Previous Page  29 / 108 Next Page
Information
Show Menu
Previous Page 29 / 108 Next Page
Page Background

27

August 2018

Indien grondbewerking verkeerd ingespan word, sal dit nie net

negatiewe effek op die finansiële sy van boerdery hê nie, maar ook

op die chemiese, fisiese en biologiese aspekte en eienskappe van

die grond. Grondstruktuur en prosesse soos infiltrasie, deurligting,

grondfauna-aktiwiteit en geakkumuleerde organiese materiaal

word negatief beïnvloed.

Oor tyd het ons besondere groot verskuiwings in bewerkingstel-

sels gesien en beleef. In die 1960’s was die ploeg sekerlik die

belangrikste implement en almal het dit gebruik. In die 1970’s

– en veral in die 1980’s – het die gebruik van beitel- en skeurploeë

na vore getree. Veral in die watertafelgronde het die gebruik van

tandemskeurploeë met spoorverkeer ernstig posgevat.

Hierdie stelsels het ten doel gehad om die deklaag van die grond

sover moontlik te behou en winderosie sodoende onder beheer

te hou. Tog dink ek die groot verandering het gekom bloot omdat

dit goedkoper as die konvensionele stelsels was en omdat die

opbrengs nie noodwendig laer was nie. Finansies het derhalwe die

verandering teweeg gebring.

Genoemde veranderings het tog ook ander voordele vir boerderye

ingehou. Waterafloop en grondverlies is die prosesse wat die

negatiefste invloed op grondpotensiaal het. Die vestiging van

deklaagbewerking en die gebruik van tandimplemente het hierdie

saak dramaties verander. Grondkompaksie is ook verminder,

die afbreek van organiese materiaal is verlaag en die grond se

waterretensie-eienskappe is verbeter.

Hierdie verandering in die bewerkingstelsels het ook nie son­

der uitdagings gekom nie. Blaarsiekte, meer insekte, hoë be­

stuursvereistes en die aanskaf van nuwe toerusting wat binne die

stelsel aangepas is, was van die uitdagings wat oorkom moes word.

Verminderde en deklaagbewerking het ook heelwat voordele vir

die boerderygemeenskap teweeggebring. Die grootste hiervan was

dat die hoeveelheid diesel wat verbruik is, dramaties afgeneem

het. Wind- en watererosie is verminder en beheer en die stelsel

het die saadtelers gedwing om die kultivars aan te pas om by die

bewerkingstelsels te pas.

Ten einde hierdie stelsel te maak werk, het al die rolspelers in die

bedryf hande gevat en die insette vir die stelsels só aangepas dat dit

die beste resultate vir die stelsel opgelewer het. Gelukkig maak die

finansiële lewensvatbaarheid van die stelsel ook sin.

In

Tabel 1

word die resultate van ‘n proef op Cedara (wat oor elf jaar

gestrek het) getoon. Hierdie resultate toon ‘n groot variasie tussen

die verskillende stelsels. Volgens hierdie inligting is daar met die

eerste oogopslag beduidende verskille tussen die stelsels, maar

wanneer dit fyner ontleed word, is dit duidelik dat as al die kostes

ingesluit is, daar nie werklik groot verskille is nie.

Verminderde bewerking

Verminderde bewerking het ‘n paar beginsels wat nagekom moet

word: Die grond moet verkieslik so min as moontlik versteur word

en die grondbedekking moet ten minste 15% van die oppervlakte

beslaan – hoe meer, hoe beter.

Hierdie deklaag verminder die effek van wind- en watererosie en

verhoog die grondvoedingstatus deur die afbreek van die plantreste.

Sekerlik die belangrikste voordeel is die bestuur en vermindering

van grondverdigting.

Buiten hierdie voordele, stel verminderde bewerking ook hoër eise

aan produsente. Dit sluit kultivarkeuses en gewaskombinasie in,

wat weer geïntegreerde pes-, plaag- en onkruiddoderprogramme

vereis. Tydigheid raak al hoe belangriker, omdat die gebruik van

verkeerde chemiese middels nie so oorkomelik is as wat die geval

met meganiese foute is nie.

Die meeste van hierdie inligting is verkry uit die LNR se

Mielie-

inligtinggids

(MIG) vanaf 2002 tot 2016. Vir navrae kontak

die outeur by 082 759 2991.

1: Ploegbewerking is moontlik die oudste bewerkingstelsel. Die bestuursintensiteit is laag, maar die koste is hoog.

2: Beitelploegbewerking is heelwat goedkoper as ploegbewerking. Hierdie bewerkingstelsel is egter meer bestuurintensief.

3: Die tendens van direkte plant of ‘n geenbewerkingstelsel is ‘n nuwe praktyk wat in die afgelope paar jaar besonder veld gewen het.

Hierdie stelsel se meganisasiekoste is laer, maar dit is heelwat meer bestuursintensief.

4: Die gebruik van eenrigtingploeë het op ‘n stadium heelwat aftrek gekry. Hierdie implement het die vermoë om onkruid besonder

goed te beheer.

1

3

4

2