Background Image
Previous Page  16 / 84 Next Page
Basic version Information
Show Menu
Previous Page 16 / 84 Next Page
Page Background

November 2017

14

Toekomsgedrewe mielieprodusent

houer van Graanprodusent-titel

“A

C van Wyk leef met ‘n absolute toekomsvisie. Hy weet

presies waar hy wil uitkom en ook hoe hy daar gaan

uitkom. Hy is in absolute beheer van sy eie toekoms.”

Só het die beoordelingspaneel mnr AC van Wyk, die 2017

Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar, se bestuurstyl

opgesom.

Die sukses van Van Wyk se besigheid lê in die kombinasie van

entrepreneurskap en bestuur. “Jy moet ‘n langtermyndoelwit hê,

en op die kort termyn moet jy jou hulpbronne en prioriteite só

organiseer dat jy al nader aan jou langtermyndoelwit beweeg,” het

hy op ‘n DVD-produksie, wat gedurende die toekenningsgeleentheid

vertoon is, gesê.

Hy boer op grond in die Bultfontein-omgewing wat reeds sedert

1841 aan die familie behoort. Alhoewel hy ‘n veevertakking het, bly

mielies sy eerste liefde. “Die grond waarop ons boer, is hoofsaaklik

sanderige grond met ‘n laag van 2 m wat goeie vogbewaring

verseker. Ons beplan ons benadering tot die nuwe seisoen

hoofsaaklik volgens die aantal vog waarmee ons moet werk.”

Van Wyk het sy privaat vlieglisensie (PPL) in 2014 verwerf en so-

doende kan hy sy wydverspreide lande met ‘n arendsblik besigtig en

maklik potensiële uitdagings identifiseer.

Trots en dankbaar

Hy het sy vrou, Lizelle, bedank vir die manier waarop sy hul huis-

houding bestuur asook haar waardevolle insette in die boerdery. Sy

doen die boekhouding van dié besigheid.

“Dit is ook vir my ‘n besondere voorreg om my ma en pa vanaand

hier te hê. Die afgelope 18 jaar was daar min produsente wie se

ouers teenwoordig kon wees wanneer hul dié toekenning ontvang

het,” het hy, kort nadat hy as die wenner aangewys is, gesê. Hy het

sy ouers ook bedank vir die goeie opvoeding en waardes wat hy

van hulle ontvang het. “Dankie vir die insigte wat ek van julle ontvang

het ten opsigte van diens, produktiwiteit en besigheid.”

Hy het ook die res van sy span van ACH Boerdery bedank. “Julle

is ‘n besondere span mense en die verbintenis, samewerking,

produktiwiteit en positiewe energie wat tussen julle vloei, is iets

besonders om te beleef.”

Verder het hy sy medefinaliste asook al die wenners en finaliste

in die ander vier kategorieë (bestaansboer, kleinskaalboer, poten-

siële kommersiële boer en nuwe era potensiële boer) gelukgewens.

Vir laasgenoemde het hy die volgende boodskap gehad: “Deur

jul stories in die media te lees en na die DVD-produksies van jul

boerderye vanaand te kyk, het ek opgemerk dat elkeen van julle ‘n

groot stap vorentoe neem. Dit is lekker om al die entoesiasme en

moeite wat julle in jul boerderybesighede insit, te sien. Hou aan om

die saad te saai en mag julle die sukses daarvan oes.”

Laastens het hy vir Graan SA bedank vir die positiewe beeld

van landbou en produsente, wat só eg en só nodig is, wat hulle

uitbou. “Dankie vir jul groot bydrae in die wye gebied waarop

jul beweeg – van die voortreflike NAMPO Oesdag, jul landbou-

ontwikkelingsprogram, wat ek dink ongelooflike resultate lewer, jul

toekomsgeoriënteerdheid, skep van markte en onderhandelinge

met die buiteland.”

Gepas by die aard van die funksie en die saaiprodusente teenwoor-

dig dié aand, het hy met ‘n treffende vers uit ‘n gedig van Jan FE

Cilliers, wat in sy kantoor teen die muur pryk, afgesluit: “Saaier, saai!

Dis Gods gebod, al verdroë vrug en blare, al verslaan hael die are.

Saai die sade van gedagte, laat die oes aan nageslagte.”

GRAAN SA

Toekenningsgeleentheid

RUTH SCHULTZ,

SA Graan/Grain

medewerker

1: AC van Wyk en sy vrou, Lizelle.

2: Wat ‘n eer en voorreg: Me Naledi Pandor (Minister van Wetenskap en

Tegnologie) wens vir AC en Lizelle geluk met hul toekenning. Saam met

hulle op die verhoog is Jaco Minnaar (voorsitter van Graan SA).

Foto's: Helenus Kruger

1

2

®