38
November 2015
BENNIE GROVÉ,
Universiteit van die Vrystaat
Snoei koste van besproeiings-
elektrisiteit
deur ontwerp, bestuur
en elektrisiteitstariefkeuse
I
n die verlede het die Nasionale Ener-
giereguleerder van Suid-Afrika (NERSA)
gepoog om elektrisiteitsverskaffing só
te reguleer dat Suid-Afrika se energie-
koste van die laagste in die wêreld is.
In effek het die koste van elektrisiteit vanaf
1988 tot 2002 met minder as inflasie gestyg.
Vir die volgende vyf jaar daarna was die
toename in elektrisiteitstariewe nou ge-
koppel aan inflasie. Sedert 2008 beleef
Suid-Afrikaners egter onrealistiese hoë
elektrisiteitstariefaanpassings wat ‘n direkte
impak op die verbruiker het.
Gegewe die huidige situasie ten opsigte
van kragvoorsiening in Suid-Afrika, dui alles
daarop dat onrealistiese hoë elektrisiteits-
tariefverhogings ons in die toekoms steeds
in die gesig gaan staar. Alhoewel alterna-
tiewe hernubare energiebronne bestaan, is
die investeringskoste wat benodig word om
dieenergiebronnevirkommersiëlebesproei-
ingsprodusente toeganklik te maak, nog
te hoog.
Vir sommige besproeiingsprodusente is die
effek van verhoogde elektrisiteitstariewe op
totale besproeiingskoste meer as vir ander
omdat hulle in ouer energie-ondoeltref-
fende besproeiingstelsels geïnvesteer het.
‘n Wisselwerking bestaan tussen die verla-
ging van investeringskoste deur besproei-
ingspype met dunner diameters te gebruik
en die toename in bedryfskoste as gevolg
van die toename in drywing (kilowatt) wat
benodig word om die water deur die pype
met dunner diameters te pomp.
Fokusareas vir besparing
Aangesien baie produsente gepoog het
om investeringskoste laag te hou, kan
etlike besproeiingsprodusente se totale be-
sproeiingskoste verlaag word deur beter
ontwerpte besproeiingstelsels te bekom.
Die Suid-Afrikaanse Besproeiingsinstituut
(SABI) is verantwoordelik om te verseker
dat besproeiingsontwerpe ooreenkomstig
goedgekeurde norme gedoen word. Hoër
elektrisiteitstariewe het egter veroorsaak
dat sommige van die norme herbereken
moet word en dalk nie meer van toepassing
is nie.
Gegewe elektrisiteitstariefverhogings wat
die toekomstige winsgewendheid van
besproeiingsboerdery bedreig, het die
Waternavorsingskommissie (WNK) ‘n pro-
jek geïnisieer en gefinansier wat handel
oor “Die optimale gebruik van elektrisiteit
en water vir die volhoubare bestuur van
besproeiingsboerderysisteme” wat tans
deur die Departement Landbou-ekonomie
aan die Universiteit van die Vrystaat uit-
gevoer word.
Die projekspan het drie breë fokusareas
geïdentifiseer ten einde elektrisiteitskoste
te bestuur.
Figuur 1
toon die drie fokusareas
wat vanaf die wiskundige vergelyking vir die
berekening van veranderlike elektrisiteits-
koste vir die pomp van besproeiingswater
afgelei is.
In wese is pompkoste die produk van die
besproeiingstelselontwerp besproeiings-
bestuur wat die hoeveelheid pomp-ure be-
paal en die spesifieke elektrisiteitstarief wat
gebruik word. Die feit dat pompkoste die
produk van die drie fokusareas is, impliseer
dat een van die fokusareas nie afsonderlik
aangespreek kan word om elektrisiteits-
koste te bestuur sonder om die ander in ag
te neem nie.
‘n Geïntegreerde raamwerk wat al drie die
fokusareas omvat, is ontwikkel om die wis-
selwerking tussen pypinvesteringskoste en
bedryfskoste met inagneming van ver-
skillende elektrisiteitstariefstrukture onder
optimale besproeiingsbestuur te evalueer.
In wese vind die model ‘n ewewig tussen
die vraag na elektriese energie wat gebruik
word om ‘n bemarkbare produk te lewer en
die koste om aan die vraag te voorsien. ‘n
Unieke eienskap van die model is dat die
tydsberekening van besproeiings en die
hoeveelheid besproeiingswater wat toege-
dien word (vraag) deur ‘n grondwaterbe-
groting bepaal word.
Laasgenoemde is veral belangrik wanneer
die koste om aan die vraag op verskillende
tye te voorsien, verskil, soos wanneer tyd-
van-gebruik elektrisiteitstariefstrukture ge-
bruik word.
Toepassing
Die raamwerk is toegepas in die Douglas-
omgewing om die optimale pypdiameters
vir ‘n 30 ha-spilpunt met twee verskillende
watertoedieningskapasiteite vir Landrate en
Ruraflex te bepaal.
Landrate het ‘n vaste tarief per kilowatt-uur
(R/kWh) ongeag wanneer besproei word.
Ruraflex is ‘n sogenaamde tyd-van-gebruik
tarief waar verskillende tye van die dag, dae
van die week en selfs seisoene verskillende
tariewe het.
“
Besproeiingsprodusente moet egter daarop
let om so min as moontlik binne spitstye te
besproei, wanneer die Ruraflex-tarief
aansienlik hoër is as dié van Landrate.
“
FOKUS
Natuurlike hulpbronne en energie
Spesiale