• Login
  • Search Icon

'n Kwaliteit-oorsig van die 2012/2013-seisoen se mielie-oes

July 2014

JOLANDA NORTJÉ, bestuurder: Laboratorium, Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium

Met vooruitskattings vir die grootste mielie-oes sedert die 1980’s en graanlewering wat in volle swang is, is hierdie ‘n goeie geleentheid om terug te kyk na ‘n opsomming van die kwaliteit van die vorige seisoen se oes.

Veilige voedsel en voer is ononderhandelbaar en die beginpunt van enige veilige kwaliteit produk is die rou materiaal. Ongeveer 30% - 40% van die swamspesies wat bekend is, besit die vermoë om mikotoksiene te produseer onder spesifieke toestande – alreeds op die land of later gedurende opberging.

Swamgroei en mikotoksienproduksie word oor die algemeen beïnvloed deur 'n verskeidenheid van plant- en omgewingsfaktore, waaronder: Substraat/groei oppervlakeienskappe (byvoorbeeld samestelling, wateraktiwiteit, pH, suurstofinhoud), die teenwoordigheid van ander swamme of mikrobes en dan ook baie belangrik, die klimaatstoestande (temperatuur en humiditeit).

Aspergillus-spesies produseer onder meer aflatoksien en ochratoksien A. Fusarium-spesies produseer op hulle beurt miko tok siene, soos fumonisiene, zearalenoon, deoksinivalenol (DON), HT-2 en T-2.

Belangrik om te onthou, is dat swak hantering van graan, gekenmerk deur onder andere insekbeskadiging en gebreekte pitte, die vatbaarheid vir swamgroei aansienlik verhoog. Swamme wat mikotoksiene produseer, is nie net nadelig vanuit ‘n veiligheidsoogpunt nie, die voedingswaarde van die graan word ook negatief beïnvloed aangesien nutriënte, soos proteïene, vet en vitamiene uit die pitte onttrek word.

Die persentasie Fusarium-besmette pitte wat visueel tydens gradering bepaal word, het gedurende die 2012/2013-seisoen toegeneem met 0,7% tot 1,1% vergeleke met die 2011/2012-seisoen. Die persentasie Diplodia-besmetting (veroorsaak deur Stenocarpellaspesies) was dieselfde as die vorige seisoen se 0,6%.

Van die 1 000 monsters wat deel gevorm het van hierdie opname, is 100 monsters verteenwoordigend van kleur en produksiestreke getoets vir mikotoksien-residuvlakke met behulp van ‘n multimikotoksienmetode op ‘n LC-MSMS-instrument. Die resultate word gerapporteer in μg/kg, wat gelykstaande is aan dele per biljoen (dpb).

Geen aflatoksien of ochratoksien A is waargeneem op die monsters nie. Sien Grafiek 1 vir die gemiddelde mikotoksienvlakke vergeleke met die vorige seisoen. Al hierdie gemiddelde vlakke is laer as die maksimum toelaatbare vlakke vir rou mielies gespesifiseer deur die Europese Unie (EU) en die VSA. Die maksimum fumonisienvlakke is egter hoër as die EU-toelating.

image

Die mielie-oes was van ‘n goeie kwaliteit, met 85% van die wit- en 79% van die geelmielies wat as Graad 1 gegradeer het. Die persentasie gebrekkige pitte bo en onder die 6,35 mm sif, 4,6% en 4,5% vir wit- en geelmielies onderskeidelik, was effens laer as die vorige seisoen se 4,5% en 5%. Die gemiddelde persentasie gesamentlike afwykings van 4,9% was ook effe beter as die 5,1% van die 2011/2012-seisoen.

Witmielies het ‘n gemiddelde hektolitermassa van 78,2 kg/hl en geelmielies 76,6 kg/hl gehad. Die waardes het in totaal gevarieer tussen 67,8 kg/hl en 82,9 kg/hl met ‘n gemiddeld van 77,4 kg/hl wat goed vergelyk met die tienjaar-gemiddeld (77,3 kg/hl). Die honderdpitmassa (29 g) was 1,4 g laer as die vorige seisoen en 3,6 g laer as die tienjaar gemiddeld.

Geelmieliepitte bokant die 10 mm sif was gemiddeld kleiner as wit pitte. Die breekbaarheid van beide wit- en geelmielies was effens hoër as in die vorige seisoen wat die laagste waardes in die vorige tien seisoene opgelewer het. Spanningskrake het gevarieer tussen 0% - 37%, die 5%-gemiddeld stem ooreen met vorige seisoene. Maalindekswaardes het gevarieer tussen 46,9 tot 119,5 (gemiddeld 95,1) – effe hoër as verlede seisoen. Witmielies toon weer eens 'n hoër gemiddelde waarde (97) as geelmielies (93,2).

Die gemiddelde persentasie ekstraksie (meel totaal) van witmielies verkry op die Roff-meule was gemiddeld 79,2% (gelykstaande aan die vorige seisoen) en het gevarieer van 71,8% tot 84,3%. Die gemiddelde witheidsindeks van gesifte meel was 25,1 en vir ongesifte meel 15,9, laer as in die 2011/2012-seisoen.

image Die gemiddelde vetinhoud van die 2012/2013-oesmonsters was 4%, gelykstaande aan die 2011/2012-monsters en effens hoër as die geweegde tienjaar-gemiddeld van 3,9%. Die gemiddelde proteïeninhoud (9,2%) was 0,5% hoër as die vorige seisoen se gemiddeld asook die tienjaar-gemiddeld. Die styselinhoud het met gemiddeld 1,2% afgeneem vergeleke met die 72,8% van die vorige seisoen en is ook 0,6% laer as die geweegde tienjaar-gemiddeld van 72,2%.

Die gemiddelde vetinhoud van witmielies is gelykstaande aan dié van die vorige seisoen en 0,2% hoër as geelmielies. Wit- en geelmielies het albei ‘n gemiddelde proteïeninhoud van 9,2% gehad. Die styselinhoud van beide wit- en geelmielies is onderskeidelik 1,2% en 1,1% laer as in die vorige seisoen. Hierdie resultate word op ‘n vogvrye/droë basis gerapporteer. Die grootste mielieproduserende provinsies in Suid-Afrika is die Vrystaat, Mpumalanga en die Noordwes Provinsie. Die Vrystaat en Noordwes Provinsie het die hoogste gemiddelde hektolitermassas gerapporteer, terwyl Mpumalanga die hoogste honderdpitmassa gehad het. Die hoeveelheid spanningskrake en die breekbaarheid van die mielies vanuit hierdie drie provinsies, het nie betekenisvol verskil nie. As daar na die persentasies bokant die 10 mm sif gekyk word, het die Noordwes Provinsie die kleinste pitte gehad. Hierdie waarneming kan waarskynlik toegeskryf word aan die droogtetoestande ondervind in dié provinsie.

Mpumalanga het die laagste gemiddelde persentasie totale afwykende pitte (3,3%) gehad, gevolg deur die Vrystaat (4,4%) en dan die Noordwes Provinsie (5,7%). Hierdie neiging is ook in die vorige twee seisoene waargeneem. Die gemiddelde maalindeks was die laagste in Mpumalanga en die hoogste in die Noordwes Provinsie. Mpumalanga het ook die laagste gemiddelde ekstraksiewaardes getoon. Daar was nie noemenswaardige verskille in die witheid van die meel vanuit die drie provinsies nie.

Die gemiddelde vet- en styselwaardes het nie betekenisvol verskil nie. Die proteïeninhoud van die monsters het gevarieer tussen 'n gemiddeld van 8,8% (Mpumalanga) tot 10% (Noordwes Provinsie).

Besoek gerus die SAGL se webtuiste by www.sagl.co.zavir volledige resultate van hierdie en vorige seisoene se mieliekwaliteit op streeksvlak asook nasionale gemiddeldes. Verslae is ook hier beskikbaar in PDF-formaat.

Hierdie kwaliteitsopname is moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning van die Mielietrust asook die Graan Silo Industrie en sy lede wat die monsters verskaf het.

Publication: July 2014

Section: On farm level

Search