Mei 2017
44
Gewasdiversiteit se kritiese rol
in bewaringslandbou
vir Noordwes Provinsie ondersoek
G
ewasdiversiteit, of anders gestel, gewasse wat in afwis-
seling of assosiasie met mekaar geplant word, is een van
die drie beginsels van bewaringslandbou. Die mikpunt is
om soveel as moontlik gewasse in ruimte (per hektaar)
en tyd (per seisoen of jaar) te plant, wat ondersteuning kan verleen
om die ekologiese beperkings en probleme van monokultuurstelsels
te oorkom.
In onversteurde en onbesoedelde ekologiese stelsels in die natuur
word ‘n gesonde balans tussen plant- en dierespesies gehandhaaf.
Met konvensionele gewasproduksie word die ekologie, oftewel die
habitat vir verskeie spesies, versteur en só word die voortbestaan
van sekere spesies beperk.
Voorts word gewoonlik slegs een gewas, naamlik mielies, jaar na
jaar verbou. Weens die herhaalde versteuring van die grond deur
bewerkings en die beperking van die mikro-organisme se voeding
tot slegs mielies, neem die aktiwiteit en die populasiedigtheid van
sommige grondorganismes af.
Ander organismes, soos bepaalde patogene, kan nou floreer, want
die balans van organismes is versteur. Kortom lei die gesondheid
van die ekologie en grond skade weens bewerking en monokul-
tuurgewasstelsels.
Die bewaringslandboubeginsel van gewasdiversiteit hou die
volgende voordele vir gewasverbouing in:
Dit bevorder grondgesondheid: Gewasdiversiteit laat die
grondmikrobebevolking se diversiteit en aktiwiteit toeneem
– dit voed die grondvoedselweb deur koolstof vanaf die
wortels na gemeenskappe van grondmikrobes te laat vloei.
‘n Verskeidenheid in gewasse (of wortels) voed en laat ‘n
verskeidenheid van grondmikrobes floreer. In ruil daarvoor
versamel en voorsien hierdie mikrobes die plant van essen-
siële minerale voedingstowwe uit die grond. As dit (die gewas-
diversiteit) reg bestuur word, handhaaf en verbeter die natuur
hierdie voordelige verhouding tussen plante en grondlewe
– én dit vermeerder grondorganiese materiaal – ryk, stabiel en
lewegewend.
Die aanhoudende voorsiening en opbou van grondorganiese
materiaal is kernbelangrik vir grondgesondheid en produkti-
witeit. Dit hou ‘n reeks voordele in, soos verbeterde grond-
struktuur, verhoogde vlakke van grondvrugbaarheid en
grondwaterhouvermoë, asook uiteindelik veerkragtigheid – dit
is die vermoë om te herstel ná groot versteurings en rampe
en die vermoë om groot probleme, soos erosie, droogtes en
aardverwarming, te bekamp – alles belangrike eienskappe van
‘n volhoubare en selfgenererende landboustelsel.
Dit bevorder omgewingsgesondheid: Dit verminder die loging
van grondvoedingstowwe, verminder afloop, erosie en water-
besoedeling en verbeter koolstofvaslegging in die grond.
Agronomiese voordele: Dit verbeter die beheer van onkruide,
siektes en peste en verbeter die habitat vir voordelige insekte
en bestuiwers (soos bye). Dit alles lei tot die vermindering in
die gebruik van onkruid-, swam- en insekdoders. Sodra die
mikrobe-diversiteit en -aktiwiteit in die grond hoog is, word die
vermoë van patogeniese organismes en ander plae om skade
aan die gewas aan te rig, beperk, of selfs voorkom. Patogene
loop dan self onder parasitisme of antagonisme van ander
“goeie” organismes deur. ‘n Goeie voorbeeld is Fusarium wat
wortelvrot by mielies veroorsaak, wat deur die teenwoordig-
heid van mikorisa onderdruk word.
Ekonomiese voordele: Dit verhoog opbrengste en verminder
kostes, dit stabiliseer opbrengste tydens droogtes en dit verleen
‘n buigsaamheid aan die produsent om aan te pas by verskillende
kommoditeitsmarkneigings.
Met wisselbou en dekgewasmengsels as deel van bewaringsland-
bou, word gepoog om die mikro-organismediversiteit en daarom
die gesondheid van die grond, te herstel en sodoende die doel-
treffendheid van gewasproduksie te verhoog.
Dit is veral rotasies en assosiasies tussen grasse (soos mielies,
sorghum, koring en hawer), peulgewasse (soos akkerbone, sojabone
en wieke) en ander breëblaargewasse (soos sonneblom, radyse en
rape) wat weens hul unieke worteluitskeidings ‘n baie belangrike rol
speel om die diversiteit en aktiwiteit van organismes te bevorder.
Die verbeterde grondgesondheid word dan dikwels in die verhoogde
opbrengs van die mielies wat ná die peulgewas verbou word, waar-
geneem. Die verhoging word gewoonlik verkeerdelik aan addi-
sionele stikstof wat deur die peulgewas gebind en oënskynlik
agtergelaat is, toegeskryf. Die verhoogde opbrengs is eerder die
gevolg van ‘n gesonde en groter gewaswortelstelsel wat die water
en voedingstowwe in die grond doeltreffender ontgin as in die geval
van monokultuurmielies.
Die invloed van droogte in die semi-ariede klimaat van die Noord-
wes Provinsie, oortref gereeld die invloed wat die grondgesondheid
op die opbrengs van mielies het, met onverwagte resultate.
Peulplante en sonneblom het penwortelstelsels wat beter daarin
slaag om water in die dieper deel van die grondprofiel te benut
as wat mielies daartoe in staat is. Dit gebeur dikwels dat min reën
gedurende die laat somer val, terwyl die gewasse nog aktief water
uit die grond opneem. In dié geval droog peulgewasse en veral
sonneblom die dieper deel van die grondprofiel uit, terwyl daar by
mielies nog vog na die volgende seisoen oorgedra word.
OP PLAASVLAK
Gewasdiversiteit / Grondgesondheid / Grondorganiese materiaal
Bewaringslandbou
DR ANDRÉ NEL,
onafhanklike akkerboukundige en
DR HENDRIK SMITH,
bewaringslandboufasiliteerder: Graan SA
Deel 1: Gewasrotasie