• Login
  • Search Icon

'n Droogte is nooit lekker nie, maar wat leer ons daaruit?

June 2015

KOBUS VAN ZYL, landboukundige: Omnia Kunsmis

Elke produksieseisoen is uniek en gewoonlik nie sonder kinkels nie. Dié kinkels bied vir ons ‘n geleentheid om aanpassings te maak en te leer uit ons foute. Die groot vraag bly egter of ons die kinkels reg verstaan en of ons net aannames maak?

Indien daar aannames gemaak word, kan dit selfs tot groter foute lei en baie skade berokken. Dikwels weet ons nie eers van die foute of skade nie, want ons het niks om dit mee te vergelyk nie. Die vergelyking is gewoonlik die buurman se gewas wat dalk twee dae later of vroeër geplant is en moontlik nog ‘n ander gewas op gehad het gedurende die vorige seisoen. Is so ‘n vergelyking regverdig?

In baie gevalle word daar ook op die regte manier vergelykings getref, sonder enige foute, maar die reën bly net weg en die droogte vertroebel enige positiewe resultate wat beproef is. Die afgelope produksieseisoen het ons maar net weer eens die impak van ‘n droogte besef in groot dele van die Noordwes-Vrystaat en die Noordwes-mielieproduksiegebiede. Groot dele van die ander mielieproduserende gebiede het ook deurgeloop onder droogteskade.

Die weer (reënval, reënvalverspreiding, temperatuur en wind) het steeds die grootste invloed op mielieproduksie in die grootste deel van Suid-Afrika. Die weer (spesifiek wind) was die hoofdryfveer vir bewaringsbewerking/stoppelbewerking/rip-op-ry-praktyke wat vanaf die vroeë 70’s baie suksesvol in die Noordwes-Vrystaat en Noordwes Provinsie toegepas word.

Wat het hierdie praktyk so suksesvol gemaak op die sanderige gronde van die Noordwes-Vrystaat en Noordwes Provinsie? Die antwoord is dat met hierdie praktyk het ons nie net daarin geslaag om die verwoestende effek van die wind beter te beheer nie, maar ook om met dieper bewerking, mieliewortels toegang te gee tot groter volumes nat grond.

Die plantbeskikbare grondvog (mm/m) en kapasiteit (diepte van die gronde) is bepalende grondeienskappe wat die gewasopbrengs sal beïnvloed. Watertafelgronde kon dus deur hierdie praktyk tot hul reg kom, veral in die jare waar reënval beperk of swakverspreid voorgekom het. Die praktyk word vandag nog baie suksesvol toegepas op sanderige watertafelgronde.

Ons het met redelike droë grondprofiele die vorige produksieseisoen (2013/2014) geëindig. Die gevolg hiervan was dat heelwat primêre bewerking eers ná goeie reën, laat in die 2013/2014-seisoen plaasgevind het. Opvolgreën het dit moontlik gemaak om reeds bewerkte grond in November 2014 te plant. Die grondvog was nie ideaal nie, (droë laag op 30 cm - 50 cm) maar ten spyte daarvan het die mielies en vroeë sonneblomme goed opgekom. Goeie opvolgreën vroeg in die seisoen het vir dié aanplantings die deurslag gelewer.

Goeie algehele reën was skaars die seisoen en die dele wat meer reën gekry het, kon op ‘n afstand gesien word. Op die oog af, volgens visuele waarnemings, het dit gelyk of sonneblom en sojabone die droogte beter hanteer het as mielies. Mielies wat op sonneblomlande van die 2013/2014-seisoen geplant is, het erge droogtestremming getoon, veral waar daar laat sonneblomme geplant was tydens die 2013/2014-seisoen.

Die meeste gewasse is aan erge droogtestremmingstoestande blootgestel. Lande met voldoende vog, soos oorlêlande, kon die uiterste toestande baie beter hanteer. Mielies wat aan die einde van Januarie en vroeg in Februarie in die pluimstadium was, het op verskeie plekke en op verskeie mieliekultivars swak bestuif.

In Tabel 1 word die maksimum temperature en minimum relatiewe humiditeit vanaf 7 tot 11 Februarie vanjaar vir Bothaville en Viljoenskroon aangetoon. Heelwat mielies wat einde November geplant is, was tydens die hittegolf in die saad en besig om te bestuif.

image

Viljoenskroon het 25 mm reën van 25 tot 31 Januarie 2015 gehad. Bothaville het gedurende hierdie periode geen reën by die weerstasie gehad nie. Viljoenskroon het op 17 Februarie, 18 mm reën by die weerstasie gehad. Foto 1 dui die onegalige en ook swak bestuiwing op mieliekoppe aan.

image

Plantdatums wat op dieselfde mieliekultivar met twee of drie dae verskil, was vanjaar bepalend vir goeie bestuiwing teenoor swakker bestuiwing. Dié verskynsel wys maar net weer op plantdatums wat versprei is en ook die aanplanting van ‘n pakket van kultivars om moontlike risiko te verminder.

Wanneer mielies en ander gewasse onder droogtestremming verkeer, begin die sekondêre siektes en peste ook ‘n rol speel. Stam en -wortelvrot asook houtskoolvrot het algemeen voorgekom op mielies. Foto 2 wys duidelik die verskil tussen twee mielieplante; die een nog groen (regs) en die ander plant reeds dood en verdroog (links). Die koppe op die plant met houtskoolvrot, se pitte het gery, terwyl die plant wat nog groen was, se pitte glad nie gery het nie. Dit wys duidelik dat dit nie net die droogte was wat hier ‘n invloed gehad het nie, maar ook wortel- en stamsiektes onder ‘n monokultuurstelsel.

Rooi spinnekop besmetting het ook redelik algemeen voorgekom en was veral prominent waar erge droogtestremming of wortelskade (stam- en wortelvrot) voorgekom het.

Droogtegeïnduseerde tekort van voedingstowwe het ook tydens die seisoen op mielies, sonneblom en sojabone voorgekom. Die voedingstowwe is wel toegedien, maar as gevolg van te min grondwater, kon veral die voedingstowwe wat hoofsaaklik deur massavloei opgeneem word, nie dieselfde impak hê as onder optimale grondvogtoestande nie. Hier het die tydige toediening van die regte bemestingsproduk die grootste effek gehad.

Sojaboonaanplantings het die afgelope seisoen redelik toegeneem. Een van die grootste beperkings bly die hoë voorkoms van aalwurms in sanderige grond. Die aalwurms val die sojaboonwortels aan en maak die wortels minder effektief in terme van water- en voedingstofopname. Verpotte, stadig-groeiende plante is dan ‘n algemene simptoom. Foto 3 dui aalwurmskade op sojaboonwortels aan.

image

‘n Graanprodusent is in wese ‘n risikobestuurder. Alle moontlike risiko’s wat bestuur kan word, moet verstaan en bemeester word. Indien die risiko bestuur word en goeie basiese praktyke gevolg word, is die geleenthede amper onbeperk. As jy belangstel om saaiboerderyrisiko’s op jou plaas te verstaan en bemeester, praat gerus met jou plaaslike Omnia-landboukundige.

Publication: June 2015

Section: On farm level

Search