112
Beste Grootneef
k
lipmense is besondere mense. Daar is nie baie van hulle
nie. Die meeste aardbewoners loop by ‘n klip verby
sonder om veel aandag daaraan te gee. Want jy moet ‘n
oog vir ‘n klip hê.
Dit is nie altyd die blink kant wat bo lê nie. Soms moet
jy so effe dieper delf. Maar tussen die wye vlaktes en klippers van
vele vorme en karakter, lê daar daardie spesiale een wat wag om
opgetel te word.
Daardie stukkie versteende hout uit die oertyd. Tot dáár ge-
spoel deur wie weet watter vloed uit ‘n woud van lank gelee. Of
‘n klipmes uit die steentyd. Die eertydse eienaar terug tot stof,
met sy kosbaarste besitting verlore vir ‘n leeftyd. Tot op daardie
oomblik dat jy dit uit die woestynland of grasveld optel en die
gladde wande van die eeue-oue steen in jou hand toevou. ‘n Klipmes
het ook ‘n gevoel – altyd bly om weer te behoort.
Wat van ‘n maalklip, met jare se slyp en skuur tot ‘n holte in
die blou ysterklip gevorm? Elke maalklip uniek – met ‘n styl
en fatsoen wat net tyd en toewyding kan gee. In die verre
verskiet elke dag se kooksel fyngemaal op dié klipmeule, in die
sweet van ‘n vrou se aangesig. Ritmies heen en weer, totdat die
hardste van pit tot meel verbrokkel het.
Waarheen het die mense getrek wat so ‘n maalklip agterlaat?
Die holte oor tyd, klip op klip, gebrei. Was daar dalk ander
groener weivelde wat gelok het? En was dit swaar om die vrug
van jou arbeid net daar op die vlaktes te laat, om weer op ‘n ander
plek ‘n nuwe klip met ‘n meulsteen glad te
maal. Want ‘n maalklip moes enige plek ‘n
bietjie soos huis laat voel het – maak nie saak
hoe nederig die kookskerm was nie.
Die graal van ‘n mensgemaakte klip bly egter
‘n egte regte Koi San-klip. Dit is nie baie
beskore om só ‘n vonds raak te loop nie.
Matelose moeite tot die klip koeël-rond in ‘n
jagter se hand kon pas – sommige daarvan
met ‘n gaatjie in die middel deur. Hoe op
aarde ‘n eenvoudige veldmens ‘n klip só kon
vorm, weet nugter. Probeer self met van-
dag se gereedskap van beitel, draaibank en
boor om ‘n replika te maak! Dán eers ver-
staan jy die wonderwerk om só klip met klip te
vorm – tot dit in ‘n hand volmaak sou pas.
Van meet af aan het mens en klip tyd gedeel.
Die vroegste van boeremense het ‘n stapel
of klippaal as merker erken. Lank voordat
bloekombome vir pale in die Vrystaat wortel
geskiet het, is grense met klippale uitgesit.
Die ou klipreuse staan vandag steeds stil op wag deur wind en weer
– om aan te toon waar wie se deel oor die vlaktes loop.
Net só het kliphuise hier en daar verrys om die Vrystaat te versier.
Huise met karakter, klip vir klip uit die steengroef gekap.
Sommige klipmense hou daarvan om hul name op klippe uit te kap.
So om op ‘n manier tydloosheid aan hul eie verganklikheid te gee.
Vandag nog stop vele reisigers in Meiring se poort om te kyk waar
Langenhoven sy droom-olifant “Herrie”, gedoop het. Of Debora se
klip, waar Piet en sy klompie trekkers op pad Natalia toe oorgestaan
het. Salig onbewus van Weenen wat wag.
Selfs die kleinste ou kerkie het ‘n hoeksteen met ‘n naam of twee,
wat vertel van ‘n groepie mense wat aan ‘n droom begin bou het.
Die ou foto’s in die konsistorie vertel van die manne van die tyd,
met ‘n hoeksteen blink agter ‘n gordyntjie, om die dag en datum
te vier.
‘n Klip is ‘n bousteen uit die aarde se binneste. ‘n Geslingerde klip
kan egter ook vernietig – vra maar vir Goliat wat ‘n gladde spoelklippie
uit ‘n slingervel kon doen.
‘n Klip of woord uit woede gegooi, se trefkrag is wyd – met ‘n rol-
effek soos ‘n veldbrand. Die verskil is net, veld kan weer na die reën
herstel. Soms hou een woord mense egter vir ‘n leeftyd uitmekaar.
Dan is dit ‘n steen des aanstoots.
Groete op die Oosgrens!
Kleinneef
E-POSSE
aan Groot neef
Klipmense
Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by
kleinneef@graingrowers.co.za.
Augustus 2016