• Login
  • Search Icon

'n Kykie na direkte plant proewe in Suid-Afrika

February 2015

— 'n oorsig oor drie jaar
 

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

imageNa aanleiding van die ooreenkoms tussen Graan SA en die Argentina National Institute of Agricultural Technology (INTA) en in samewerking met die Argentynse Kamer van Implement Vervaardigers (CAFMA) en Fundación Cideter (‘n stigting wat implementnavorsing, -ontwikkeling en -tegniese ondersteuning aan implementvervaardigers bied) is die derde reeks proewe in Suid-Afrika aangeplant.

Plaaslike insetverskaffers, naamlik Pannar, Syngenta, MBFI en Omnia het die direkte insette vir hierdie amptelike proewe goedgunstiglik verskaf.

Doel van proewe

Die hoofdoel van die stelselproewe was om die direkte plant (no-till in oesreste) praktyke wat in Argentinië toegepas word, teen die huidige Suid Afrikaanse praktyke te toets om te sien of dit werk.

Daar is vier amptelike proewe by die volgende lokaliteite aangeplant, naamlik:

  • Nigel – wat die koeler oostelike gedeelte van die land verteenwoordig;
  • Lichtenburg – wat die warmer westelike gedeelte verteenwoordig (slegs twee jaar);
  • Odendaalsrus – wat die watertafelgronde verteenwoordig (slegs twee jaar); en
  • Settlers – wat die Springbokvlakte en swaar turfgrond verteenwoordig.

Die proewe wat aangeplant is, het ‘n oppervlakte van meer as 10 hektaar per perseel beslaan. Hierdie proewe bestaan uit 'n konvensionele gedeelte wat die medewerker se bestaande praktyk insluit en dan die direkte plant, soos deur die Argentyne voorgestel. Wisselbougewasse is ook ingesluit en het bestaan uit sonneblom, sojabone, koring asook permanente aangeplante weiding.

In die direkte plant gedeelte, is ‘n enkelkoppige, enkelstammige mieliekultivar teen verskillende plantestande aangeplant. Die rywydtes het ook gevarieer en die volgende rywydtes is aangeplant, naamlik 0,52 m rye, 0,9 m rye, 1,5 m rye asook ‘n 2,4 m ryspasiëring. Die sonneblom- en sojaboonaanplantings het verskillende kultivars met verskillende groeilengtes asook verskillende plantestande ingesluit en is ook in 0,52 m en 0,9 m rye aangeplant.

image

Plantestand

Die plantestand van die mielies in die direkte plant gedeeltes het vanaf 37 000 tot so hoog as 80 000 gewissel. Dieselfde bemesting- en onkruiddoderprogram is by alle gewasbehandelings per lokaliteit toegepas, behalwe in Nigel waar die hoër plantestande, hoër bemestingpyle ontvang het.

Van die staanspoor af was daar baie verskille tussen die konvensionele stelsel en die Argentynse direkte plant stelsels. Die eerste waarneming was rondom die grondversteuring. Die Argentynse planters het merkbaar minder versteuring van die grond veroorsaak. Tog het die turbo-kouters die grond genoeg versteur sodat die saad op die regte diepte in die grond geplaas kon word. Wat verder opvallend was, is hoe gelyk die land was nadat dit met die Argentynse planters geplant is.

Ook was dit opvallend om te sien hoe gelyk die gewasse opgekom het wat met die Argentynse planters geplant is en dat die interplantspasiëring presies was. By die meerderheid van die proewe was die direkte plant mielies op dag agt reeds 97% op en vergelyk dit met die konvensionele stelsel waar dit tot elf dae geneem het om 95% stand te kry.

image

Onkruidbeheer

Die hoë plantestand met die nouer rye was onkruid se moses. Die oorskadu-effek was net te groot en die laat ontkiemende onkruide het die wind van voor gekry. Tog was dit ook opmerklik hoeveel meer onkruide daar in die bewerkte gedeeltes opgekom het, ongeag of die onkruiddoder toegedien is.

In sommige plekke is uintjies ‘n groot probleem wat meer aandag sal vereis. Daar is by verskeie proewe gesien dat winteronkruid hierdie hoë plantestand mielies tot hulle voordeel gebruik. Daar moenie te lank gewag word voor daar gestroop word nie en die winteronkruide moet baie goed beheer word – veral as hulle nog baie klein is.

Die effek van wisselbou het ook uitgestaan en die mielieopbrengste op die gedeeltes wat met sojabone gewissel is, was soos verwag is, beter. Die effek van grondbedekking kon ook waargeneem word. ‘n Foto wat uit die lug geneem is, toon duidelik hoe die gewasse verskil waar daar bedekking was en nie was nie. Dié waarneming is op Nigel gemaak waar die proefperseel totaal afgebrand het nadat ‘n brand ontstaan het.

Groei en wortelontwikkeling

Wat die groei van die gewasse betref, is daar ook duidelike verskille waargeneem. Die gewasse wat in die direkte plant gedeeltes geplant is, het heelwat stadiger as die konvensionele gewasse gegroei. Tydens stroop was daar egter geen verskille tussen die stelsels nie.

Tydens die wortelondersoeke was daar ook opvallende verskille tussen die stelsels. Die konvensionele stelsels se wortelverspreiding was oor die algemeen dieper as die direkte plant stelsels. Daar was opmerklik ‘n groter konsentrasie van wortels in die boonste vrugbare gedeeltes van die grond by die direkte plant as by die onvensionele stelsels.

Tog is daar nêrens ‘n paradys sonder ‘n slang nie en hier het ons ook ‘n hele paar interessante waarnemings gemaak. Waar die grond te nat was tydens plant en veral waar die oesreste baie dik was, het die planters se planterkouters die grond gesmeer en geen wortel het deur hierdie laag beweeg nie. Die gevolg was baie klein plante net langs groot plante.

‘n Ander interessante waarneming is met die wortelontledings van veral sojabone en sonneblom gemaak. Indien die verandering in die grond van sagte na stywe grond te vinnig was, het die wortels presies op hierdie veranderings in die grond gedraai. Dieselfde waarnemings is ook in ander stelsels en proewe waargeneem.

Ook interessant, is die waarneming wat by die proef op Bultfontein, op die watertafelgronde, gemaak is. Hierdie proef is geplant op ‘n blok waar daar twee jaar gelede regstellings gemaak is en die verdigtingslae opgehef is.

In die jaar voor die regstellings, was die mielies in ‘n treinspoorsisteem aangeplant, wat beteken dat twee rye 0,9 m uitmekaar geplant word, opgevolg deur ‘n 2,1 m ry. By die eerste oes ná die regstellings, was die mielies in 1,5 m rye aangeplant wat toe net platgerol is en net so gelaat is sodat die eerste direkte plant geplant kon word.

Die eerste direkte plant gedeeltes was skuins oor die rye geplant en hier kon die interessante waarnemings gemaak word. In hierdie oes is die effek van twee oeste terug nog sigbaar en hoewel die gewasse se hoogtes verskil het, was daar nie merkbare verskille in die opbrengste nie.

Die oorskadu-effek het ook besondere waarnemings veroorsaak, waarvan die eerste was rakende die hoeveelheid vog beskikbaar vir die gewasse. Hoe hoër die oorskadu; hoe meer vog was vir die plante beskikbaar.

image

Vogstudies en temperatuur

Hoewel die vogstudies nog nie afgehandel is nie, kon die waarneming gemaak word dat daar meer vog in die bogrond by die hoër plantestande waargeneem kon word.

Daar word algemeen aangeneem dat dit baie warmer moet wees waar die plantestand hoër is. Dit is egter interessant dat hoe hoër die plantestand is, hoe laer is die temperatuur op die grond.

Hierdie waarneming is gemaak deur temperatuurmeters wat op die grondoppervlakte aangebring is. Die verskille het gevarieer, maar die hoër plantestand behandelinge was regdeur die tyd laer.

Goeie resultate

Die belangrikste waarneming was dat hierdie direkte plant sisteem iets in hom het. Gegewe hierdie moeilike jaar was daar baie goeie stroopresultate gewees. Dit bly egter ‘n ope vraag of die resultate volgehou kan word; maar dat daar iets in steek, is gewis. Die resultate het almal betrokke geskok en was gegewe die jaar, ongelooflik goed.

Kultivarverskille is ook in die stelsel waargeneem. Nie al die kultivars presteer dieselfde nie en sommige kultivars sal verseker nie in hierdie sisteem inpas nie. Nog baie werk sal egter hieroor gedoen moet word.

Dit is ook belangrik om te sorg dat die turbo-kouter reg gestel is. Die turbo-kouter moet deur die eerste paar verdigtingslae kan sny sodat daar ‘n dieper voor is waarin die wortels kan ontwikkel. Die verwagting is dat die jong wortels van veral sonneblom en sojabone geneig is om nie maklik te draai nie, maar dit wil voorkom of dit nie die geval is nie. Miskien moet die turbo-kouter op hierdie gewasse nie te diep werk nie?

Winsgewendheid

Die winsgewendheid van elke verandering is baie belangrik. In hierdie drie jaar is die koste van die stelsels bygehou en kan ‘n volledige kosteberekening gedoen word wat beide veranderlike asook vaste koste insluit.

Interessant om op te let dat die veranderlike koste tussen die stelsels nie dramaties van mekaar verskil nie. Diesel- en herstelkostebesparings word verruil vir meer onkruiddoder en dalk vir meer saad.

Die groot kosteverskille is by die vaste koste en op ‘n gelyke basis kan dit tot 50% minder wees. Die besparing is hoofsaaklik omdat minder kapitaal in ysters benodig word asook die langer lewensverwagting van die groot kapitaalbeleggings.

Ander vaste koste wat baie verminder kan word, is salarisse, versekering en waardevermindering van toerusting. Omdat daar baie minder tyd per hektaar gewerk word, kan een arbeider heelwat meer hektaar per dag doen. Verder, omdat baie minder masjinerie benodig word, is masjinerieversekering ook heelwat minder.

In totaal kan die koste maklik 15% minder wees. Onthou net, as besluit word om oor te skakel kan die druk op die kontantvloei vir die eerste vyf jaar verhoog word omdat ‘n groot klomp betaalde toerusting met nuwes vervang moet word. Beplan hierdie oorskakeling sorgvuldig.

Wat die opbrengste betref, was hierdie drie jaar nog te kort om presies te sê wat gaan gebeur. Oor die algemeen het die direkte plant stelsels alle verwagtinge oortref. Die opbrengste was veral in die Nigel proef baie beter as die konvensionele stelsels. Op die sandgronde is die proef slegs vir twee jaar geplant en het die opbrengste nie dramaties van die konvensionele stelsels verskil nie. Hierdie proewe sal nog herhaal moet word om 'n besliste antwoord te kan gee.

Laat ons egter nie hieroor twyfel nie: Daar steek iets in direkte plant wat verder ondersoek moet word en dit sal verseker die toekoms van graanverbouing verander.

Die rol van die medewerkers kan nie misgekyk word nie. Daar moet veral ‘n woord van dank aan al die produsentmedewerkers en insetverskaffers gerig word. Sonder hulle hulp kon hierdie projekte nie bestaan het nie. Weens verskeie redes is daar besluit om hierdie amptelike verbintenis tussen die verskillende rolspelers te staak en sal daar nie in die toekoms verder met hierdie proewe voortgegaan word nie.

Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 vir navrae.

Publication: February 2015

Section: On farm level

Search