• Login
  • Search Icon

'n Nuwe mieliesaailing insekplaag gerapporteer

September 2012

ANNEMIE ERASMUS, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

image

Die uitbraak van ‘n onbekende plaag op mieliesaailinge is in die Kamberg-Mooirivier-area in KwaZula-Natal tydens die 2008/2009- en 2009/2010-groeiseisoen gerapporteer.

Nadat die produsent ernstige skade gerapporteer het, is die saak deur die LNR ondersoek en die spesies is geïdentifiseer as Classeya tenuistriga (Hampson) (Lepidoptera: Crambidae). Hierdie insek is vir die eerste keer beskryf in Suid-Afrika tydens die 1880’s. Die oorspronklike beskrywing is gedoen deur George F. Hampson as Crambus (Propexus) tenuistriga (Lepidoptera: Pyralidae) vanaf ‘n eksemplaar wat naby Pretoria versamel is. Daar is geen aangetekende plantgasheerspesies vir hierdie insek in die literatuur gevind nie.

Die uitgegroeide larwes (Foto 1) van hierdie insek is sowat 10 mm - 15 mm lank en krul styf op wanneer hul versteur word. Hierdie gedrag kan maak dat C. tenuistriga met die gewone snywurm verwar word, maar die verskil in grootte is ‘n duidelike onderskeid. Die gewone snywurm se uitgegroeide larwe word baie groter. Die C. tenuistriga larwe word ‘n papie binne-in ‘n papiesel in die grond (Foto 2). Die papiesel word gebou deur die larwe wat grond, blare en plantmateriaal aanmekaarspin. Hierna kom die mot uit die papiesel, wat ‘n tipiese Crambidae mot is (Foto 3).

Die Crambidae familie se papies word gewoonlik papies in bogrondse plantmateriaal, byvoorbeeld die bekende Chilo boorder. Dit is ongehoord vir die familie om papies te word in die grond, soos by hierdie nuwe probleemsoort.

Die skade wat aangerig word aan mieliesaailinge, is dieselfde as dié van die gewone snywurm. Die larwe van C. tenuistriga kom uit die grond gedurende die nag en beskadig saailinge net bo of net onder die grondoppervlak.

‘n Netjiese, ronde gaatjie van 2 mm - 3 mm in diameter word gevreet in die saailingstammetjie. Die netjiese, skoon gaatjieskade kan onderskei word van die draadwurms en swartmieliekewer waarvan die skade ‘n uitgerafelde voorkoms het.

Die bogrondse simptome is verwelking van die sentrale kelkblare wat gevolg word deur verwelking van die hele saailing (Foto 4). Mielies reproduseer nie suiers, soos in die geval van sorghum nie, wat beteken dat skade aan mieliesaailinge ‘n direkte invloed op die gewasopbrengs het. As gevolg van swak stand, sal ‘n produsent dan genoodsaak wees om oor te plant. By Kamberg is 22% saailingbeskadiging gerapporteer.

image

‘n Aangrensende mielieland, vanwaar die skade gerapporteer is, was geplant met Bt-mielies wat die geleentheid verleen het om ‘n nie-Bt mielieland te vergelyk met die Bt-land. Skade aan saailinge is geëvalueer op beide die lande en skade het betekenisvol verskil met, 0,7% skade in die Bt-land in vergelyking met die 22,5% skade in die nie-Bt land (Grafiek 1).

image

Produsente hoef nie bekommerd te wees oor hierdie plaag nie, maar moet definitief op die uitkyk daarvoor wees. Dié plaag was slegs van ekonomiese belang in ‘n klein gebied in die Kamberg-area en tot op datum is daar nog nie weer probleme gerapporteer nie.

Vir navrae, kontak Annemie Erasmus by erasmusa@arc.agric.za.

 

Publication: September 2012

Section: Input Overview

Search