• Login
  • Search Icon

'n Oorsig oor die tweede jaar van direkte plant proewe in Suid-Afrika

October 2013

image

PIETMAN BOTHA, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Na aanleiding van die ooreenkoms tussen Graan SA en die National Institute for Agricultural Technology in Argentinië (INTA) in samewerking met die Argentynse Kamer Van Implementvervaardigers (CAFMA) en Fundación Cideter (‘n stigting wat implementnavorsing en –ontwikkeling en tegniese ondersteuning aan implementvervaardigers bied) is die tweede reeks direkte plant (no-till in oesreste) proewe in Suid-Afrika aangeplant.

Plaaslike insetverskaffers, naamlik: Pannar, Syngenta, MBFI en Omnia, het die direkte insette vir hierdie amptelike proewe goedgunstiglik verskaf. Die landboubesighede se landboudienste-afdelings asook die Landbounavorsingsraad (LNR) het ook deel uitgemaak van hierdie proewe en gaan ‘n belangrike rol speel in die uitvoer asook die uitdra van die tegnologie.

Die hoofdoel van die stelselproewe bly om die direkte plant (no-till in oesreste) praktyke wat in Argentinië toegepas word:

  • teen die huidige Suid-Afrikaanse praktyke te toets en te sien of dit werk; en
  • pas te maak vir Suid-Afrikaanse omstandighede.

Daar is ooreengekom om vier amptelike proewe wat ten minste oor ‘n periode van vyf jaar strek, op die volgende plekke aan te plant, naamlik:

  • Nigel – wat die koeler oostelike gedeelte van die land verteenwoordig;
  • Lichtenburg – wat die warmer westelike gedeelte verteenwoordig;
  • Odendaalsrus – wat die watertafelgronde verteenwoordig; en
  • Settlers – wat die Springbokvlakte en swaar turfgrond verteenwoordig.

Daar is egter ‘n paar ander proewe ook aangeplant by:

  • Wonderfontein;
  • Bultfontein – op die sand en watertafelgronde;
  • Koster – om te sien of die planter in permanente weiding kan plant
  • Die LNR-Instituut vir Graangewasse in Potchefstroom; en
  • Bethlehem – om die Oos-Vrystaat te verteenwoordig.

Ten einde hierdie doelwitte te bereik, is besluit dat ‘n proef ongeveer 10 ha groot sal wees. Die proewe bestaan uit ‘n konvensionele gedeelte wat die medewerker se bestaande praktyk insluit en dan die direkte plant (no-till in oesreste) soos deur die Argentyne voorgestel. Wisselbougewasse is ook ingesluit en bestaan uit sonneblom, sojabone, koring asook permanente aangeplante weiding.

In die direkte plant (no-till in oesreste) gedeelte is ‘n enkelkoppige, enkelstammige mieliekultivar teen verskillende plantestande aangeplant. Die rywydtes het ook gevarieer en die volgende rywydtes is aangeplant, naamlik: 0,52 m rye; 0,9 m rye; 1,5 m rye asook ‘n 2,4 m ryspasiëring.

Die sonneblom- en sojaboonaanplantings het verskillende kultivars met verskillende groeilengtes asook verskillende plantestande ingesluit en is ook in 0,52 m en 0,9 m rye aangeplant.

image

image

Die plantestand van die mielies in die direkte plant (no-till in oesreste) gedeeltes, het vanaf 37 000 tot so hoog as 80 000 gewissel. Dieselfde bemesting- en onkruiddoderprogram is by alle gewasbehandelings per lokaliteit toegepas, behalwe in Nigel waar die hoër plantestande hoër bemestingspyle ontvang het.

Van die staanspoor af was daar baie verskille tussen die konvensionele stelsel en die Argentynse direkte plant stelsels. Die eerste waarneming was rondom die grondversteuring. Die Argentynse planters het merkbaar minder versteuring van die grond veroorsaak. Tog het die turbo-kouters die grond genoeg versteur sodat die saad op die regte diepte in die grond geplaas kon word.

Wat verder opvallend was, is hoe gelyk die land is nadat dit met die Argentynse planters geplant is. Daar is ook foute hier gemaak. Die proef op Wonderfontein is ‘n voorbeeld van waar die planter nie reg gestel was nie.

Die plantestand en plante was merkwaardig swakker as die konvensionele persele. Met die oes van die proewe was dit verbasend dat die opbrengste tussen die persele nie dramaties verskil het nie.

Dit was opvallend om te sien hoe gelyk die gewasse wat met die Argentynse planters geplant is, opgekom het en hoe presies die plante gespasieer was. By die meerderheid van die proewe was die direkte plant mielies op dag agt reeds 97% op en vergelyk dit met die konvensionele stelsel, waar dit tot elf dae geneem het om ‘n 95% stand te kry.

Die hoë plantestand met die nouer rye was onkruid se moses. Die oorskadu-effek was net te groot en die laat ontkiemende onkruide het die wind van voor gekry. Tog was dit ook opvallend hoeveel meer onkruide daar in die bewerkte gedeeltes opgekom het, ongeag of die onkruiddoder toegedien is. By die proef in Odendaalsrus is ‘n interessante waarneming gemaak rakende die winteronkruide. Die proef kon eers laat gestroop word omdat die stropertafel nie beskikbaar was nie en die winteronkruide het hierdie staande mielies as beskutting gebruik om lekker te kon groei.

Wisselbou se effek het ook hier uitgestaan en die mielieopbrengste op die gedeeltes wat met sojabone gewissel is, was soos verwag, beter.

By die Lichtenburg-proef het die mielies wat op sojaboon gevolg het, se opbrengs baie beter as die konvensionele mielies gevaar. Die effek van bedekking kon ook waargeneem word. ‘n Foto wat uit die lug geneem is, toon duidelik hoe die gewasse verskil van waar daar bedekking was teenoor waar daar nie was nie.

Wat die groei van die gewasse betref, is daar ook duidelike verskille waargeneem. Die gewasse wat in die direkte plant (no-till in oesreste) gedeeltes geplant is, het heelwat stadiger as die konvensionele gewasse gegroei. Tydens stroop was daar egter geen verskille tussen die stelsels nie.

Tydens die wortelondersoeke was daar ook opvallende verskille tussen die stelsels. Die konvensionele stelsels se wortelverspreiding was oor die algemeen dieper as die direkte plant stelsels. Daar was opmerklik ‘n groter konsentrasie van wortels in die boonste vrugbare gedeeltes van die grond by die direkte plant as by die konvensionele stelsels.

Tog is daar nêrens ‘n paradys sonder ‘n slang nie en hier het ons ook interessante waarnemings gemaak. Waar die grond te nat was tydens plant en veral waar die oesreste baie dik was, het die planters se planterkouters die grond gesmeer en geen wortel het deur hierdie laag beweeg nie. Die gevolg was baie klein plante net langs groot plante. In hierdie stelsel is die gebruik van ‘n duisendpoot om die bogrond los te maak, baie moeilik. Vanjaar het ons by twee proewe ernstige standprobleme ondervind bloot omdat daar kort na-plant ‘n baie harde reënbui oor die land uitgesak het en daar ‘n kors gevorm het.

image

image

By die proef op Bultfontein, op die watertafelgronde, is daar ‘n baie interessante waarneming gemaak. Die proef is geplant op ‘n blok waar daar twee jaar gelede regstellings gemaak is en die verdigtingslae opgehef is.

In die jaar voor die regstellings is die mielies in ‘n treinspoorsisteem aangeplant, wat beteken dat twee rye 0,9 m uit mekaar geplant word, opgevolg deur ‘n 2,1 m ry. Met die eerste oes ná die regstellings, is die mielies in 1,5 m rye aangeplant, wat toe net plat gerol is en net so gelaat is sodat die eerste direkte plant (no till in oesreste) geplant kon word.

Die eerste direkte plant (no-till in oesreste) gedeeltes is skuins oor die rye geplant en kon die interessante waarnemings toe gemaak word. Twee oeste terug se effek is nog sigbaar in hierdie oes. Alhoewel die gewasse se hoogtes verskil het, was daar nie merkbare verskille in die opbrengste nie.

Besondere waarnemings is ook deur die oorskadu-effek veroorsaak. Die eerste was ten opsigte van die hoeveelheid vog beskikbaar vir die gewasse. Hoe hoër die oorskadu, hoe meer vog was vir die plante beskikbaar. Alhoewel die vogstudies nog nie afgehandel is nie, kon die waarneming gemaak word dat daar meer vog in die bogrond by die hoër plantestande waargeneem kon word. Daar word algemeen verwag dat dit baie warmer moet wees waar die plantestand hoër is.

Interessant dat hoe hoër die plantestand, hoe laer is die temperatuur op die grond. Hierdie waarneming is gemaak deur temperatuurmeters wat op die grondoppervlakte aangebring is. Die verskille het gevarieer, maar die hoër plantestandbehandelinge was regdeur die tyd laer.

Die belangrikste waarneming was dat daar iets in hierdie direkte plant sisteem steek. Gegewe hierdie moeilike jaar was daar baie goeie stroperresultate ten gunste van direkte plant (no till in oesreste) gewees. Dit bly ‘n oop vraag of die resultate volgehou kan word, maar dat daar iets in steek, is gewis. Die resultate het almal betrokke geskok en is gegewe die jaar, ongelooflik goed. Om ‘n rekord vir die plaas op te stel en dit sonder om te bewerk, wil gedoen wees.

Daar is ook kultivarsverskille in die stelsel waargeneem. Nie al die kultivars presteer dieselfde nie. Sommige kultivars sal verseker nie in hierdie sisteem inpas nie. Nog baie werk sal hieroor gedoen moet word. Dit is ook belangrik om te sorg dat die turbo-kouter reg gestel is. Die turbo-kouter moet deur die eerste paar verdigtingslae kan sny sodat daar ‘n dieper voor is waarin die wortels kan ontwikkel. Die jong wortels van veral sonneblom en sojabone is geneig om maklik te draai as daar nie vir hulle ruimte is om in te ontwikkel nie.

Daar word beoog om boeredae by al die proewe te hou om sodoende die inligting meer sinvol weer te gee. As daar enige vrae is, kan Pietman Botha by 082 759 2991 gekontak word.

Publication: October 2013

Section: Input Overview

Search