Previous Page  130 / 132 Next Page
Information
Show Menu
Previous Page 130 / 132 Next Page
Page Background

128

Beste Grootneef

t

ydens die wintervakansie het ons ‘n draai in die Kalahari

gaan maak. Van Twee Rivieren, al met die sandpaadjie

langs die ou rivierbedding tot by die Nossob-ruskamp.

Ou Neef, dis die beste sinkplaatpad in die land – die eiers

klits hulself so in die dop. Wiele afblaas en versigtig aankruie

is die enigste raad.

Maar die beloning is groot as jou kamp opgeslaan is en die vuurtjie

brand! Dan is daar nie ‘n beter plek om te wees nie. Snags, wanneer

Nossob se leeus om die kamp gebrul het, het die tentseil effe

dun gevoel. Soggens het die leeuspore die wêreld vol gelê – net

om te bevestig dat die brullery nie Buurman se snorkery in die

tent langsaan was nie: ‘n Spoor so groot soos ‘n man se hand!

Ou Neef, alles goed en reg met die kampery. Die vrouens

was tevrede en die bier koud. Maar toe kom loop ‘n ander ding

deur die kamp. Waggelend op sy agterpote al die pad van die

Suidpool af. Daardie nag het ‘n ysbeer sy spore oor die hele Kalahari

kom gooi. Wegkomkans was daar nie. Die watergate en krane

het toegevries. Voertuie het die volgende oggend van die stywe

diesel verstik en na ‘n paar tree bly staan, nadat die diesel oornag

in Jelly Tots verander het. Hier en daar was ‘n 4x4-ramkat wat

sy bakkie “gebloei” het om aan die gang te kom, maar die beste

raad was doodeenvoudig om ‘n oggendvuurtjie te maak en lang­

saam te ontdooi. Die voertuie het weldra een vir een met ‘n stotter

en ‘n kug aan die gang gekom – vir die wat wel ‘n draai wou ry.

Die volgende nag het die ysbeer weer behoorlik sy tande ingeslaan

met ‘n minus wat ver onder vriespunt gesak het. Ou Neef, jy weet dis

koud wanneer

Home Affairs

weier om die bottel sjerrie terug te gee...

Hopelik baan die yskoue winterdae die weg na ‘n somer-Kersfees

met milde reën. Die ou mense het hoeka gesê dat ‘n koue winter

nodig is vir ‘n goeie somer.

Die terugrit het ons toe by ‘n plekkie met die naam van Pella

verbygeneem: Harde wêreld van ysterklip en kokerboom. Met

somers waar die kwik hoog in die 40’s gaan draai. Langs die

Oranjerivier het die oom vir hom ‘n hele plantasie dadels geplant.

Nie ‘n rytjie palms soos by Pofadder se inrit nie, maar ‘n plantasie.

Dis soos ‘n oase in die woestyn. Die water uit die rivier word na

verskeie damme en tenks gepomp en van daar word die dadel-

plantasie bedrup. Ons het ook gesien hoe ‘n nuwe akker vol da­

delpalms aangeplant word. By die winkeltjie op die werf, kon

‘n mens pakkies dadels koop – geklas en gekeur in drie groottes,

met ‘n klas vir uitvoere. Die boksies was netjies gemerk – ook in

Arabiese skrif. Die dadels word selfs na die Midde-Ooste uitgevoer.

In die vrye natuur neffens die dadelplantasie, groei daar enkele

kokerbome en ‘n paar kameeldorings. Eintlik is dit ‘n klipwoestyn.

Ou Neef, om in dié harde klimaat tussen die Richtersveld en die

Oranje nie net te oorleef nie, maar te gedy, wil gedoen wees.

In die man van “Klein Pella” se storie, is daar drie dinge wat ‘n

verskil maak. Die eerste is waterwysheid – om elke druppel te laat

tel. Die tweede is om ‘n ding te plant wat in daardie wêreld aard.

‘n Dadelpalm in die woestyn maak sin. Die derde een is moed.

Om genoeg moed te hê om ‘n nuwe plantasie vir die volgende geslag

tussen die woestynklippe uit te lê. Ou Neef, mens moet jou hoed

lig vir die span van Klein Pella.

Dit bring my terug in die Vrystaat. Of die man van Pella se planne

vir ons wêreld kan werk, is ‘n ope vraag. Vir water laat lê ons lande

oor en wag vir reën op sy tyd, met die hoop dat die mielies die

midsomerdroogte sal oorleef. Die moed om aan te hou, het ons.

Ons is immers Vrystaters. Grond word ook so bewerk dat dit vir die

volgende geslag bewaar sal wees. As jy nie jou grond bemes nie,

myn jy dit immers.

By die derde deel van die oom se plan lê die moeilikheid egter:

Aard ‘n mielie nog in die Vrystaat – met reën wat al hoe later kom en

met korter groeiseisoene? Maar wat sal ons in die plek daarvan

plant? ‘n Mielieplantery is tog waarmee ons grootgemaak is.

Dis dié dat ek vanoggend op ‘n “

Google

-reis” is. Om te kyk wat laat

‘n medjool-dadelpalm blom.

Groete op die Oosgrens!

Kleinneef

e-posse

aan Groot neef

Dadels

Lesers is welkom om ‘n e-pos na Kleinneef te stuur by

kleinneef@graingrowers.co.za.

September 2018