te vorm nie. Dit kan lei tot die afsterwe van die Rhizobium-bakterieë of tot die laat vorming van knoppies, wat weer kan lei tot onvoldoende stikstofbinding.

Indien vermoed word dat die entingsproses foutief was en sojabone in Desember of Januarie geel en swak ontwikkel is, moet swak nodulering as die skuldige verdink word. Die beste manier om die probleem op te spoor, is om die geaffekteerde plante versigtig uit te grawe en te was met water. Tel die gesonde knoppies op die wortels. Gesonde knoppies is groter as 2 mm in deursnee en is pienk tot rooi as dit deurgesny word. As minder as sewe gesonde knoppies per plant gevind word, kan stikstoftekorte verwag word.

Aanvullende stikstoftoediening van 60 kg tot 70 kg stikstof per hektaar sal die tekorte aanspreek as dit betyds toegedien word. Die ideale tyd van toediening is as die eerste blomme op 50% van die plant gesien word (R1) en nie later as die boonste lid van die plant begin blom op 50% van die plante (R2) nie.

Die ideaal is om die stikstof op die grond toe te dien, maar dit is baie moeilik aangesien die blaardak reeds die rye toegemaak het. Breedwerpige toediening van korrelkunsmis kan met sukses gedoen word, indien die plante droog is en korrels van die blare kan afrol.

Voordat enige bemesting toegedien word, moet die grond pH reggestel word. ‘n Grond pH (KCl) van tussen 5 en 6 is ideaal. Die meeste chemiese en biologiese prosesse funksioneer optimaal by hierdie pH. Saam met pH, is kalsium noodsaaklik om die grond gesond te hou. Dit is nie net die stikstofbindingsbakterieë wat hierdeur bevoordeel word nie, maar ook al die ander organismes in die grond.

Die toediening van kalk om die vlakke te onderhou, moet gedoen word aan die hand van ontledings en met behulp van kundige advies. Indien suur gronde wat mielies as voorafgaande gewas gehad het, bekalk word, moet die effek van onkruiddoders wat vasgelê was en kan los kom in gedagte gehou word. Bandplasing van voedingstowwe in grond met meer as 15% klei het in meeste gevalle nie ‘n opbrengsvoordeel nie. Breedwerpige uitstrooi van fosfaat en kalium voor die maak van ‘n saadbed toon ‘n groter reaksie.

Sojabone se grootste behoefte aan voedingstowwe is in die tweede helfte van die groeiseisoen. Die breedwerpige uitstrooi van voedingstowwe word beter benut deur die wydverspreide, fyn wortels in die boonste 20 cm van die grond. In sandgrond met ‘n lae klei inhoud, reageer sojabone wel op bandplasing van kunsmis. Die kunsmis moet 5 cm langs en onder die saad geplaas word, om die risiko van brandskade op die saailing, sowel as Rhizobium-bakterieë te beperk. Die klein sojaboonsaailing se wortels is baie sensitief en word maklik gebrand deur die hoë konsentrasies soute in kunsmis as dit te naby aan die saad geplaas word.

Bemestingshoeveelhede moet bepaal word volgens ‘n grondontleding en die opbrengsdoelwit van elke land (Tabel 1 en Tabel 2). Fosfaat en kalium moet aangespreek word om dit op voldoende vlakke te kry.

image

image

Fosfaat is noodsaaklik vir vroeë wortelontwikkeling en vir die oordrag van energie in die plant, terwyl kalium noodsaaklik is vir die vorming van stikstofbindende knoppies saam met Rhizobium-bakterieë. Verder is kalium noodsaaklik in die stikstofbindingsproses en vir die vervoer van voedingstowwe en proteïene deur die plant.

Sojaboonplante wat genoeg kalium beskikbaar het, kan droë periodes beter hanteer as dié wat effense tekorte het. Klein hoeveelhede stikstof (10 kg - 25 kg N/ha) kan vroeë groei bevoordeel om sterker plante te verseker, maar in die meeste gevalle sal dit nie opbrengs bevoordeel nie. Hierdie lae stikstofvlakke sal nie die ontwikkeling van stikstofbindende Rhizobium-bakterieë benadeel nie. ‘n Mens lees baie dat die Suid-Afrikaanse sojaboonoes se proteïeninhoud laer is as dié van ander lande. Die gereelde droogteperiodes wat ons ervaar in die tweede helfte van die groeiseisoen, is grootliks hiervoor verantwoordelik. Dan is daar ook baie navorsing wat wys dat ligte kaliumtekorte ‘n groter invloed het op die proteïeninhoud van die sojabone as opbrengs.

Baie van Suid-Afrika se grond is relatief arm aan kalium, of dit is nie altyd vir die plant beskikbaar nie. Om goeie kwaliteit soja bone te produseer sal ekstra kaliumbemesting, by grond wat voldoende ontleed is, tot voordeel van elke produsent wees.

Sojabone het ‘n hoë swaelbehoefte. By grond wat bekend is vir swaeltekorte of by lae kleigronde, kan daar met swael bemes word. Tot 15 kg S/ha kan met veiligheid toegedien word. Magnesiumtekorte is die ander element wat ‘n groot invloed op opbrengs het. By grond met ‘n hoë pH wat wel tekorte toon, kan daar tot 2,5 kg Mg/ha by bemesting gevoeg word.

Molibdeen is essensieel vir die binding van stikstof deur knoppiesbakterieë en die vervoer van proteïene in die plant. By grond pH laer as 5 is molibdeen onbeskikbaar vir opname en moet ekstra toegedien word. Lae hoeveelhede (80 g/ha tot 150 g/ha molibdeen) as ‘n saadbehandeling of in die plantvoortjie toegedien, sal die probleem aanspreek.

Soos aan die begin van die artikel genoem, reageer sojabone baie keer nie op toegediende bemesting nie. Dit is nie ‘n rede om sojabone nie te bemes nie. Die groot hoeveelheid voedingstowwe wat sojabone verwyder, moet aangespreek word in ‘n volhoubare boerderystelsel. Dit kan baie maklik tydens saadbedvoorbereiding gedoen word of met die totale bemestingsprogram van die voorafgaande of opvolggewas. By lande met ‘n relatiewe lae voedingstatus is dit beter om jaarliks te bemes teenoor lande met ‘n goeie voedingstatus wat elke tweede jaar op ‘n wisselbougewas bemes kan word.

As jy die grond gesond hou, sal die grond vir jou sojabone sorg – wat ‘n goeie opbrengs lewer.

Publication: July 2014

Section: Focus on

Search