

112
Beste Grootneef
n
a al die lekker reën is die Vaalpan weer die Vaaldam! Die
Vrystaat is ‘n blomtuin en nêrens is ‘n lelike mielie nie.
Maar ons praat nie oor die pryse nie...
Die ander dag sit ek in die bakkie en wag vir Vroulief.
Dié was doenig in ‘n lapwinkel. In die truspieël sien ek ‘n
span met grawe en pikke aankom in ‘n losse gelid. So elke 100 treë
steek die span vas om ‘n gat op die sypad te grawe. Die delegasie
en organisasie was werklik iets om te aanskou, gegewe dat twee
man met pik en graaf die grond getakel en die res van die spanlede
luide advies gegee het. Met die gat op sy plek, verskuif die proses-
sie straat af waar die volgende twee man skouer aan die graaf sit en
die res luidkeels uitwei oor “Pirates” en “Swallows”. Vrolik en bly.
Met Vroulief steeds in die winkel en ek op bladsy vyf van die Volk se
blad, merk ek ‘n tweede span wat die vars gate bewerk. Dié klompie
stoot die grond terug in die gat, trap die los grond lekker vas en
verskuif dan na die volgende gat. Al om die ander, so kry elk ‘n beurt
om sy gat toe te stop.
Toe die span by die bakkie verbystap, vra ek belangstellend wat op
dese aarde hul doen. “Nee,” beduie die voorman, “ons plant bome,
maar die mense van die bome is nie vandag hier nie.”
Toe ek dit die middag vir Buurman vertel, het hy so droë hoesie
gegee soos ‘n hond wat ‘n mot ingesluk het. Hy beduie toe van Thys
Uilspieël se mense wat ‘n stadsaal sonder vensters gebou het en
toe dae lank emmers vol sonlig in die donker gebou ingedra het.
Almal het baie hard gewerk, maar dit het nie van die wêreld ‘n beter
plek gemaak nie.
Hoe dit ook al sy, Afrika is vol van kommandowurms en gerugte
van kommandowurms. As die Farao vir Moses en sy span nog drie
weke gehok het, sou kommandowurms die 13de plaag gewees het.
Die ding met die wurms laat my toe terugdink
aan die middag toe Pa Toit die koshuis se
studiesaal ingestorm het. Alle koshuisbrakke
met skoene is vir hoër diens opgekomman-
deer. Ou Neef, enigiets was beter as studietyd
tussen twee en drie op ‘n warm somersmiddag
en wás daar ‘n stormloop om skoeisel aan
skurwe voete te kry!
Pa Toit is op ‘n stywe drafstap vooruit met
die bondel koshuisbrakke agterna. Standerd
sesse voor en matrieks agter. Almal in goeie
gees en in afwagting op wat ook al. Pa Toit
is reguit rugbyveld toe – die enigste groen
oase in ‘n vaal Vrystaat. Dit was sy trots. Elke
grassie gekoester en bossies meedoënloos
vervolg – mooier as Loftus.
Daar gekom, het die samjoor in Pa Toit oorgevat en is almal in
dubbele linie om die veld ontplooi, alle windrigtings gedek. En
toe die bevel om te trap. ‘n Paar standerd sesse het gedink Pa Toit
praat met hulle en het die hasepad gevat. Dit was met die afkyk-
slag dat ons die hordes kommandowurms sien, almal op pad na die
sappige middelkolletjie van die rugbyveld.
En toe trap ons, Pa Toit al in die rondte, om die beurt om aan te
moedig, te soebat en te dreig. Die Vrystaat Vastrap sonder weerga
– Bata-skoene en Grasshoppers naderhand sopnat. Hoog trap soos
volstruise voor ‘n drukgang, vorentoe en agtertoe dat jy net wurms
sien spat. Dit was lank voor toi-toi mode op die TV-nuus was, maar
kón ons dit foutloos doen!
Met laaste lig moes ons besgee, die grond om die veld pap getrap.
Die volgende oggend was die rugbyveld op ‘n paar kolle kaalge-
vreet, maar Pa Toit en die oompie faktotum kon die oorblywende
wurms “dous”. En dít is wat ek van kommandowurms onthou.
Oupa Willem se gedagtes oor kommandowurms loop verder terug.
Hy vertel dat kommandowurms in die 1930’s ook in hul hordes in
die Vrystaat opgedaag het. Destyds kon jy nie net vinnig koöperasie
toe ry en gif koop nie. Uit radeloosheid het hul twee osse voor ‘n
eenskaarploegie ingespan en vore al om die land getrek om die
wurms te keer. Wanneer die voor so amper vol wurms was, is die
voor weer met die eenskaar toegeploeg. Jy kan maar sê “groen” pes-
en plaagbeheer in die jare toet!
Ou Neef, so in die eenvoud van nood en armoede kan ‘n plan tog
beraam word. Hou aan soek vir ‘n oplossing – soms is die antwoord
tussen ons.
Groete op die Oosgrens!
Kleinneef
E-POSSE
aan Groot neef
Die 13de plaag
Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by
kleinneef@graingrowers.co.za.
Maart 2017