Multirisikoversekering
in Suid-Afrika
A
lhoewel die benaming “multirisikoversekering” aandui dat
meer as een gevaar gedek word, is verreweg die meeste
multirisikoversekeringseise in Suid-Afrika die gevolg van
droogte.
Multirisikoversekering is presies wat dit sê, naamlik dat dit ‘n
omvattende dekking verskaf – mits goeie boerderypraktyke toege-
pas word. Die individuele kliënt word teen sy eie geskiedkundige
opbrengs gemeet en die verskil tussen die waarborgopbrengs en die
gestroopte opbrengs word as ‘n eis uitbetaal.
Wat is die stand van multirisiko-
versekering in Suid-Afrika?
Daar word beraam dat ongeveer 20% van die totale somergraan-
oppervlakte in Suid-Afrika dekking onder multirisikoversekering
geniet. Dit speel ‘n belangrike rol as sekuriteit vir produsente wat
van insetfinansiering gebruik maak. multirisikoversekering het nog
altyd ‘n belangrike rol gespeel om te verseker dat produsente
volhoubaar kan boer – veral in die afgelope paar droogtejare.
Multirisikoversekering moet oor ‘n langer tydperk as enkele jare
waargeneem word. Die geskiedenis het bewys dat produksie-
toestande en reënval dikwels groepeer in reekse van natter of
droër jare. Neem byvoorbeeld die droogtes van 1964 tot 1967, vanaf
1982 tot 1987, vanaf 1991 tot 1996 en die droër jare vanaf 2001
tot 2007.
Korttermynresultate is dikwels baie “skeef” getrek as gevolg van
hierdie agtereenvolgende droë of nat jare. Die probleem is egter
dat dit in die jare waarin daar wel eise voorgekom het, groot bedrae
beloop het. Uit ‘n versekeraar se oogpunt is dit ook problematies,
want genoeg geld moet geallokeer word om seker te maak dat eise
in hierdie “katastrofiese” jare uitbetaal kan word.
Droogte kom oor groot gebiede voor – met gevolglike baie groot
eisbedrae – en nie kol-kol soos met die voorkoms van byvoorbeeld
hael nie. Die koste om hierdie kapitaal beskikbaar te hou, is hoog,
want dit kan nie vir iets anders gebruik word nie. Daar moet maklik
ten minste ses keer meer kapitaal as wat die premie-inkomste is,
gereserveer word. Haelversekering is maar ‘n fraksie hiervan.
Selfs die langtermynresultate van multirisikoversekering is baie
geërodeer as gevolg van die feit dat drie uit die laaste vier jaar groot
multirisiko-eise as gevolg van droogteskade opgelewer het. Dit
het tot gevolg gehad dat daar in die afgelope seisoene beperkings
op hierdie tipe van versekering ingestel is. Só byvoorbeeld het
bestaande kliënte voorkeur gekry om weer van hierdie versekering
gebruik te maak indien die risiko aanvaarbaar is.
Dit is dus belangrik dat daar ‘n langtermynversekeringsgeskiedenis
tussen die versekerde en die versekeraar opgebou moet word. Dit
stel die versekeraar in staat om individuele tariewe vir kliënte te
heroorweeg en laer tariewe vir produsente wat goeie risikobestuur
doen, te vra. Indien die versekering net in swak jare uitgeneem word,
sal die tariewe net aanhou styg.
Koste van multirisikoversekering
Daar is geen versekeringsproduk wat die uitgebreide dekking gee
wat multirisikoversekering bied nie. Dit is een van die redes waarom
dit relatief duur is. Alhoewel dit vanuit ‘n versekeringsmaatskappy
se oogpunt arbeidsintensief is, is die koste om dit te bestuur relatief
klein gemeet teen die versekeringskoste om die risiko’s te dek.
Hou in gedagte dat indien ‘n versekeringsproduk duur is, dit ge-
woonlik ook ‘n aanduiding is van die risiko wat die produsent in
ag moet neem. Neem die volgende voorbeeld: Die multirisiko-
versekeringstarief as persentasie van die versekerde waarde is meer
as drie keer hoër op Lichtenburg in die Noordwes Provinsie as op
Middelburg in Mpumalanga. Hoekom?
In ‘n ontleding is gevind dat daar op die lang termyn ‘n ongeveer
30% waarskynlikheid is dat die insetkoste nie op Lichtenburg ver-
haal sal word nie – dit wil sê dat ‘n produsent drie uit tien jaar op
Lichtenburg ‘n verlies sal maak. Hierdie syfer hang natuurlik van die
kommoditeitsprys af en die berekening is gedoen op ‘n mielieprys
van ongeveer R2 500/ton. Met laer pryse en hoër insetkoste kan die
aantal jare waarin verliese gemaak word, vermeerder. Daarenteen
sal ‘n goeie produsent in Middelburg, Mpumalanga in slegs ongeveer
10% tot 15% van die jare nie gelykbreek nie.
Is die versekering van die
graanproduksiegebiede in Suid-Afrika
lewensvatbaar?
Hierdie vraag kan ook anders gestel word, naamlik: Hoe lewensvat-
baar en volhoubaar is graanproduksie soos dit tans bedryf word?
Dit is nie net droogte wat swak opbrengste veroorsaak en verliese
tot gevolg het nie; dit gebeur ook wanneer laer kommoditeitspryse
voorkom. Stygende insetkoste maak die risiko vir verliese ook baie
groter. Die kwessie van agtereenvolgende swak jare maak van
volhoubaarheid ‘n uitdaging, want om twee of drie misoeste “op te
vang” is nie maklik nie.
Elke produsent sal strategies moet oorweeg of sy produksiestelsel
oor die lang termyn volhoubaar is. Dit kan dalk raadsaam wees om
in goeie jare ‘n verandering aan die tipe boerdery of boerderystelsel
te maak, want tydens droogtes kan eintlik niks gedoen word be-
halwe om bloot te oorleef nie.
Gevolgtrekking
Die kwessie rondom multirisikoversekering is eintlik maar net ‘n
simptoom van die riskantheid van graanproduksie in groot dele
van Suid-Afrika. Daar is nie werklik goedkoper en meer akkurate
alternatiewe vir multirisikoversekering in sy huidige formaat nie,
want maak nie saak watter metode of produk gebruik word nie, die
inherente risiko (en prys) bly dieselfde.
Alhoewel multirisikoversekering in sy huidige formaat arbeids-
intensief is, is dit steeds die enigste versekeringsproduk wat die
kliënt se individuele risiko volledig dek.
81
October 2016
OP PLAASVLAK
Geldsake en versekering
JOHAN VAN DEN BERG,
Santam Landbou
Produk-inligting